Showing posts with label AISA. Show all posts
Showing posts with label AISA. Show all posts

Wednesday, May 4

Hoe Internasionaal kan mens wees?

Met Nelmari wat nou besig is met haar Graad 12 IB eksamen is daar vir ons seker baie goed wat laastes is en daar sal baie "onthou jy's" wees. Vroeer hierdie maand het die skool weer hulle internasionale aand gehou en was ek daar vir die laaste keer as ouer van 'n skoolgaande kind. Ek wonder of sy besef hoe geseend sy is/was om haar hele skoolloopbaan van KG (kindergarten) tot Gr 12 in dieselfde skool te wees. 'n Skool was deesdae uit sy nate uit groei met net meer as 20 kinders in die laerskool in 'n klas terwyl Nelmari se grootste klas vanjaar Biologie IB met 15 leerlinge en die kleinste een Wiskunde IB met 2 leerlinge was.


Page1


Elk geval die Internasionale Aand probeer om die 72 Nasionaliteite wat in die skool is kans gee om bietjie hulle lande "af te show". Almal is betrokke en die kleintjies help met die mannetjies wat hulle in landskleure inkleur en natuurlik was die hoof vasvatter van die aand nie verniet in 'n Springbok hempie nie - wat sal hulle sonder ons Saffers doen.


Page2


Studente van verskillende lande het gedans, gesing en gedigte voorgedra van hulle land.


Page3


Alles was so kleurvol en die kinders het regtig hard geoefen. Dis vir my so goed dat die skool die kinders aanmoedig om nie te vergeet waarvandaan hulle kom nie.


DSC_0089


Die saal was gepak met al die ouers wat kom ondersteun het. Vroeer jare kon die twee seuns nie eers 'n konsert van Nelmari bywoon nie - omdat seuns en dogters geskei was - en nou al is die skool nog geskei, is buitemuurse aktiwiteite ampertjies "normaal".


Page5


Na die konsert is daar 'n modeparade gehou waar verskillende lande se tradisionele kleredrag gewys is. Het julle geweet dat SA se nasionale drag in die buiteland 'n Springbok rugbytrui is? :-)



Page6


Die klere is baie kleurvol en almal was baie trots op hulle lande se uitrusting.


Page7


'n Klomp kinders het aan die modeparade deelgeneem en dit was/is 'n groot gunsteling by die gehoor elke jaar. Maar nog was dit nie die einde van die aand nie en almal is buitentoe ...


Page8


Lande het stalletjies buite opgesit met tradisionele kosse en almal kon vat en proe want dit was natuurlik verniet :-). Daar was ook vlae en dinge wat spesiaal van die land is. Soos altyd was die SA stalletjie baie gewild met al die lekker kosse en het ons Saffers ook daar rondgedrom om biltong, malvapoeding, bobotie, vetkoek en maalvleis, melktert, fizzers en boerewors te eet.

Internasionale aand ja, maar met 'n lekker Saffer hart!


Tuesday, April 29

'n Eerste vir AISA

Ek moet nog ernstig dink wat die voordele van "een" skool maar "twee kante" is. Dis nie 'n nuwe ding nie, want die kinders is al tien jaar hier in die skool, en op vele geleenthede was dit vir ons moeilik om met die segregasie te deel. So kon Nelmari 'n jaar of so terug nie gaan kyk as die seuns 'n wedstryd speel of omgekeerd nie en selfs tydens haar konserte, kon haar boeties nie inkom om haar te sien optree nie. So toe die skool eintlik besluit om iets te reel waar ALMAL kan saamkuier, was dit 'n groot ding en niemand was seker hoe dit in die gemeenskap aanvaar sou word nie.

