Wednesday, September 10

'n Blitsige wynroete

As ek gedink het Ronelle doen 'n woerts-warts deur die Skiereiland was ek net so verras oor haar man Hennik se blitsige wynroete toer. Die hoeveelheid plekke waar ek weer kon gaan inloer het in 'n kort tydjie sonder om gejaag te voel was ook 'n groot bederf. Was so lekker om sommer weer al die mooi plekke hier in die Kaap te kan sien. Vir julle ouens wat hier bly, sorry maar kyk weer en julle Gautengers en ander ... is dit nie 'n mooi plek nie? Lekker ry ons deur Stellenbosch se strate. Die dorpie het darem maar sy eie bekoring wat mens nerens anders kry nie, en ek neem so sommer in die ry af. Al die dorpies met hulle groot mooi wit kerke .... Mens kan sien die Kaap het nog nie heeltemal hulle lentejas aangetrek nie want baie bome is nog kaal. Ons gaan loer by nog 'n niggie in by 'n antieke winkeltjie in Stellenbosch. (Sien hier is sowaar nog 'n foto) Ronelle en Hennik moet natuurlik ook bietjie snuffel en ietsie koop. Dan vat ons die pad Lanzerac toe. Nou daar was ek donkie jare terug en ek dink Simon van der Stel was toe nog goewerneur in die Kaap. Vir julle ouens wat 'n mooi plek soek om te bly vir 'n vakansie, hier is die kamers by die Lanzerac vir toeriste. Daar is ook 'n troue aan die gang buite in die tuin en hierdie koets het die bruid kom aflaai. Maat jy sou dit geniet het. Die bruid het so saam met die viool ingestap. "Maria Antoinette" wys ons haar talente op die klavier ... Ons volgende stop is die Tokara landgoed waar ek nog nooit was nie. Ons "toergids" verduidelik dat die skilderye met verskillende soorte wyn gedoen is. Die uitsig hier is verskriklik mooi. Natuurlik moet daar ook 'n bietjie wyn geproe word deur die professionals. Buite is al die soorte druiwe (wyne) aangeplant en Hennik verduidelik vir ons mooi wat daar aangaan. Oppad na die volgende landgoed en die uitsig is iets uit die boeke. Boschendal is volgende en hierdie ou huise het darem 'n bekoring van hulle eie. (Sien nog 'n foto .... daar in die verte is ek en Ronelle). Oppad na die eetsaal toe want Hennik wil my iets gaan wys. Kyk die "du Toit's" is deel van die geskiedenis wys hy ... sien julle enige Viljoens? Nog is dit die einde van die dag en roete, maar die tyd vir foto's aflaai is minnnnnn.

14 comments:

Desire Fourie said...

Sandra, jou fotos is uitstekend en dis altyd 'n plesier om jou uitstappies se stories, aan die hand van fotos, te lees. Skoon jaloers op julle wynplaas toer ... het julle darem 'n bietjie geproe? Groete

Muriel said...

Baie mooi foto's ek geniet hierdie uitstappies van jou! :)

Anonymous said...

Hi Sandra! Ek geniet ook hierdie kuier in die Kaap geweldig saam met jou d.m.v. jou foto's en vertellings!! Dankie dat jy nog tyd inruim om ons ook ingelig te hou!

Geniet verder!!

Anonymous said...

Ek het niks geproe nie net foto's geneem Desire.

Muriel en Thea bly julle hou vakansie saam met my ek geniet die Kaap weer van voor af

jackieo said...

Ai jinne Sandra - ek beny jou so - ek kan amper die reuk van die kelders ruik - verbasend wat mens se verbeelding kan doen!! Geniet dit en dink aan ons in die woestyn.

Desia said...

Dit lyk so mooi, dankie vir die "saamtoer" foto's.

Anonymous said...

Hi Sue ja dit ruik soveel lekkerder as die hitte en humiditeit

Desia dis lekker om partykeer 'n toeris in mens se eie land te wees

Anonymous said...

Hai
Lekker om so baie fotos van jou te sien.
Annie

~*{ Michelle }*~ said...

OOO - dit lyk te lekker! Ek was 11 jaar gelede op die wynroete. Heeltemal te lank terug. Sal beslis 'n plan moet maak om weer te gaan - jy het my nou lus gemaak daarvoor!

Charmaine said...

Maat dit is vreeslik mooi en ja die Lanzarac troue klink so na my stuff. Dis mooi in die Kaap jong en dis nog baie baie warm hier. Geniet elke oomblik

Anonymous said...

Annie ja ek's half verplig :-)

Die weer is nou heerlik vir 'n wynroete Michelle

Dankie maat ek doen, kry net nie tyd vir my lysie nie

Sandmensie said...

Ek en Greg het nou net gepraat..dis ons volgende vakansieplek...toer in die Kaap,jou fotos van die regte see is so nice..dit maak mens vol heimwee..raak sommer dikbek oor ons nou in die hitte sit!
..net een vragie..hoe kry die mense dit reg om jou te laat "pose"? net 'n vragie..

Anonymous said...

Vicky wat bedoel jy "hoe?". Julle sal moet die Kaap besoek, kan ek die toergids wees?

Sandmensie said...

ENIGE TYD!!! Glo nie ek sal 'n beter een as jy kry nie hoor!! Geniet die res van jou stunning vakansie,ek glo jy kom heel verryk terug, en jou fotos doen dieselfde vir ons..behalwe die snoek op die vuur..dit los my net met 'n hol honger nostalgiese kol op my maag!