Sunday, November 11

Nuwe ontwikkeling

Ek het lanklaas vir julle iets nuuts van die UAE vertel en by hierdie tyd weet julle dat hier moet alles groter en beter as elders in die wêreld wees. Die laaste klompie jare het verkeer in Dubai iets ysliks geword en waar ons tien jaar terug nog gereeld Dubai toe gery het, is soontoe gaan slegs in uitsonderlike gevalle want mens kan vir baie lang tye in die verkeer vassit. Abu Dhabi is ook nie ver agter nie, en veral die laaste paar maande is die paaie soooooo besig. Dis of niemand by die werk is nie .... almal is op die pad. As mens so na die ontwikkeling in al die emirate kyk, kan mens verstaan dat as al daardie geboue mense in gaan kry, moet daardie mense vervoer word.



Gereeld word daar na oplossings gekyk en huidiglik is Dubai besig om te bou aan 'n metro treinnetwerk wat daagliks 1.8 miljoen mense gaan vervoer. Wanneer hierdie netwerk voltooi is sal die rooi en groen lyne (spore) 'n totaal van 74,6 km lank wees en die wêreld se grootste netwerk wees wat ten volle outomaties en sonder drywers loop. Hierdie trein sal 3 klasse hê, die goue klas met luukse sitplekke en versierings, die vroue en kinders klas wat spasie sal hê en plek vir stootwaentjies en pakkies en die silwer klas (ekonomies) wat verskillende tipe sitplekke gaan hê - die vir mense wat wil uitkyk by die venster of mense wat met hulle vriende wil kuier tydens die rit.



Die hoofdoel van die netwerk is om alternatiewe manier van vervoer te verskaf en sodoende padverkeer ligter te maak en ook om mense vinnig en veilig na en van die binneste deel van die stad te vervoer. Altesaam 7000 werkers is op verskillende plekke in die stad besig om aan die netwerk te bou. 'n Gedeeltelike opening word beplan vir September 2009 en hulle hoop vir 'n ten volle klaar projek teen die jaar 2012. Daar sal altesaam 47 stasie deur die stad wees. Twee hooflyne word beplan.

Die rooi lyn sal 29 stasies hê waarvan 24 in die lug is, 4 ondergrond en 1 op grondvlak is en sal 52.1 km lank wees met 4.7 km daarvan ondergrond. DIe groen lyn sal 18 stasies hê, 12 in die lug en 6 ondergrond en sal 22.5 km lank wees met 7.9 km daarvan ondergrond. Hier kan julle sien hoe die spoorlyn in die lug gebou word langs die besige snelweg.

By al hierdie stasies sal daar natuurlik parkeerplekke gebou word en busse om mense na hulle bestemming te vervoer. Op hierdie stadium van die beplanning is hulle alreeds besig om nuwe uitbreidings te beplan en die netwerk is nog nie eers in gebruik nie!




Ek is seker dat dit van die vervoer probleme sal oplos vir 'n tydjie en vir ons ouens wat sommer net tot by die Battuta Mall en nie verder gaan nie weens verkeer, sal nou binne die dorp ook ingaan. Sal lekker wees as daar 'n spoorlyn tussen Abu Dhabi en Dubai is, maar dit sal seker nog kom, na my tyd. Om die waarheid te sê ek weet nie of ek die voltooiing van hierdie projek in 2012 sal sien nie. Net om te wys hoe vinnig die stad uitbrei kan ek ook noem dat 'n pers en bloulyn ook reeds in die beplanningsfase is. En wat dit alles kos? In 2005 toe die tender toegeken is, was die bedrag 15.5 biljoen dirhams - dit het dalkies 'n bietjie verander teen hierdie tyd.

No comments: