Saturday, November 29

Die dorp is besig om wakker te word

Die UAE is besig om hulle vere reg te skud vir 'n groot feesviering en dis nie omdat ek op vakansie gaan nie. Onthou julle nog die Republiekdagvieringe by die skool? Miskien nie almal nie, maar ek onthou die standaard program van begin met die vlaglied, dan skriflesing, O God van Jakob, en die afsluiting met die Volkslied... Op die 2de Desember is dit die UAE se 37ste Nasionale Dag. Kan julle glo die land is net 37 jaar oud? In elk geval het al die skole hierdie week voordat hulle 'n paar vakansiedae het, Nasionale Dag gevier. Die kinders hou ook konsert maar baie anders as wat ons gedoen het. Almal is kleurvol aangetrek in Nasionale kleredrag en vlagkleure en dis liggies en vlae en ballonne en en en. Omdat ons baie van die royals in die skool het, en een van die Sheikhas dit bygewoon het (seuns en dogters se konserte was apart), mag daar geen foto's geneem word nie. Natuurlik kon ek so bietjie skelm voor die tyd neem. Hierdie graad 6 dogtertjies het later 'n liedjie gesing en omdat ek al vir die klompie skool gehou het, het hulle gese ek mag maar afneem en ek weet vir 'n feit hier sit 'n klein royaltjie ook. Die saal was opgemaak met die mooiste ballonne en blomme. Ook voor in die saal was daar swart leersitkamerstelle waarop die "belangrike" gaste gesit het. Ek was sommer op 'n witstoel. Ongelukkig/gelukkig vir my was baie van die BBP kinders naby en alhoewel die foto's onder moeilike omstandighede geneem is wil ek julle net bietjie van die klere wys. Kyk hierdie een se hooftooisel en dis goud en baie swaar. Ek sal 'n lekker hoofpyn kry as ek so iets moet dra. Hierdie BBP op die regterkant se rok was ongelooflik - en dan dink mens hulle dra net swart. Drie van hierdie dogters is bbp's maar ek wil julle net hulle lang hare wys. Die een met die pienk se hare hang langer as haar kniee. Die kinders het gesing, gedans en gedigte opgese en almal neem deel. Bv aan die einde van 'n gedig skree haar pelle van onder ook die laaste woord ... raaiserig mense. Die haredans was iets besonders en baie van die danse sou julle monde laat oophang het, ons dink hierdie mense is preuts, dink maar weer. Na die konsert het die hele skool 'n tradisionele ete, met nageregte en koeke geskenk deur die Sheikha geniet. In die dorp is daar ook woelinge want die liggies word opgesit. Op die sirkels, bome, middelmanne, strate, pale, enigiets wat beweeg word liggies gesit en oor 'n dag of twee gaan Abu Dhabi soos 'n pretpark lyk. Ek belowe om julle die liggies te wys. Loer hier om te sien hoe dit verlede jaar gelyk het.
Ek en Nelmari vlieg vandag SA toe vir 'n paar daggies en sal beslis vertel wat ons alles aanvang.

12 comments:

retha said...

Veilige reis!
Ek hou van die intensiteit van al die Indier-tipe klere se kleure. Ja, volgens ons is hul glad nie preuts nie. Hul dink weer die selfde van ons wys net n mens kan nie kultuur gebruik om te weet wat is reg nie.

mariki said...

Baie insiggewend, dankie Sandra, en kuier lekker, hoor.

Anonymous said...

"'n paar daggies", bid jou dit aan!

Ek hoop nie almal is onder die indruk dat sy en die dogter net vir twee dae daar sal wees nie, die "partytjie" het skynbaar al kort na landing in Johannesburg begin, sommer by die lughawe.

Hoop julle kuier lekker.
XXXX

Muriel said...

Wow dankie vir die deel hiervan Sandra, ek het ook laasjaar se liggies gaan kyk op die link! Dis asemrowend mooi! Kan nie wag om dit die jaar te sien nie!

Baie dankie vir my en Teddie se pragtige geskenke! Ek is so mal oor die kamele! Ja, ek het dit oopgemaak. Ek kon nie wag tot kersfees! whahahaha
Dit was so lekker om jou weer te sien.
Nelmari is te oulik! Julle mag maar baie trots wees op haar!

Dit was feeste gister!

"Man wat agterbly om katte te voer" baie dankie vir die geskenkies ons waardeer dit en ja ons het heerlik op die lughawe gekuier! hie hie"

Geniet die kuier in SA!
En weereens dankie vir alles!
Liefde
x x

Anonymous said...

Geniet julle kuiertjie, die tyd gaan altyd so gou verby!!
Ja die liggies lyk regtig stunning die jaar. Ongelukkig mis jy die vuurwerke wat hulle op die 2de op die cornish gaan he, blykbaar die grootste vuurwerk vertooning ter wereld!!!! Hoop daar is iemand wat namens jou gaan kan foto's neem, en nee jammer dit kan nie ek wees nie (groot oeps as dit by foto's kom) :-) Lovies

Jan and Miekie said...

Dit was 'n baie interessante pos! Ek onthou hoe ons in 1966 die Republiek se 5e verjaarsdag gevier het: dit was omtrent 'n ding! Ek was deel van die massa gimnastiek op Loftus en Jan was deel van die leergimnasium wat by die Monument verby marsjeer het. Dis nou al 42 jaar gelede!
Geniet julle kuier in Suid-Afrika! (Vandag (Sondag) is lekker warm en ons het al wat waaier is aan. Hoe voel die weer vir julle?)

Desire Fourie said...

Bly om te hoor dat Nelmari ook saam met jou SA toe vlieg. Julle moet dit geniet. Mooi bly.

Thea said...

Wow ek sĂȘ net weer - hierdie Arabiere doen 'n ding nie half nie!

Laas jaar se liggies was ongelooflik! Sien uit om hierdie jaar s'n ook te sien.

Dit was wonderlik om jou en Nelmari te ontmoet Sandra!! Baie, baie dankie ook weereens vir my pragtige geskenke!

Geniet die kuiertjie saam met die seuns en die troue!!

Sandra said...

Retha hierdie ouens se danse is so uitlokkend dat dit my selfs laat bloos :-)

Dankie Mariki, ek is nog net 'n daggie hier en dis heerlik.

Man-wat-agterbly-om-die-katte-te-voer ek hoop jy voer die katte!

Muriel ek het nie vir een oomblik gedink jy gaan wag tot Kersfees met die geskenkies nie :-). Ek hoop dat die man-wat-agterbly-om-die-katte-te-voer die "foto-neem" opdrag gaan uitvoer. Dankie vir jou en Teddie wat al die pad gekom het om saam te kuier, dit was heerlik!

Sandra said...

Heleen ek het 'n fotograaf wat die foto's sal neem terwyl ek wag is --- pasop jy word dopgehou :-)!!!

Miekie ek het die reen geniet op die eerste dag en alhoewel die Kaap "koel" is vandag geniet ek dit om die koue te voel.

Dankie Desire onos gaan baie foto's vir ons scrap studie neem :-)


Thea lekker om jou ook eindelik te geontmoet het. Baie dankie van my en Nelmari vir ons wonderlike geskenkies.

Dorette said...

Julle moet julle vakansie baie geniet! Die liggies is te pragtig! My man spot my al skoon en reken ek is nes 'n mot wat al agter 'n liggie aan is. :-) Fairy lights was die een item op my trou-droomlysie wat ek net MOES he. :-)

Sandra said...

Dorette jy sal vir ons die fairy liggies moet wys. Die land het die mooiste liggies en fonteine