Friday, May 18

LAASTE DAG

Nie lank terug nie, net twaalf jaar gelede het hierdie outjie sy skoolloopbaan by die Laerskool Garsfontein begin. Kyk net die opgewondenheid lyk hy met die nuwe tas en skoolklere. Moet sê daardie gesiggie het niks goed voorspel vir die arme juffrouens nie. En die feit dat mens kaalvoete kon skooltoe gaan ... dit was nou lekker.

In 1998 verhuis ons vir 'n paar jaar na die UAE en nooit het ek gedink dat James en later William hulle skoolloopbaan hier sou voltooi nie. Die American International School of Abu Dhabi het vir hulle baie beteken op akademies en sport gebied. Hulle het nou nie die geleentheid gehad om aan sport soos ons dit by die huis ken, deel te neem nie, maar nuwe sporte met nuwe uitdagings en hulle het dit met altwee hande gegryp en 'n sukses van gemaak. Die kultuur moes ons maar by die huis inwerk. Ek's trots op hulle oor die feit dat ons NOOIT Engels in die huis hoef te gepraat het nie en die kinders 'n suiwer Afrikaans kan praat en 'n baie goeie Engels (al is dit ook met 'n bietjie Amerikaanse aksent). William maak sy skoolloopbaan klaar met Afrikaans as huistaal, Engels as eerste taal, vanjaar Spaans as tweede taal met twee jaar Frans en vyf jaar Arabies.

Hier is die ou gereed vir sy laaste dag. En daar in sy regterhand (julle linkerkant) 'n lekker stukkie droewors. Gedink ek sou dit nie sien nie ne en toe wys dit op die foto! Nou lê die eksamens voor voordat daar regtig gesê kan word "ek's klaar met skool".









1 comment:

Anonymous said...

Frikkie, my ou laaste baba seuntjie! Jy moet bly hard werk die laaste maand, want soos Oom Elvis sing, "it's now or never"!

Baie trots op jou!