Friday, October 19

Hompe rys, bietjie vleis en bene oor en oor en oor

Na ons baie uitputtende oggende wat eers half twee oor was, was dit tyd vir middagete. Die eerste dag het ons die kos so geloer en gesien dis BAIE arabies en indies. Ok nou wat beteken dit sal julle vra...Ons het twee keuses slaaie, 'n gemengde een (nie soos julle aan gemengde slaai dink nie) en hammous, arabiese brood en dan is daar drie warm bakke - een met hoender, een met mash en een met baie rys met stukkies vleis in. Die nagereg is rooi jellie en wit goed wat dalkies vla kan wees. Wat's die probleem sal julle vra? Niks fout op eerste dag, maar met die volgende middagete staan daardie drie silver bakke weer daar ... en met een kyk besluit ons McDonalds net om die hoek vir middagete. Almal vra waar was julle en ons besluit om aandete maar weer saam met die groep te eet. Genade tog daar staan dieselfde slaai en drie bakke alweer en na 'n vinnige verdwyingstoertjie (nie op konferensie geleer nie) gaan eet ons by ons hotel. Die volgende oggend kla die organiseerders net 80 van die 280 mense het daar geeet ....ek wonder of hulle nie wonder hoekom nie? So kom middagete weer en ons probeer maar saam eet ... ek hoef nie te sê dis dieselfde bakke nie. Party van ons ontdek beentjies in die vleis en ons kan nie die dier identifiseer nie ....Gelukkig kan ons in Afrikaans kla en ons besluit om die volgende dag se middagete by die mall te gaan eet - kan julle glo die Battuta Mall is 3 min van ons, en daar is niks tyd om soontoe te gaan nie.
Die stukkie klink nou na baie herhaling, maar die aandete lyk weer dieselfde en ons besluit om maar iewers iets te eet waar mens groente of iets anders as rys kan kry. Om hierdie baie lang storie kort te maak, die volgende dag se mall eet, val toe ook deur die mat, toe die groep bymekaar wil kom reg in die middel van die middagete breuk en ons is weer aangewys op die drie silver bakke. Ons staan so 20ste in die ry en met die een oog sien ons iets anders ..... chips in die een bak, snitzel in die ander en die gewone rys en vleis. Dankie tog..... maar o wee ....die chips is op toe ons daar kom en die snitzels min, maar darem kry ons. Ons sit aan die tafel van ons groep, baie indiers, 3 Suid-Afrikaners, een Asier, een van Russies oorsprong en een Amerikaner. Eersgenoemdes se borde is tot bo en hoer vol met 'n ekstra bordjie vol snitzels. Die Amerikaner kom sit maar sy was te laat vir snitzels maar kla nie. Ek's nogal omgekrap oor die ongeskiktheid (aangesien mens nie varkerig in hierdie land mag sê nie) van die hompe kos terwyl ander nie kry nie. Dan sê die dame langs Charmaine ewe, "portions too big" terwyl sy die self ingeskep het en sommer twee gevat het. Onmiddellik besluit ek dat Saterdag met die terugvoering ek beslis nie die koeksisters gaan uithaal nie, netnou bly dit ook op bordjies agter soos die snitzels terwyl ander nie kan eet nie.
Maar ons het nie net geeet nie al klink dit so. Na middagete het ek "tricks" vir 'n sessie. Sekere lede van die groep is so vol geprop van die kos dat hulle vas aan die slaap sit en wieg. Nie eers die ou se kunsies hou hulle wakker nie. Hier oefen 'n groep hulle toue en dit lyk amper soos 'n Voortrekkerkamp.Ek het die sessie geniet en hoe om die kinders stories te verstel soos bv van die Drie-enige God dmv toue. (Kyk op kindergroep blog volgende week) Die tieners moet weet, hulle is in vir 'n toertjie of twee.
Charmaine het die clowing bygewoon en sy kom trots vir ons haar "hond" met ballonne wys. Die groene is haar hond en die bloue hoe dit moes lyk. Seker sy sal dit mooi vir ons verduidelik. Na die sessies was dit tyd vir Vrae en Antwoorde by die verskillende kursusse en dan aandete. Die aandprogram het 7 uur begin as ons gelukkig was en daar was allerhande "skits" deur die kursusgroepe, sang en oordenking. Teen tienuur was die dag so te sê klaar. Ek's baie dankbaar dat ons wel in 'n hotel gebly het, en nie op die perseel geslaap het nie. Daardie arme mense het op 'n opblaasmatras geslaap en tussen almal net twee storte gehad. Party was maar erg knorrig aan die einde van die konferensie. As oud Voortrekkers het ons ons dae van grondslaap gehad, en as daar kinders was, sou ons saam met hulle in ongerief gebly het, maar as dit nie nodig is nie .... dan is 'n bed en stort opsie baie baie beter. Die kerkkompleks is egter baie oulik en ek vertel julle volgende keer kortliks hoe dit daar lyk.

1 comment:

Anonymous said...

Ja nee, die hotel was 'n lewensredder. En hierdie mense kan by die Voortrekkers gaan leer kos maak vir 'n groot klomp mense. Ek wil liewer nie te veel dink oor die oorsprong van die vleis nie.