Thursday, September 25

Nog 'n pragtige dorp

Ek's nog steeds in Swellendam met my storie en na die vorige dag se noot-vir-noot wil ek graag die dorp sien om vir julle te wys. Hulle dink ek's snaaks want daar is niks om te sien nie. Is dit nie snaaks dat ons so "gewoond" raak aan dinge om ons, dat ons baie keer die mooi rondom ons nie raaksien nie?Ons woon die oggend 'n kerkdiens in die ou kerk op die dorp by. Die datum se dit is gebou in 1802 ... wow dit is jare terug en ek dink daar is selfs nog van die oorspronklike mense wat die diens bywoon :-). Ek kan nie eers dink wanneer ek laas 'n diens waar daar net psalms en gesange met regte kerkorrelmusiek gesing en gespeel word bygewoon het nie. Dis 'n pragtige ou kerk! Dan vir middagete en alhoewel daar 'n paar oulike restaurante op die dorp is, is almal nie op 'n Sondag oop nie. Ek vermoed daai kyk sou ek gekry het vir my vorige blog. (Marie met haar oudste Jaco) Die kosse is weereens tradisioneel en Marie wys ons mooi hoe lyk haar bobotie, geelrys en groente.
Swellendam is die derde oudste dorp in Suid-Afrika (slegs na Kaapstad en Stellenbosch) en vernoem na die Goewerneur Hendrik Swellengrebel en sy vrou Helena nee Ten Damme. Orals in die dorp is daar sulke gastehuise en restaurantjies (as julle kliek op die foto dan sien mens beter).
Die "ou" klein huisies met hulle verskillende boustyle is pragtig. Natuurlik is daar ook mooi groot moderne huise in die dorp, maar ek het die oues geniet. Die "toergids" kan nie glo dat daar so baie plekke is wat ek wil afneem nie.
Nog twee huisie. Die "ryk" en "arm" van die dorp sou ek se.
Maat jy moet hierdie foto vergroot. Die persdeur huisie is die plaaslike haarsalon! Die ander twee plekkies is in die hoofstraat en gastehuisies.
Een van die interessante plekke vir my was die privaatskool Olyfkrans College. Die kinders (seuns) bly in die ou huisies wat as kosskool dien. Die skool spits hou spesifiek toe vir kinders wat individuele aandag nodig het en is al vir baie jare gewild.
Die hoerskool en as ek reg onthou was dit een of ander staatsgebou het die mooiste van uitsigte. Ek is seker mens sal heeltyd by die venster wil uitkyk buitentoe ipv na die onnies luister. Omdat Swellendam so "ver" van die Kaap was, was dit ook 'n ideale plek om destyds 'n landdroshof te he. Die Drostdy is gebou. Dit oorspronklike gebou was in 'n "T" vorm met 'n geuwel in die middel, en tussen 1812 en 1825 is dit vergroot na die huidige "H" vorm. Die gebou soos hy nou staan is in 1844 reggemaak en het toe 'n grasdak gekry. Amper al die hout wat in die gebou gebruik is, is geelhout! Vir baie jare was die Drostdy die belangrikste gebou in die dorp. Vandag is dit 'n museum wat 'n mens moet besoek. 'n Deel van die tuin wat oorgebly het. Daar is ook 'n ou slaweklok wat herinner aan die tyd van slawerny tot dit in 1834 in die Kaap afgeskaf is.
Hier is nog so 'n bietjie huise van die dorp. Sue ek hoop nie dit laat jou teveel "huistoe" verlang nie!

12 comments:

Muriel said...

Kan julle glo dat ek nog nooit in Swellendam was nie. Hierdie dorpie kom op my lys van plekkies wat ek nog wil besoek! Dis pragtig!

Desire Fourie said...

Jy is so reg Sandra, ons lewens het so gejaag geraak dat ons lui geword het om die klein/mooi dingetjies raak te sien. Jou fotos is pragtig ... ek's ook mal oor die aantrekkingskrag van ou geboue wat soveel karakter uitstraal. Maar ek weet nie so mooi van die kerkgangers van die 1800's wat jy raakgeloop het nie ... sou graag wou weet wat hulle resep tot die ewigheid is. Mooi bly.

Anonymous said...

Ai maar Swellendam is 'n lieflike ou dorpie!! Wat 'n pragtige ou kerk is dit nie! Maar hoe klink dit vir my of dit spook in die kerk, Sandra? *wink*

Anonymous said...

My engel, my skat, my enigste!

Onthou jy nog daai Hamburger middagete by die Springbok Kafee in die hoofstraat tydens ons "belated honeymoon"?

Dan was daar ook die Tannie by die Drosdy wat die Akkedisse gevoer het. Jis, maar dis lank terug hoor, en jy hou nog steeds uit met my.........moes liefde gewees het!

Anonymous said...

Aagh kyk hoe romanties raak Eddie nou!!! Julle 2tjies sal maar weer moet terug op julle 'belated honeymoon' se spore nig...

Swellendam is regtig EEN (van BAIE) van die Wes Kaap se mooiste dorpies!!

Anonymous said...

Muriel jinne maar jy het baie plekke om op in te haal. Begin reel en beplan!

Desire hulle resep is miskien "rustigheid" met "geen gejaag" :-)

Anonymous said...

Thea jy moet dit sien om te weet waarvan ek praat :-)

Eddie daai Springbok kafee bestaan nie meer nie en die tannie voer nie meer akkedisse nie .... MAAR die plek is nou 'n restaurant!! Dalk voer sy die mense akkedisse! Wys jou net hoe lank terug is dit!

Charmaine said...

Ai maat dis baie baie mooi. Ek het my nou so sit en verkyk aan al die mooi foto's en sommer so in my gedagtes in die "ryk" huis ingetrek em my verbeel hoe dit daar lyk. Ek hou ook van daai lilac deur..:-)Daardie uitsig op die berge.... wow!!!Mens hoef nie by die akkedis restaurant te gaan eet nie sien ek. Die bobotie en geelrys en spinasie en pampoen lyk so lekker.

Anonymous said...

Ronelle ek sien jy verdedig AL die mooi dorpies in die Wes-Kaap - mooi man!

Maat enige dorpie waarvan die Spur en Fliek "doodloop" weens belangstelling is rustig dink jy nie so nie?

eilandkind/islandchild said...

Pragtig Sandra, jy laat my 'huistoe' verlang.

Paula said...

Dit lyk regtig pragtig daar! Amper soos uit 'n sprokie.

Anonymous said...

Wanneer gaan jy weer daar kuier Eilandkind?

Dis verskriklik mooi daar Paula.