Daar is besluit op 'n fondsinsameling festival wat saam met die sokkertoernooi (gister se blog) sal val. Die fondse sal gaan vir die oprigting van 'n nuwe skool vir die "special needs children" in Abu Dhabi. Die kinders en onderwysers het regtig hulle hart in die beplanning gesit want baie sou afhang van die "eerste" saam-funksie. Donasies is van maatskappye gevra van ouers van kinders en voor die funksie was daar reeds Dh90 000 in donasies ontvang. Ja julle lees reg, R180 000 om die funksie te begin reel!!

Met die geld is oa tien "karnival" speletjies gehuur waarop die kinders sal kan ry/speel en al die geld wat gemaak word gaan vir liefdadigheid. Hier wag die bul geduldig op die karnival om te begin
Daar was ook speletjies vir die kleintjies. Dit was slegs 'n skoolfunksie en elke kind kon twee gaste bring wie se name vooraf op die lys moes wees. Dus kon niemand wat moeilikheid maak ingelaat word nie.
Een van ons plaaslike hotels die Beach Rotana het die kos geborg. Die tafels word gereed gemaak en almal wag vir die funksie....gaan dit werk?Toe die hekke oopmaak, was dit sommer gou-gou of die kinders stroom in. Ek verkoop speletjie kaartjies en binne die eerste uur moet ons van die geld begin wegvat want die kas word vol. Ons tel eers ....dhs16 000 (R32 000) en die aand is nog lank. Jinne die mense het nie 'n probleem om geld te spandeer nie.

Vir die middelgroep is hierdie stoeiers/boksers die gewildste en nogal snaaks. Die klere is ongemaklik en groot en as mens eers geval het kom jy nie maklik op nie. Die kinders staan tou om hieraan deel te neem.
Die seuns hou van die watersokker en party ouens speel sommer heelparty wedstryde. In die hitte is die water ook lekker.
Meisies en seuns geniet die klimmuur baie en dis die tou wat die tweede langste is by die festival.
Die kleintjies steek ook of probeer die leeu se stert aansteek en hulle geniet dit.
Hierdie ou wag vir iemand om die teiken raak te gou dat hy in die water kan val, maar partykeer het dit bitter lank gevat.


Maar loshande die gewildste was die bul en die toue was vir ewig lank. Hierdie dogter probeer haar bes om bo te bly.
Dis laat aand en ons tel sommer die geld op die grond. Ek weet nog nie wat die insamelingsbedrag was nie, maar dis baie. Wat ek wel weet is dat behalwe vir een of twee ouers wat "gekla" het oor die seuns en meisies saam, was die aand 'n reuse sukses en het die kinders dit vreeslik geniet. 'n Eerste vir AISA maar ek kan julle vertel dis nie 'n laaste nie. Geluk AISA studente en onderwysers, veral Brett (natuurlik 'n Suid-Afrikaner) vir 'n baie goeie funksie.

