Thursday, March 8

Ander mense se kinders

Die laaste paar dae was ek weer by die skool "juffrou" vir verskeie grade. Woelige, oulike kinders maar ek was omtrent moeg. In elkeen van die klasse was daar 'n interessante karakter of twee. Dit was nou nie koek of storie dag hierdie keer nie, ek mis "pajamaday" more, maar hier is tog een of twee foto's van die kinders.

My eerste groep was Graad 5 seuns. Seuns en dogters is "geskei" in ons skool vanaf graad 5 so niks gemengde klasse nie. Net ingeval julle wonder, dit verhoed nie dat die teenoorgestelde geslagte mekaar ontmoet nie, hulle doen na skool ure, maar daar is ook baie vindingryke maniere van gesels met mekaar tydens 'n skooldag. Mens staan partykeer verstom hoe baie die meisies van die seunskant of andersom weet binne sekondes. (James miskien kan jy vir Amirabbas erken, hy was ook in die klas)

Die hoogtepunt van die dag was om saam met hulle musiek te hê. Eerste het hulle begin oefen aan ritme met dromme. Een of ander dag volgende week is dit "vrede" dag, dan sal hulle 'n internasionale vrede tromspel saam met van die ander klasse speel. 'n Groep kinders het dit 'n paar jaar terug ook gedoen en dit was iets om te hoor. Hierdie groep was maar nog taamlik uit ritme uit vir die eerste keer.Toe is daar musiek gemmaak en almal het baie hard gekonsentreer om die regte note te speel.
Graad 3 was volgende en hulle was so woelig dat ek geen foto's kon neem nie, het heeltyd altwee my hande nodig gehad. Wonder of dit was omdat ek drie Suid-Afrikanertjies in die klas gehad het. Hulle weer het dit geniet om met my Afrikaans te praat sodat die maats kan vra wat hulle sê. Dit was cool vir hulle.
Die graad 1's was 'n besige fees. Later gehoor dis een van die woeligste klasse in die skool, maar ons het PE, Arabies ens gehad wat die klaswerk minder gemaak het. Daar is ook na 'n video "Magic Schoolbus" gekyk en almal was stil en vasgenael voor die TV. Kyk net die gesiggies, mens kan half nie glo hulle is stout nie.
Die graad 6 seuns was vir my 'n aangename verrassing. Ek het meeste van hulle geken toe ek 'n paar jaar terug by die skool gewerk het, en nou was hulle groot. Eers saam met my gelag oor die hoeveelheid kere hulle die hoof se kantoor besoek het, en toe wou hulle bewys dat hulle nou "soet" is. En hulle was - dit was 'n heerlike klas.


Ons kinders kry mos toebroodjies skool toe, maar hier is Arabiese brode met kaas of zatar op, redelik gewild. Ek moes hierdie ou afneem met sy tradisionele toebroodjie. (Vir ons sou dit soos 'n pizza gelyk het)

No comments: