Thursday, October 11

Einde van Ramadan met Eid

Uiteindelik die einde van Ramadan!!! Wat voel soos 'n ewigheid van alles wat toe is op ongelee tye, verkeer wat iets afgryslik is, diens by maatskappye wat nie-bestaande is en allerhande ander ongerieflike dinge, is die 30 dae van vas vir die mense in die land amptelik verby. Dit beteken 'n paar dae vakansie met die viering van Eid ul-Fitr of Id-Ul-Fitr عيد الفطر wat sommer kortliks Eid genoem genoem word. Dit is 'n Moslem vakansiedag wat die einde van Ramadan, die maand van vas aandui.




Alles hier gebeur met die "sighting" van die maand en hierdie foto wys hoe die maan lyk met begin van Ramadan en dan weer aan die einde. Orals is manne wat spesifiek die maan dophou, om aan te kan dui wanneer die maand van Ramadan begin en/of eindig. Nou Fitr beteken die breek van die vas. Die oggend van Eid in 'n tipiese muslim huishouding word almal vroeg wakker. Na die eerste bid van die dag, kan die familie dan 'n klein bietjie eet (weet nie of hulle weet van klein bietjie nie) om die einde van Ramadan te vier.


Hierdie is 'n kaart soos hulle opstel wanneer en waar die maan gesien word en hoe dit oorbeweeg na die verskillende lande. Bidtye is dus nie vir al die moslems oor die wêreld op dieselfde tyd nie. Selfs in Abu Dhabi is daar 'n vier minute verskil van Dubai s'n. Nou wanneer die ouens hulle eerste ontbyt gehad het, gaan hulle na spesiale "dienste" toe wat slegs in moskees gehou word op die dag. Hulle bid 'n baie kort gebed en luister dan na die khutba, (die preek). Daarna omhels hulle mekaar in die gees van vrede en liefde en begin die groter as groot eet kompetisie. Huise van familie en vriende word besoek om God te bedank vir al die seeninge. By elkeen van die huise eet hulle natuurlik.

Eid is 'n baie feestelike geleentheid en 'n dag van vergifnis, geestelike oorwinning (vir die wat regtig gevas het), vrede en eenheid. Hulle sê ook dankie vir God vir die krag en sterkte wat hulle glo hy hulle gegee het gedurende die maand en vir die hulp om deur die maand te kom. (Ek's bly ons kry elke dag krag en sterkte en nie net een maand per jaar nie). Dis ook 'n tyd van gee en deel en almal trek baie feestelik aan. Kinders kry nuwe klere en speelgoed. Familie en vriende gee vir die kinders geld. Op hierdie dag lui ons deurklokkie ook aanhoudend soos die kinders ons kom Eid Mubarak toewens en geld bedel in 'n land waar bedel verbied is!

Ek voel ook na feesvier want nou kan ons weer soos normale mense in die strate ry, winkels besoek, eet en koffie drink!

No comments: