Wednesday, March 25

Die woestynsand hier

Die laaste paar weke het ons nou nie 'n keuse van woestyn toe of nie want die woestyn kom na ons toe. Met die ernstige shamal wind word die woestyn dorp toe gewaai en alles is bo en onder vol sand - een van die dinge wat mens maar moet verduur en geen blink of hoe geboue of geld kan dit wegvat nie. Kyk hier hoe dit verlede jaar hierdie tyd gelyk. Na James se foto en die kinders wat so op die sandvlaktes moes slaap die afgelope naweek het ek geen ander keuse as om oor die woestyn te dink nie. Een van die "in" geskenkies jare terug was 'n raampie met die 7 sande van die UAE en vandag nog kry mens dit in die winkels. In 'n lang verduideliking beteken dit dat al 7 die emirates se woestynsand verskil in kleur van die ander. Nou hoe wil mens dan vra en is dit rerig egtig?! Ek het tussen ons ou en nuwer foto's gaan krap om te sien of ek 'n verskil kan opmerk. Die sand van Ras Al Khaimah is wit en selfs die berge daar vertoon wit.Kom mens by Abu Dhabi dan is dit ligte rooi en dis veral opmerklik as mens in die rigting van Al Ain ry. Natuurlik is daar ook al in die woestyn naby Abu Dhabi rondgejaag en vasgesit in wat vir my maar na witsand lyk. Na Dubai toe kry mens regtig rooi duine en is een van die grootste duine waarop 4x4's met toeriste jaag dan ook bekend as die "Rooi duin". Nelmari was klein en wou so graag daardie baba kammie he toe die foto geneem is. Reg langs Dubai le Sharjah ('n baie deurmekaar emirate) en sy sand is bruin. As mens na die naweek se sand op die kampterrein in Sharjah kyk, lyk dit maar ook rooierig vir my. 'n Paar km verder is dit Umm Al Qwain en volgens die raampies en botteltjies en kaartjies is die sand veronderstel om blou te wees. So het ek dit nog nooit gesien nie, maar miskien as mens jou verbeelding gebruik kan dit blou wees of hoe. Ajman is roomerig en hier waar hulle nog besig was om die souk te bou is die sand nogal roomkleurig. Fuijerah se sand is swart en hier waar James en Leane by die see in Fuijerah staan kan mens dit nogal duidelik sien. Is dit nie besonders dat elke plekkie sy eie kleur met of sonder verbeelding het nie? Nou wat ook al die regte kleure is, die sand wat nou in ons monde waai met die shamal is kleurloos maar dit proe soos sand en die suidooster in die Kaap en Augustus winde in Gauteng is 'n vulletjie teen dit.

10 comments:

Anonymous said...

JIG!!!! Sandra, die sandkleur is rerig interessant! Kan jy nou glo dat jy dit al die tyd op foto's het??? Lekker inskrywing.
BTW - Ek is mal oor al jou foto's...

Muriel said...

Fantastiese inskrywing en foto's en Wip sien kameelperde!!!

Ek is mal oor die foto met die boom in die middel van die straat en kameelperd se kind "cross the street" ;)

Ek stem baie besonders dat elke plekkie sy eie kleur het.

x x

Thea said...

Interessant al die kleure sand! Ek hou ook baie van die foto met die boom in die middel van die pad! :-) En natuurlik die laaste foto van Nelmari met die duine agter haar is stunning!

As jy sĂȘ die shamal is erger as die Suidooster moet hy baie erg wees! Sterkte!!

Nimsi se Blog said...

Het by hier gaan loer... Genade Sandra, hoop julle dra stofmaskers as dit so lyk, om al daai sandstof in te asem kan nie goed wees nie!
Ek dink julle woestyn land is asemrowend mooi! Sterkte met die wind en sand en dankie weer vir die mooi foto's. Ek is ook alweer heeltemal te lank hierso!
Nimsi

Anonymous said...

Dankie Pikkie, dis partykeer lekker om so deur die ou foto's te grawe.

Kamele spesiaal vir jou Muriel! Dink jy nie ook daai kleintjie op die foto is oulik en iets wat mens kan huistoe vat nie?

Thea mens kan se die suidooster met 'n mond vol sand :-). Ek weet ook dat die wind maar lekker daar aan die onderpunt van Adderley Str kan waai.

En vandag is die sand weg Nimsi en is daar reen en haal in die UAE. Nog niks hier by ons in Abu Dhabi nie maar orals anders. En met geen afvoer is reen gewoonlik 'n "vloed".

Anonymous said...

Goeiste my vrou, maar van die fotos is darem baie jare terug geneem.........is ons al so lank hier?

Die ou kindertjies het ook oor die jare groter geword hoor, en die kamele kleiner.

Jan and Miekie said...

'n Heerlike inskrywing! Baie interessant. Wie sou nou kon dink dat sand so kan verskil - soos ons Karroobossies waarvan daar hoeveel verskillende spesies is!

Sandra said...

Die woestyn het ook minder geword Eddie.

Dis soos jy se Miekie en net soos die Karoo het elkeen sy eie bekoring.

Charmaine said...

Dis waar van die land.. selfs in sand is daar kleur en individualiteit. Maar as die stowwe so waai voel dit maar oral presies dieselfde en dan wens mens vir die huis se taai seesand wat net tot by mens se kuite waai... Ek wil ook eendag 'n babakameel he

Sandra said...

En wat sal jou twee bederfde honde-seuns met 'n baba-kameel doen? Fetch speel soos met die kameelperd :-)?