Tuesday, October 16

Tyd vir alles

Aan alle dinge, goed en sleg kom daar 'n einde. ...

So was dit dan ook tyd om my ou motortjie van 6+ jaar te vervang. Nou weet julle seker dat 'n vrou en 'n man dink heeltemal anders oor motor koop. So was dit ook in die Holloway huishouding. Bv.

Eddie stel voor ek vat sy motor dan koop hy vir hom 'n kleiner een - Ek dink daardie groot 4x4
sal glad nie gemaklik kan parkeer by my gunsteling mails en koffiewinkels nie, so dankie rein
gedagte, maar nee dankie ek hou van my motortjie. In elk geval as hy so 'n nice motor het,
hoekom wil hy dit vir my gee?

Toe het hy begin kyk na ander motortjies vir my, en met allerhande broodblik modelle by die huis
aangekom - Ek dink nee, ek hou van my motortjie. Dit voel reg, die grootte is reg, alles is reg.

EINDELIK stem almal saam dat dit wel tyd is vir 'n nuwe motor en dat ek maar weer dieselfde motortjie net nuut kan kry. As bonus kry ek 40% van my ou motor se koopwaarde terug vir inruil. Ek het mos gesê dis 'n oulike motortjie en na 6+ jaar het ek maar net 76000km met hom gery, soos die "ouer" mense sal sê, die enjin is nou eers ingeloop.

Maar selfs motorkoop in die land is nie "normaal" nie. Julle ouens wat praat van Afrika tyd, weet nie waarvan julle praat voordat julle nie Arabiese tyd ken nie .... hierdie mense het nie lank terug op kamele gery .... en niks maar niks jaag hulle aan nie.

Wanneer jy 'n motor hier koop, moet jy voordat jy dit kan lisensieer, eers verseker (nie maandeliks nie, maar jaarliks). Dan met jou papier, die versekeringsbrief, 'n brief van jou werk wat sê jy mag maar 'n motor koop, paspoort, ens. ens. is dit dan af na die lisensiekantoor met jou ou motor. Die handelaar bring die nuwe een. Daar moet die oue eers deur die toets en dan val jy in die ry om te kyk of daar enige boetes die afgelope jaar na jou toe gekom het.

Laat ek myself gou in die rede val hier....verkeersoortredings word op rekenaar geplaas sonder dat jy daarvan weet, en een keer 'n jaar wanneer jy jou motor se lisensie betaal, kry jy jou lysie van boetes wat partykéer 'n groot skok kan wees. Wat ook nice is, is dat jy slegs jou motor kan registreer vir die nuwe jaar as hy deur die toets gegaan het. Sal dit nie baie probleme met taxi's in ons land oplos as dit gebeur het nie?



Vir baie mense is die boetegelde so hoog, dat hulle die motor net so laat staan iewers op 'n parkeerarea en liewers 'n nuwe motor koop. As al die dinge dan gedoen is, dan eers kan jy jou nuwe motor kry. Hier is 'n oue wat in ons omgewing staan.


Ek moet julle vertel dat my ou motortjie nie die toets deurgekom het nie .... hulle het hom gedop omdat sy dak se kleur anders as die motor s'n is. Kan julle dit glo? Nie duike, ligte wat nie werk of so iets nie .... maar verfkleur wat gebleik is deur die son!! Wat die boetes betref was daar twee (nogals nie sleg na 10 jaar bestuur in die UAE nie), een moet myne wees, maar die ander een seun is joune!!!
Half twaalf in die aand kom Eddie uiteindelik van die registrasie kantoor met die nuwe motortjie! .

Afrika tyd ....se voet!
Nou het ek my nuwe "ou" motortjie wat hopelik my net soveel goeie km sal gee as die ou ene en kry ek die kans om dit te bestuur voordat die seuns weer kom kuier.

1 comment:

Anonymous said...

Ek dink F.R.O.G en jou nuwe motortjie hou sommer baie van mekaar maat. Mag jy baie veilige myle met hom ? ry. Baie geluk!!