Tuesday, March 6

Eddie vertel van ...

Egipte O, Egipte

Dat die Egiptenare duisende jare gelede die Piramides en dinge kon bou is beslis ‘n wonder van die wêreld ja, maar dat hulle steeds in daardie omgewing kan oorleef en hulself nog nie heeltemal uitgeroei het nie is nie net ‘n wonder nie, dit is ‘n wonderwerk!

Voordat iemand dalk dink ek is besig om hulle as ‘n nasie sleg te maak of af te kraak, dit is glad nie wat ek met bogenoemde stellings bedoel nie. Dit is net dat ek in die 10/12 dae wat ek in Cairo en Alexandria deurgebring het baie keer net nie kon glo wat ek sien of beleef nie.

Kom ons neem byvoorbeeld die verkeer. Daar is volgens die jongste berekening sowat een miljoen voertuie in net die “groter Cairo area”, en ek wil dink dat ek die’ hele miljoen rygoed elke dag gesien het. Dit is nou behalwe die honderde donkiekarre (ja, regte egte donkiekarre) wat ‘n mens daagliks op die deurpaaie en tot in die middestad van Cairo teekom


O ja, so van die verkeer en die gemiddelde Egiptiese bestuurder se “vaardigheid” agter die stuur gepraat, moet nooit weer oor die kamstige “slegte taxi-bestuurders” in Suid Afrika” kla nie hoor!

As ‘n bestuurder oor ‘n afstand van een km op ‘n totale oop pad meer as ses keer van total links na total regs tussen die randstene van ‘n vier-baan pad beweeg, is dit in Egiptiese padgebruik terme “normaal”. Daar is net nie so iets soos “baan dissipline” nie, daar is net “beweeg van punt A na Punt B, maar nie noodwendig in ‘n reguit lyn oor die kortste moontlike afstand nie”.

Miskien moet ons howe in Suid Afrika die “stoute bestuurders” straf deur hulle vir ‘n week Egipte toe te stuur om hier as ‘n passasier rond te ry, dit behoort hulle vir altyd te genees van hulle slegte gewoontes.

Van slegte gewoontes gepraat, nou weet ek ook dat die belangrikste “meganiese onderdeel” van ‘n motor in Egipte sy toeter is. As jou voertuig sin dalk buite werking is sal jy nie kan beweeg nie, want daarsonder is jy absoluut verlore.


Weereens, dit is nie dat jy in Egipte jou toeter gereeld gebruik nie, jy gebruik dit aanmekaar en sonder ophou, om te ry (vorentoe of agtertoe), om te draai of om te stop!
O ja, terwyl ons op die onderwerp van stop is! Die lewe in Cairo kom ook nooit werlik tot stilstand nie, dit raak net “ietwat stadiger”.

Daar is dag en nag iets aan die gang, maar met soveel miljoene mense wat ‘n lewe moet maak is dit ook nie ‘n wonder nie. Besoekers kan byvoorbeeld nie net in die dag die Piramides besoek nie, maar selfs snags. Daar is elke aand van die week ‘n klank en lig vertoning, ses vertoning na mekaar, elk in ‘n ander taal.

En moet ook nie dink dit gaan net oor die kyk en luister nie, daar is tientalle “bedieners” wat tydens die vertonings regstaan om jou met drink- of eetgoed te bedien sou jy dit so verkies.

Elke vertoning is slegs sowat ‘n uur lank, so jy kan self dink hoe vinnig dinge moet gebeur om alles vlot te laat loop. En soos die een vertoning klaarmaak en die toeskouers na links agter uitgelei word, word die nuwe groep van regs agter af ingelei, honderde mense op ‘n keer.


Dat ‘n mens in ‘n “antiek beskawing” rondbeweeg wyl jy in Egipte is, is egter iets wat heeltyd by my opgekom het. Elke keer as ek met die hoofpad tussen ons Egipte kantoor en die middestad gery het, het ek die kilometers lange landery aan beide kante van die pad met ‘n oop mond aangestaar, veral as ‘n ou nog die Piramides in die agtergrond ook kan sien.

Duisende jare al “boer” die mensdom daar op die Nyl se vloedvlaktes, en selfs nou nog is hulle daar besig om te plant en te oes. Op baie plekke is die geboue is egter stadig maar seker besig om die landery al verder en verder terug te dryf, en moet vrugbare lande plek maak vir “behuising” soos wat die mense in hulle duisende na die stad stroom.

En as ek van behuising praat, praat ek natuurlik van 5, 6, 7 verdieping geboue, meestal almal in ‘n toestand van “half-klaar”. Gebou met rooi bakstens wat van die Nyl se rooi kleigrond gebak word, maar nooit afgepleister word nie. Honderde geboue, reg op mekaar en sonder dat iemand se toestemming daarvoor verkry word.

Hoop om tydens die volgende besoek bo by die Suez Kanaal te kan loop draai, dan het ek ook die’ land van bo tot onder deurkruis







No comments: