Wednesday, May 23

Amper soos by die huis

Nee dis nie sneeu of stormweer nie, hier dood ons nog klompe dode met die lente temperatuur wat styg en in elk geval is dit nie uniek van Suid-Afrika nie.


Ons het 'n kragonderbreking!!! Jip net soos by die huis het ons krag teen so vieruur se kant afgeskop. Nie gewoond aan hierdie tipe ding nie was die eerste woorde van William "wie het nou waar iets aan of af gesit wat dit nie moes gedoen het nie" (hy klink toe net soos sy pa) - die krag is geneig om partykeer af te skop as die grote ou huis oorlaai word, maar dan skakel mens dit mos weer aan. "Al wat ek aangesit het is my ipod skree Nelmari van die eerste vloer af, so dis nie ek nie, maaaaaammma". Ek sit ewe onskuldig en DSTV kyk.


Nadat die kragskakelaars goed aan en af geprobeer is, besef ons dit moet 'n kragonderbreking wees. Ek probeer onthou of ek die krag betaal het, (met die dat mens dit oor die internet doen weet jy nie altyd of dit daar uitkom nie) en duik die rekening uit. Kan nie vreeslik die Arabiese rekening lees nie, weet nie eers of dit vir ons is nie, Holloway lyk snaaks in Arabies, maar die bedrag wat ek betaal het wys ... dankie tog dis nie my skuld nie.

Mens is veronderstel om te weet wat met die rekening aangaan.

Nou moet ons stil en baie rustig raak want saam met die krag is die "a/c's" ook af en mens voel die hitte sommer onmiddelik opstoot. Vyfuur en 'n uur later, "William, bel asb die mense en hoor of hier 'n probleem in ons area is vra ek". Ek moet net hier noem dat sulke goed eintlik ALTYD gebeur as Eddie nie hier is nie, hy het juis vir 'n dag of drie London toe gevlieg vir werk. Ja, sê die gawe Arabier daar is 'n probleem in Muroor area maar dis binne 'n uur aan. Ok, so net 'n uur van stil wees en probeer dat die hitte nie oplet ons is binne die huis nie.


Hoekom dit so moet wees dat sodra mens niks het om te doen nie, mens aan jou maag dink - "Maaaa, kan ons gaan uiteet ... as ons terugkom is die krag aan en die huis koel." Nie lus nie want dis waaaaarmmmm buite, maar die gedagte aan 'n koel huis as ons terugkom wen en af is ons Fudruckers toe.

Die wêreld se lekkerste hamburger sê hulle.

Nelmari probeer dit uit.

'n Uur en 'n half later is ons terug en die huis is heerlik ..... vuurwarm. Weer bel ons en hierdie keer belowe die vriendelike Arabier dit sal defnitief teen agtuur aan wees. Ten minste het ons nou geeet. Die Voortrekker wees skop in en ons moet gereed maak vir donker word, so kry die kerse en vuurhoutjies. Maar o wee, vuurhoutjies is hier soos 'n vark in die UAE, onverkrygbaar. Iemand het darem iewers by 'n hotel 'n houertjie gekry so dit word op bystand gesit. Net so voor skemer is die kerse aangesteek en orals brand gegeurde kerse, maar dit maak nie regtig lig nie. Ek sit myself met 'n handwaaier en koel waai en tot die kat druk voor my in om 'n bietjie wind te kry. Nelmari kerm "ek gaan nooit kan slaap vanaand nie" en William wat more eindeksamen Spaans skryf sukkel om by die swaklig te sien wat in die boek aangaan. Ek gaan nie sê hy moes al geleer het nie.

Agtuur kom en gaan en ons drie bondel op die dubbelbed voor die laptop (wat se battery gelukkig vol is) en kyk 'n fliek om die tyd vinnig te laat verbygaan. Tussenin waai William my met die waaier want hy "suck-up" soos hy dit noem - sy verjaarsdag lê voor en hy het 'n spesiale geskenk in gedagte. Na die fliek is ons almal doodmoeg van die hitte en kruip maar in ons warmwatersakke in.


Ten minste kan julle die kerslig sien.

Eintlik!!!!! Net na elfuur, skrik ek wakker met lawaai wat soos oordeelsdag klink. Dis ligte en musiek en mense wat praat orals om my ... ons krag is aan!!!! Natuurlik het die kinders al die ligte aangesit en nou lyk die drie vloere soos 'n verligte kersboom en elke TV is aan en op 'n verskillende stasie. Maar die saligste van alles is die A/C wat koue lug uitblaas asof hulle betaal word .... heerlik nou kan mens darem slaap.

Ek dink aan my pelle in Pretoria en Johannesburg wat elke week 'n kragonderbreking het en selfs die ouens in die Kaap en is dankbaar dit is die eerste keer in nege jaar vir my. My hart sal dit nie hou nie. Ek moet dankbaar wees want een van die jare is ek terug in my land en dan sal ek ook daaraan moet gewoond raak.

Naskrif - Natuurlik as die gesegte "vet braai uit" waar was, sou ek nie vir 'n onderbreking elke week omgegee het nie, maar glo my dit is 'n mite!!












No comments: