Showing posts with label Hermanus. Show all posts
Showing posts with label Hermanus. Show all posts

Thursday, January 17

'n Brand doen skade

Net so twee daggies terug het ek vir julle foto's gewys van hoe mooi groen die wêreld en berge lyk en hoe warm dit is. Daarna was dit die wind en het dit gewaai .... jinne die koerante sê nie minder as 100 km/h en mens moes vashou....regte woestyn winde. Iewers langs die berg het iemand, vermoedelik bosslapers vuur gemaak en met die wind het dit gou-gou versprei.
Ons kon nie die vlamme te duidelik tussen die rook deursien nie, maar die dorp, Hermanus, was vinnig heeltemal toe onder die rook. Paaie was toegemaak en mense wat in huise op die berg bly, kon nie by hulle huise uitkom nie.
Kyk hoe hardloop die vuur oor die berg .... Die koerant sê dat ongeveer 250 mense probeer het om die vuur onder beheer te kry.
Gister het ons na die skade gaan kyk en selfs na 'n nag van reen, was daar nog orals vuurtjies wat gesmeul het.
Hierde huis was gelukkig en slegs sy heining en hek het gebrand. Ek kan net dink hoe bekommerd hulle moes wees.
Hierdie stapper het hom min gestuur aan die berg wat afgebrand het, hy het nog steeds gaan stap.

Kyk hoe naby die vuur aan die huis gekom het.
Ons gaan loer by Hoy's se koppie in die dorp en dit lyk maar sleg. Hier neem tannie Nell bietjie foto's'.
Hierdie grasdakhuis het heeltemal afgebrand en ironies is dit nie eers naby die berg nie. Blykbaar het die wind 'n kooltjie vuur tot onder in die dorp gewaai wat die dak laat afbrand het.
Volgens mense naby die huis, het dit net 10 min geduur voordat dit heeltemal afgebrand het. Altesaam het 4 huise tydens die brand afgebrand.
Bo op die koppie kyk ons af na nog brandskade. Op die linkerkant van die foto sal julle Hoy's se koppie sien en die skade.
Maar so tussen al die swart roet en smeulende vure, is daar nogsteeds lewe en ek's seker dat die berg baie vinnig weer groen sal wees.

Thursday, September 6

Nr. 250 - Fernkloof staproete

Met Eddie se besoek aan SA vir inskrywings, tuindienste en ander dinge het hy ook oa 'n tydjie gehad om by die Fernkloof roete te gaan stap. Hierdie natuurreservaat is 1800vk groot en in die Kleinrivier berge bokant Hermanus gelee. Hierdie reservaat is in 1957 begin.

In 1977 is oa 'n besoekerssentrum opgerig waar 'n uitstalling is van die blomme wat mens op die roete kan raakloop. Hier is Tannie Nell en Oom Jan Smith (van Onrus) besig om die inligting deur te gaan.

Die reservaat lê aan die noordelike kant van die dorp en het 'n staproete netwerk van omtrent 60 km. Hierdie roetes is vir mense van alle fiksheidsvlakke en gee almal 'n geleentheid om oefening te kry, die vars lug in te asem en die pragtige natuur te sien.

Daar is geen ander plek op aarde waar so baie verskillende plant spesies op so 'n klein oppervlakte gesien kan word nie. In Fernkloof is al 1600 spesies versamel en geidentifiseer - meer as in die hele Brittanje. Hier wys tannie Nell vir Oom Jan iets uit.

Die Fynbos is aangepas by die winterreenval klimaat en kan ook sterk winde (soos dit net langs die Kaapse seekus kan waai) te trotseer. Kyk hoe pragtig fyn en volmaak is hierdie blommetjies.Die drie vat 'n ruskansie om vir die kamera te "pose"

Alhoewel daar nie so baie voels is nie, is daar tot 130 spesies geidentifiseer wat oa insluit die Suikerbekkie, Kanaries en ander wat ek nie die korrekte Afrikaanse name van weet nie soos die Sunbird, Rock Thrush, Cape Batis, Rock Jumpers, Jackal Buzzard en Black Eagle.

Die beperkte woud area rondom die waterstroom is 'n gewilde plek vir saad- en inseketende spesies soos Rameron Pigeon, Flycaatchers en White-eyes. (Ek sal moet gaan naslaan hoe die voels lyk)

Van die staproetes gee mens 'n wonderlike uitsig oor Walkerbaai, Hemel en Aarde vallei en Maanskynbaai.
Fernkloof Natuurreservaat is uniek omdat dit aan die seekus van Hermanus grens, al langs die Kleinrivier bergreeks met 'n groot deel van die Cliff Path area, die Mosselrivier vallei en die area vanaf De Mond na Kettle Point wat die Vogelgat Rivier en deel van die Klein Rivier lagoon insluit. Dit beskerm kusplante, fynbos en 'n klein gedeelte woud.

Ons moenie vergeet van die diere wat daar gekry word nie. Die kanse is goed om bobbejane, klipspringers en dassies te sien en in die aand ystervarkies, hase, muise waarvan die "Cape Spiny Mouse" wat in die Rooi Datalys gelys word. Reptiele word verteenwoordig deur skilpaaie, nege slangspesies (maat lyk na jou tipe staproete) en koggelmanders. Paddas wat die skaars Cape Ghost Frog insluit word ook daar gekry. Die drie wat julle egter op die foto sien is Oom Jan, Tannie Nell en Eddie.

Dis 'n pragtige dagroete solank as die weer saamspeel. En nee Charmaine, mens kan nie 'n donkie saam vat om jou bagasie en water te dra nie. En ek is nie seker of mense met kniee dit sal kan loop nie.

Dankie vir die foto's Eddie. Ek wys later vir julle nog wat hy van die see by Onrus geneem het.