Monday, April 28

Moeiliker langs die veld as op die veld

Soos julle weet was Nelmari taamblik besig op die sportveld vanjaar, maar met haar besering is sy buiteaksie vir die res van die skooljaar (tot September). Alhoewel dit vir my lekker was om haar weer vir 'n slag "normale" tyd by die skool te gaan haal, het dit baie vinnig verander toe hulle haar vra om 'n sokkerspan te help afrig vir die AISA Sokkertoernooi. En eintlik verlede week was dit groot geleentheid daar.
Ek daag laat op en die "afrigtig" is doodhonger. Op hierdie stadium het hulle al hulle wedstryde gewen en nog een nodig om te kwalifiseer vir die eindstryd twee dae later.
Die toernooi se reelings was in beheer van een van die onderwysers (natuurlik van Suid-Afrika) en het daara verskillende spanne (10 van die middelskool en 10 van die hoerskool, seuns en meisies) aan die "sokker festival deelgeneem". Met die spanne wat geborg is deur groot maatskappye in die dorp was dit baie kleurvol rondom die veld.
Sommige van die toeskouers/spelers wat na die wedstryde, seuns een kant en meisies ander kant, kyk.
Dan is dit Nelmari en Minri se span wat speel (hulle is in blou).
Terwyl hierdie klomp sit en Burger King eet. En dis dan wat die "afrigter" agterkom twee van haar spelers kuier saam en sy kom so vinnig die veld afgestap dat ek nie 'n foto kan neem nie.
Hulle word ernstig aangespreek en op die veld gestuur. Hier moet ek natuurlik ook eers vertel wat met dieselfde tweetjies met die eindstryd gebeur het. Terwyl hierdie einste twee laat opdaag vir die wedstryd, roep die "afrigter" van die ander kant van die veld hulle in 'n kwaai stem .... en daar loop die tweetjies ewe doodluiters in die middel van die veld, in die middel van die wedstryd oor na die ander kant toe. Dit gebeur nou as mens wil speel en dit oor die seuns ipv die sokker gaan. Die ene met die kopdoek is ook op 'n stadium gedwing om te kies tussen sonder of met dit speel en toe sy dit nie wil afhaal nie, is dit met heelwat "force" in 'n strik onder haar ken vasgemaak :-). Ek twyfel of hulle volgende jaar weer sal wil probeer.
Hier kom die wenspan met afrigter afgestap na hul wedstryd. Ek dink dat gedurende die volgende seisoen party mense meer aandag aan die afrigter sal gee na hierdie ondervinding. ('n Foto van die span met hulle medaljes volg binnekort)Hierdie ou wys duidelik waar sy lojaliteit le.

As 'n finale speel die onderwysers teen die eerste span en wen. Hier warm die klompie op. Ek dink dit was 'n baie suksesvolle "sokker festival" wat omtrenet 300+ kinders betrek het net deur te speel, en dan tel ons nog nie die toeskouers by nie. Hierdie gaan 'n jaarlikse ding word ek sien.

Friday, March 7

Die gees word eintlik gevang

Vroeer in die week het ek vir julle twee foto's gewys van Spirit week waar die kinders moes aantrek soos die 60tigs. Gister was die laaste van die week en die tema was mission Impossible ... hoekom?....G'n mens weet nie, maar die kinders het meestal almal in swart en wit aangetrek. Op die laaste dag kon die kinders dan ook "betaal" om onderwysers aan te trek en die een wat die meeste "bie" mag dan klere bring vir die onnie om aan te trek. Die gelde wat gedurende die week ingevorder word, word gebruik vir 'n Global Village projek. Dis 'n arm van die Habitat for Humanitys 'n arm. Verlede jaar het 'n paar van die kinders Bangladesh toe gegaan om daar te help huise bou en vanjaar was 'n groepie oor om huise in 'n klein dorpie in Portugal te bou.

Die seniors het die skoolhoof en adjunk hoof aangetrek vir die geleentheid. Hier is die klompie met die onderwyseres op die regterkant. Die skoolhoof is die groot baba.
Hier is mnr Bolster die hoof en mnr Rehburn die adjunk hoof. (Will het jy hom al so gesien?) Almal het die week vreeslik geniet en die onnies was groot sports.

Tuesday, March 4

Skool soek gees

Hier is ek amper terug vir die wat gemail en vra het. Die laaste paar dae was dit een groot frustrasie op die ander want die rekenaar wil nie werk nie en die foto's wil nie aflaai nie. Dis nog nie reg nie, maar darem kon ek twee foto's afgelaai kry.
Nelmari se skool het gewoonlik die tyd van die jaar "spirit week" en dan kry hulle allerhande opdragte hoe om aan te trek. Gister was dit die 60'tigs. Hier is een van die ander Suid-Afrikaners aangetrek vir die 60's. Ek weet nie of die swartrokke op die agtergrond die Arabiese 60's was nie.Nelmari met haar uitrusting vir die dag, wat nogal ook haar 2008 klere is.

