Monday, May 28

Inskrywing nr 150 - 'n Kleurvolle probleem

Ek's nie 'n naaldwerkmens nie. Verstaan my mooi ek sê nie ek kan nie naaldwerk doen nie. Ek is seker as ek my kop daarop sit, sal ek iets kan maak ... ek meen het ek nie 'n romp en ander goeters moes maak vir die skool se naalwerkklas nie? Die ding is net, ek het g'n begeerte om te probeer leer nie.

Dit was nooit maklik nie, want saam met die g'n begeerte het die Vader my ook geseen met wonderlike vriendinne wat goeie naaldwerkmense. Dit was altyd nag om saam met hulle in die winkels te loop en klere kyk. Sien mens iets wat jy van hou, vat hulle die materiaal so met die vingers, kyk na die prys en sê "ek kan dit baie goedkoper maak". As dit nou nie yswater gooi is nie. Veral jy Annie en Gwen was die sondebokke ... maar gelukkig kon dit my nie oortuig nie.

Maar in hierdie land waarna mense so stroom om "klere winskopies" te kom koop, bly hier baie klein mensies (die kinders noem my huiswerker 'n umpaloompa oor haar grote). Dis seker die maklikste manier om depressief te raak .... gaan net winkels toe en probeer iets vir 'n "ouer-lyf" koop - jy kom daar uit met 'n depressie wat skrik vir niks. Waar selfs ou Posh Beck met haar nr 0 lyfie hier 'n L sal moet dra, kan jy dink by watter nr ek opeindig. Genade!! So wanneer daar 'n geleentheid is en Woollies (wat ons genadiglik het en mens die nrs en groottes ken) het niks is die ander alternatief materiaalwinkel en taylor. So met William se graduation wat voorlê moes ek ernstig gaan materiaal soek (die regte naaldwerksters praat van lap). Nou lapsoek hier is ook nie so eenvoudig nie want daar is rye en rye en rye "lapwinkels"
Drie blokke met materiaalwinkels reg rondom

Orals waar jy kyk is "lapwinkels"

Mens kies nie net die winkel nie ...dis 'n hele proses. Jy gaan by elkeen in. Dis iemand soos Annie en Gwen se droom dink ek, lappe van elke vorm, tekstuur en patroon. Omdat ek nie 'n snuffellaar in 'n winkel is nie, ek koop klere wat my oog dadelik vang en drentel nie rond vir iets wat iewers wegkruip nie ... is hierdie winkels ook 'n nagmerrie. Stap jy in een is dit die prentjie wat jy sien.


Rakke vol allerhande kleure en patrone

Hoe op deesaarde gaan iets my ook so vang? En sien jy wel iets, gryp die winkeleienaar die lap, gooi hom voor jou oop en sê same-same terwyl hy nog klompe ander met dieselfde patroon maar verskillende kleur ook oopgou. My eerste instink is om vir die ou te sê is "onthou jy moet dit alles self bêre"



Mens kibbel ook nie oor die prys nie want soos dit is, is dit spot goedkoop. Dhs5 vir 'n jaart!! Ek's nie snaaks nie, maar hierdie ouens is soos kraaie en mal oor blinkgoed en GROOT blomme so lap na lap na lap wat voor jy oopgegooi word is so helder dat mens partykeer met sonbrille moet shop. Hierbo is nog 'n winkel met klompe voorraad. Maar dis nie die einde nie, want wanneer en indien jy eintlik jou stuk lap het, lê die volgende probleem voor - watter taylor?

Ek gaan nie eers begin vertel hoe mens nie 'n patroon gebruik nie, maar net 'n voorbeeld saambring en hulle maak dit daarvolgens en vir baie goedkoop.

Naskrif - ek het toe glad nie 'n lap gekry wat my oog gevang het of met my gepraat het nie en nou lê daar nog 7 dae voor ... en dis te min vir die taylor wat nou baie besig is met al die "prom" rokke - so krises. Ai tog, hoekom kon ek nie maar 'n -0 gewees het nie.

2 comments:

Anonymous said...

Dit was onregverdig om 'n foto van so baie lap te neem en dan sê ek moet daarna kyk! Ai! Sien julle 9 Des. Annie

Sandra said...

Annie sien uit om jou hier te hê en ons sal beslis die lapwinkels besoek. Miskien moet jy oppad terug weer hier stop om die pakkies op te laai