Sunday, November 4

Nr. 300 - Die troue

Ek het belowe om te vertel van die troue. Opgetof en alles is ek en Charmaine toe na die Al Dhafra Wedding Hall - net om daar gevra te word ... watter troue ons gaan bywoon. Umm ....haaa.. .Aziza? maar dit beteken vir die sekuriteitsman niks. Hy wil die troukaartjie sien wat Charmaine by die huis gelos het.
Nou wil ek julle vertel dat almal kla omdat ek van alles en almal foto's neem, maar wat sou ons gedoen het as ek nie die kaartjie afgeneem het nie ... want ons kon toe vinnig die foto vergroot en die van sien Eintlik daag ons by die regte banquet hall op en die musiek is oorverdowend. Ons oorweeg om mekaar te sms of vingertaal te praat want mens kan g'n niks hoor nie en dis nie sommer net musiek nie, dis Arabiese musiek. Ons gaan sit toe maar reg agter in die saal waar daar seker maklik 60+ tafels van 10 elk is in die hoop dat die musiek sagter sal klink. Geen geluk dis nog steeds ERG!!! (Die neem van foto's word nie toegelaat nie, so ek kleur die storie in met ander foto's wat NIE op die troue geneem is nie.)Ons verkyk ons aan die arabiese vroue sonder hulle swart rokke en met hulle kleurvolle aandrokke. Ek het so aan een van Fanus Rautenbach se grappies gedink van "die vrou is in haar rok ingegiet .... hulle het net vergeet om hokaai te sê". Hoe party van daardie vrouens in hulle rokke kon uitkom ....meer erg is hoe gaan hulle na die troue daaruit kom? Die kelderinne bedien die heeltyd eet en drinkgoed terwyl jonk en oud op die verhoog gaan dans om ek dink hulle rokke vir almal te wys.Dis Arabiese koffie, water, sappe, wit tee, swart tee, slegte tee, gesonde tee, ens. ens. Klein oliebolle, sjokolades, arabieses voorgeregte, brode, vrugtebakke en alles wat aangedra word en ook goed wat ek nie kan identifiseer nie en sommer maar byvoorbaat nee dankie voor sê. Maar ek het mos hierdie ordentlike vriendin wat nooit iemand wil seermaak nie. (Sy is gewoonlik 'n sucker vir hierdie mense wat in die malls en supermarket spesials probeer verkoop en hulle sien haar van ver af kom). So sê sy ja vir alles en ons twee alleen aan die tafel het 'n redelike verskeidenheid van eetbare en nie-eetbare kosse. Een van Charmaine se kollegas kom ons haal om vorentoe te sit en dis sommer ook 'n geleentheid om vir van die eetgoed weg te hardloop. Ons land ons reg voor op ... waar die musiek nog harder is, maar dis lekker want nou kan ons haar peper met vrae oor hoekom en waaroms van die troue. Intussen word daar nog gedans met die musiek en Charmaine is beindruk dat die Arabiese kindertjies selfs die verskriklike musiek se woorde ken. Dis tien uur en hulle begin die kos bedien ....die Arabiese vrou skep vir ons in en dis weer hompe rys en vleis (onthou my storie van die konferensie?), tussen-in nog allerhande nuwe drinkgoed. Ons het omtrent net die borde gemeester dat dit nie ongeskik sal lyk om die origes te los nie of hulle kom sit die res van die kosbakke op die tafel. Weerens kan Charmaine nie die mense in die gesig vat en nee sê nie, dus eindig sy op met allerhande soorte vleis in haar bord, ek het maar net nee dankie gesê. 'n Klein koppietjie met snaakse drinkgoed word uitgedeel, dit lyk half soos sagopoeding in vla en my vriendin neem een vir haar en een vir my. Ek weier om dit te drink en sy drink hare en myne en toe verduidelik die arabiese vrou aan die tafel van die medisyne .... goed vir mens se maag, vrugbaarheid en enigiets anders insluitende ingegroeide toonnaels. Teen kwart oor elf weet almal die bruid is laat, maar hulle dans en speel nog musiek terwyl daar geeet word. Eintlik twintig VOOR twaalf daag die bruid op. Sy loop die saal binne op die snaakste musiek nog ooit (wens ek kon dit op blog vir julle aflaai) met fotograwe (amptelikes) wat elke beweging afneem. Dan gaan sit sy op 'n bank en die mense kom een vir een, sommiges dans dans om vir haar geluk te wens en saam met haar afgeneem te word. So sit sy tot twintig OOR twaalf wanneer die bruidegom met sy pa, haar pa en broers opdaag. Hulle vryf mekaar se neuse en dan sit hulle langs mekaar. G'n DOOIE WOORD is gesê tussen die bruid, gaste, bruidegom ens. Dan gaan die pa's en broers terug terwyl die pa geld gooi vir die klein kindertjies langs die pad en die nuwe couple sit doodstil en staar na die gaste.Klein seuns van die familie kom doen tradisionele danse met hulle wit rokke en gewere. Wat 'n manier om te trou?! Maar dit was 'n besonderse ondervinding. En weet julle wat kry ons as 'n geskenk toe ons gaan? 'n CD met al die musiek van die aand op :-)

2 comments:

Anonymous said...

Die bruidsgroep praat nie met mekaar nie want hulle kan mekaar nie hoor nie maat... ek het in my hele lewe nog nie vir soveel uur op 'n slag na sulke harde musiek geluister nie. Dis 'n wonder ons is nie doof nie

Anonymous said...

Hallo,

Die 2 tannies is baie beiindruk met wat jy al sover vermag het, en sê jou pa sou baie trots gewees het op jou.

Hulle sê ek moet solank baie dankie se vir jou en hulle waardeer opreg wat jy doen. En se hulle is baie lief vir
jou!!

Hulle is baie opgewonde om almal te sien en se hulle gaan 1 van oupa en 1 van ouma se gunsteling kerk
koortjies sing.

Die plek wat jy uitgesoek het vir reunie is baie mooi en hulle se dit gaan beslis 'n spesiale dag wees wat almal
vir lank nog sal koester en oor praat.

Liefdegroete
Ronelle (& Ruth & Omie)