Thursday, October 18

Beyond Words Konferensie - 1

Soos die van julle wat gereel lees weet, het ek gedurende die Eid vakansie (lang naweek) 'n jeugkonferensie in Dubai gaan bywoon. Wat 'n ondervinding! Daar is so baie wat ek kan en wil vertel maar sonder om te dupliseer...so vir die terugvoer van die sessies wat ons bygewoon het, as daar van julle is wat wil lees en leer, loer gerus oor die volgende week of twee by ons kindergroep blog www.adkindergroep.blogspot.com in en lees 'n volledige beskrywing van die lesse en wat daar gebeur het.



Die konferensie Beyond Words word deur die Le Grain de Ble groep (van Switzerland)in samewerking met die Gulf Bible Society gereel. Hierdie ouens se basis is in Lebanon en is dit die vierde konferensie wat hulle reel ....die voriges het oa plaasgevind in Syria, Jordan en Baghdad kan julle glo?!? Die vereeniging het verskillende vertakkings waarvan die konferensie vir opleiding aan leiers wat met kinders werk een is. Die ander een is om kampe te reel en met kinders van spesifiek oorloggeteisterde lande op die kampe te werk. Ek en Charmaine is genader en wie weet dalkies het ons 'n kans om binne die volgende jaar op een van die kampe te gaan werk ....!!!
Daar was 9 rigtings waaruit ons kon kies, soos ek reeds vertel het en daarna woon jy elke dag een van die sessies by. Die aanbieders het van die Amerika, Engeland en Australia gekom. Die dag programrooster was redelik dieselfde en dit sluit die kos in (daarvan moet ek julle vertel).



Ons oggend program het begin met die Praise & Worship deur verskillende kerke wat die konferensie bygewoon het, dit sluit die Roomse en Arabiese kerke in.

Dit was ongelooflik om Arabiese jongmens te hê wat die sang lei. Ons ken Arabiese kinders meestal as moslems.
Ek hoef julle nie te vertel dat die Roomse Kerk se jongmense my net so uitgeboul het nie. My beeld van hulle dienste en sang was niks soos wat ons tydens die konferensie ervaar het nie. Hulle het dieselfde liedjies gesing wat ons in die kerk sing wat my net weer laat besef het dat sonder dat mense weet, God mense wat lief is vir Hom tog nadertrek om dieselfde te dink en voel. Die oggend "preek" is deur 'n Engelse omie gedoen en hy uitstekend. Die mense het behoorlik aan sy lippe gehang en sy stories en lesse baie geniet. Ons het ook die Just4kids gehad wat 'n poppespel boodskap gelewer het.
Daarna was dit 'n geskarrel na jou aanbieding toe. Mens kon nie vir 'n spesifieke kursus inskryf nie en elkeen het beperkte sitplekke gehad, so jy moes regtig hardloop om jou plek te boek om die sessie by te woon. Alhoewel ek meer vir 'n vaste program met reels en lesse is, was dit 'n goeie manier om die ouens op "Arabiese" tyd betyds te maak. Na die eerste les het die ouens wat drentel en hulle tyd vat geleer dit werk nie. My eerste sessie van elke dag was Storievertel! Laat ek julle vertel dat dit nie net normale storievertel was nie, hierdie Amerikaner wat in Engeland bly was uitstekend. Hy het ons ouens in die groep laat rolspeel en kans vir uitsit was daar nie. Ons was skilpaaie, leeus, sterretjie, Jerigo se mure en allerhande goed. Luister bietjie hoe vertel hierdie man 'n storie .....




Vir meer oor die sessie lees die kinderblog later die weekMy tweede sessie van die oggend was Hi-Tech. Nooit te oud om te leer nie het ek regtig "kennis gemaak" met my ou skootrekenaar. Ek het nie eers geweet dit kan al die goeters doen nie. Hier het ons spesifiek gekyk hoe mens jou lessies vir jou kinders op verskillende maniere kan aanbied. Ek het geleer slides maak met prentjies, bewegings en video clips, hoe om rolprent, liedjies en geluide op te sit, hoe om speletjies te maak vir die les en oooohhh hoe om met my "bloutand"(dit klink nie goed nie ne) foon, die rekenaar en slides van 'n afstand te beheer. Ek's nou eintlik te slim vir myself en te gevaarlik vir die rekenaar dink ek. Meer hieroor met oulike websites wat julle kan gebruik, op die kinderblog later.


Dan was dit tyd vir middagete en dit met die res van die middag regverdig hulle eie blog.

No comments: