Monday, April 27

Ons is weer kinders

Ons soek 'n kampterrein vir 'n jeugkamp en Al Ain is 'n opsie. Dit beteken ons moet uitry en gaan kyk en dan kry ons ook sommer kans om met die Sandmense daar te kuier. Vicky is egter baie gaaf en gaan doen al die inwin van inligting vir ons, wat beteken ons kan bietjie by Al Ain se dieretuin gaan inloer. Miskien as ons geweet het dit gaan 'n volbloed somerdag in die woestyn was, sou ons dit nie gedoen het nie, nietemin, dit was bloedig maar lekkerrr! Met die aankoms lyk dit maar woestynerig, met beelde van diere as 'n aanduiding daar is 'n dieretuin en op die kaart lyk dit nogal groot maar kyk na die foto waar Nelmari saam met die flaminke is, is dit 'n woestyn?! Hierdie dieretuin is in 1969 amptelik geopen en huisves veral boksoorte en diere van die steek. Ons het lank gestaan en kyk na 'n baba bokkie wat nie geweet het waar sy/haar mamma is nie. Die oryx het besluit om dit sommer te neem en wou haar glad nie afstaan toe die mamma terugkom nie. Dis seker ook een van die min dieretuine waar jy 'n moskee op die agtergrond sal kry. Nelmari lyk baie in haar skik met die uitstappie, kyk net daai gesig. Ek het noual genoem dat dit vreeslik warm was en die diere was maar lui en het op allerhande maniere probeer koel bly. Die meerkatte was egter die mees aktiewe dier in die dieretuin en het vir baie vermaak gesorg. Die een wat ons simpatie gekry het was die gorilla. Nadat sy maatjie onlangs oorlede is, het hy net gesit en wou glad nie eers vir ons deur die venster loer nie. Nelmari en Charmaine het die ou altwee probeer beraad, maar hy wou niks hoor nie. Tussen die hokke is daar darem sulke skadu tente wat lekker is, met sproeiers wat elke nou en dan aangaan en die mense spuit soos hulle verbykom (dis nou soos daai spoeiers wat hulle tydens die maratons ook gebruik). Die voels bo die hok laat my dink aan mense, wat altyd wil wees waar ons dink die gras is groener. Hulle is vry maar drom saam om binne die hok by die ander te wees wat heelwaarskynlik liewers buite wil wees. Lekker London dairy roomys terwyl ons wag in die skadu vir die treintjie. 'n Boom hier gee nie koelte nie, maar wel 'n bietjie minder son op mens se kop. 'n Plek waarnatoe ek nie wou gaan nie was die slanghokke, maar daar is A/C in, so vinnig afkoel voordat ons klaar maak. Aanwysings oor wat ons mag saamneem binnetoe ... kan julle lees wat daar staan? Warm maar lekker gekuier saam met die diere. Nou vir 'n teetjie saam met die Sloans en daarvan vertel ek later.

10 comments:

Nimsi se Blog said...

Maar die foto's op hierdie blog raak net beter en beter!
Nimsi

Sandra said...

Dankie Nimsi. Ek maak hulle maar kleiner dat dit nie solank vir julle ouens vat om dit oop te maak nie.

James said...

Ek het al gehoor die Al Ain diertuin is baie goed en van wat ek van die fotos kan aflei moet ek self maar beslis gaan kyk.

Mariette said...

Ons was so rukkie terug self daar, en dit is 'n lekker uitstappie. Ek kan maar net dink hoe warm julle moes kry want hierdie laaste paar dae was 'n duidelike teken dat somer is hier.

lekker week

Sandra said...

Jy sal moet seun maar maak net seker dis in die "winter".

Die son staan stil nou Mariette. Vanoggend net na 8 was dit al 28 en nou dat dit moet koeler raak is dit 41. HIer kom die somer ....

Desire Fourie said...

Die meerkatte is natuurlik my gunsteling diertjie, hulle het soveel karakter. Ek sien daars 'n paar wildehonde ook. 'n Dieretuin is altyd vir my so depressief, maar dis seker al manier hoe ons diere te sien kry wat ook aan die uitsterf is. Wel, soos hulle in jul snikhete somer in beweeg, bewees ons hier in SA al nader aan die winter. Mooi bly.

Charmaine said...

Dit was vrek warm en vrek lekker en ons sal beslis weer gaan. Dalk het die gorilla dan al 'n maatjie... arme ding

Sandra said...

Ja die ou depressiewe gorilla was nogal sleg vir ons Desire maar die ander het mooi gesond en gelukkig gelyk. Julle moet die koue geniet!

mariki said...

Ok maar sleg as 'n boom nie eens koelte bied nie. Maar nou is dit so 'n troos vir die oog, darem. Kan sommer sien die hitte kry julle nie onder nie.

Sandra said...

Ons moet maar die koerante dophou om te kyk of die gorilla 'n maatjie kry maat en ons kan weer gaan maar in die winter!

Jy's heeltemal reg Mariki ek het nooit so daaraan gedink nie, die bome is 'n troos vir die oog. Met so 'n warm somer kan mens swaartrek as ons toelaat dat die hitte ons onder kry.