Saturday, November 17

Sokker uitnodigingstoernooi

Dis nou een ding van die skolesport in hierdie dorp - dis seisoen is kort, vinnig en besig. Na heelweek van sokker het ons gister 'n heeldag uitnodigingstoernooi moes sit en kyk. Gelukkig is dit nou effens winter hier, 28 grade gister, maar die sonnetjie het ons toeskouers maar lekker gekou. Hier skop Minri die bal veldaf teen 'n span van Dubai. Nou soos julle weet, dis nou as julle die sokker blogs lees, sukkel AISA se JV spannetjie hierdie seisoen maar, en die goaly en verdedigers kry baie oefening.
Een van die afrigters, Sandy Campbell (onthou jy hom Will?) praat met die span na die eerste wedstryd terwyl die ander afrigter luister. Nelmari en Minri lê moeg teen die muurtjie.
Die vier Suid-Afrikaners in die dogters span, daar is in die seunsspan ook! Agter Nelmari en Minri en voor Michelle en Jessica. Sonder om te spog moet ek bysê dat ons dogters die sterre in die span is.Nog 'n SA ding wat sy kop toe uitsteek, alhoewel effens met 'n Amerikaanse geur was Wynand (SAfrikaner) wat gebraai het. Nou wel nie lekker tjops en boerewors nie, maar wel worsies vir hotdogs en patties vir burgers. Die arme man is toe heeltemal onvoorbereid gevang en moes die kos met 'n papierbord omdraai.
Hier is Nelmari (25) tydens hulle wedstryd teen ACS. Hulle span het tydens die hele toernooi net een doel aangeteken en weer was sy die een wat die doel geskiet het.

Hier kom sy langs die lyn afgehardloop. Die span het behalwe vir een wedstryd teen DAA (Dubai American Academy) waar hulle behoorlik verloor het, goed vertoon en mens kon die verbetering met elke wedstryd sien. Bygesê die hitte het sy invloed op al die spanne gehad.Die einde van die toernooi en die spanne gee mekaar hand. Ons meisies eindig 3de! Daar is hoop vir ADSAC en ISAC. GO LIONS!!

Monday, November 12

Die eerste doel van die seisoen!!!

Wedstryd nr 2 van die seisoen is gister teen ACS (American Community School) gespeel en gewoonlik is die wedstryde teen hierdie twee skole 'n tawwe storie.

Maar soos ek met die vorige wedstryd gesê het, ons dogters is nog aan die begin stadium van hulle oefening en mens kan dit nog sien in die wedstryde ALHOEWEL daar reeds volgens my verbetering is vanaf die eerste wedstryd. (James gaan jy kom ref Desember, gister se ref - op die foto - was meeste van die tyd in die meisies se pad)

Ek het tydens die wedstryd by die kinders gesit en kon luister na die afrigters se spanpraatjies en taktiek. Dit is dan ook die laaste week waar al die kinders in die span (en daar is klomp) 'n beurt kry om te wys hoekom of hoekom nie hulle in die span moet wees. Met tye wat die regte kombinasie op die veld was, kon mens sien dat die span kan goed doen.
Wanneer drie van die vier Suid-Afrikaners in die span egter 'n ruskansie vat gebruik die ander spanne die geleentheid om 'n doel te kry. Nelmari het die span se eerste doel met 'n dwars skop oor al die spelers, doelwagter inkluis, se koppe gekry. Dit was eintlik snaaks om te sien dat sy net soos die ander verras was toe die bal in die hoekie ingaan.
Vir my was die spelers van die wedstryd die SAfrikaners, Minri wat 'n barshou verdedig het, Nelmari wat die doel aangeteken en 'n paar keer veld af gedribbel het en Jessica wat net die heeltyd werk gesoek het en die bal probeer kry het. Ons verloor egter 3 - 1 maar daar is rede om positief in plaas van negatief te wees oor ons meisies se verbetering van die vorige wedstryd.
Go Lions!!