Showing posts with label dieretuin. Show all posts
Showing posts with label dieretuin. Show all posts

Sunday, December 29

Nelmari gaan dieretuin toe


Die probleem van so lank in die deel van die wereld bly, is dat iets "allerdaags" hier nie noodwendig vir ander is nie.  Selfs met Nelmari wat nou ampertjies 3 jaar weg is weens studies ... uitgevind "Ma ek was nog nooit by die kinder-dieretuin nie".
Page4
Maak nie saak hoe groot of klein mens is nie, en nou praat ek van ouderdom nie lengte nie, om in 'n dieretuin te wees is om weer klein te wees.
Page5

Een van die beste interaksie dieretuine wat ek al in was en weereens 'n heerlike dag! Nou om uit te vind of William al hier was ...

Sunday, January 20

Iets vir jonk en oud

Dieretuin .... altyd 'n plek waar mens lekker kan kuier!  Elke Vrydag hou ons kerk in die restaurant by die dieretuin en het al 'n paar keer daar gekuier.  Met al die bouery daar, wou ons gaan sien hoe dit nou daar lyk en ..... Nelmari was nog nooit daar nie en sy wou graag gaan.
DSC_0254
Die aansig van die dieretuin is heeltemal nuut gemaak en daar is nou selfs oornagfasiliteite vir mense wat daar wil oorbly.  Hierdie dieretuin het klein begin as 'n kinder dieretuin waar daar interaksie met die diere is, en ek is so bly dat dit nog altyd die hoofdoel is. 

Page1_2
Gewapen met genoeg bosse eetgoed het die kinders gou-gou soos klein kindertjies die diere gevoer en gekuier.  Na die apies het hierdie kameel weggeloop van die troppie om met ons te kom kuier.  Sy het seker al die kos gesien.  Later was een stukkie groen nie meer goed genoeg nie en het sy sommer die hele bos bygekom.
Page2
Die ander diere het ook heel mak kom kos haal om te eet.  Dit is amazing om hulle so naby te sien en ervaar. 
 
DSC_0349
 
Nee, hierdie een bedel nie ... of dit is nie sy bedel gesig nie, hulle lyk altyd so! Seker van die lelikste bokke wat ek nog ooit gesien het. 
 
Page3_2
 
Daar was nog hope om te voer en party het sommer buite die hokke geloop vir kos.  Orals was kinders, groot en klein met gesigte vol glimlaggies besig met die diere. 
DSC_0382
 
Die klomp in die water was die enigstes wat nie gebedel het nie. 
 
Page4_0
 
Die "katte" kon nie gevoer word nie, maar so nuuskierig soos ons vir hulle deur die glas geloer het, so het hulle oor die heining geloer na al die ander mak diere en miskien mense wat 'n lekker maaltyd sal maak. Iets wat vir my ook nuut was, was 'n skilpad wat ook kom blare bedel het.
 
Soos elke ander keer was dit 'n heerlike uitstappie en nou het Nelmari dit ook ervaar.

Tuesday, January 10

Die Oase dorp

Met die land wat so 'n daggie of twee vakansie gehad het oor die Nuwe Jaar en die heerlike koeler weer wou ons 'n slaggie weer gaan kuier in Al Ain, die tuindorp van die UAE. Ek gaan nie weer 'n hele klomp foto's wys en vertel van die dorp nie, net nuwe updates :-).


DSC_0003


'n Besoek aan die dieretuin was eerste op die lysie want mens kan actually nou in die dag in die son loop. Nie baie plekke wat mens kry wat lyk asof die moskee binne die dieretuin is nie.


Page1


Ons kon lekker rondloop en kyk en party het selfs 'n baadjie gedra so koel was dit.


DSC_0058


Berge is daar nie baie in die land nie, dus neem mens hulle af as jy voor, langs of bo-op hulle is.


Page2


Van die dieretuin na nr 2 op die lysie, die berg Jebel Hafet. Hier is daar baie verandering vandat ons laas daar was. Daar is nou 'n pad wat mens kan oploop boontoe en die meisies het dit gedoen en daar is selfs tafeltjies en stoeltjies sou jy wou stilsit in die son. Maar soos orals in die wereld het 'n paar dwase ook hulle name op die berg begin skryf.


Page3


Die sheik se paleis sit nog hoog waar die arende vlieg met 'n hele nuwe uitkyktoring aanbouing op die foto onder regs.


DSC_0085


Ek verkyk my nog elke keer aan hoe groen hulle besig is om die berg en omgewing te maak met hulle aanplantings


. DSC_0088


Orals is daar ook nou inligting oor die berg en wat hulle alles al daar ontdek en uitgegrawe het, dus het die "ons het die berg al gesien" nou baie nuwe stories vir ons gehad.


DSC_0095


En soos mens aan die onderkant van die berg kom is die sproeiers vol oop besig om die berg se nuwe gras nat te spuit.


Altyd lekker om in Al Ain te gaan draai, dit voel nog baie platteland.


Almal wat terug is by die werk, sterkte!!


Monday, August 29

Heerlike wintersdag

Tydens ons paar daggies in Johannesburg is daar 'n paar opsies genoem waarnatoe ons kon gaan, aangesien Nelmari nog nooit daar was nie (elk geval nie waarvan sy kan onthou nie). By die noem van dat daar 'n dieretuin is, was sy al opgewonde en daarom is sy die een gewapen met die kamera hierdie keer :-).


Page2


Ekself was ook nog nooit daar nie, ons het maar meestal Pretoria dieretuin besoek. Nie die mooiste tyd van die jaar wat groen betref nie, maar met die bloeisels en 'n heerlike sonskyndag was dit 'n heerlike uitstappie.


Page1


Die dieretuin se geskiedenis begin reeds in 1904 toe die grond aan hulle geskenk was en eers in 1960 rond het hulle hokke begin bou waar diere in soort van natuurlik omgewing kon bly. Dit lyk asof daar baie gereeld nog hokke opgegradeer word. Hierdie beer het bietjie gefrustreer in sy omgewing gelyk, alhoewel hy 'n pragtige hok het


. Page3


Nelmari het elke liewe dier of diertjie, wat sy gesien het afgeneem, van die voels tot die groot ou olifant.


DSC_0052


Hierdie ou groot "karperd" was 'n treffer by die meisies want hy het die aandag vreeslik geniet.



Page4


Die ouens in die hokke was maar lekker lui in die wintersonnetjie.


DSC_0155


Ons self het die son geniet en lekker gesit en boerewors rolletjies eet en rus.


DSC_0189


Die poue was regtig uit om al die vroue te beindruk en het heerlik vir die kamera 'n vertoning opgesit.


DSC_0197


Natuurlik soos altyd kan mens lang tyd by die apies spandeer.


Page5


So klein soos hulle is, het die meerkatte almal groot pret verskaf met hulle "show" vir die kamera. Dit was 'n heerlike dag om sommer so tussen die diere te kuier.


DSC_0286


Net so voor ons terugvlieg Abu Dhabi toe, het ons ook by die Moyo restaurant by Zoo lake gaan eet. Die meisies wys hulle geverfte gesigte ....


Mooi week vir julle almal!


Friday, April 29

Dit raak warm vir almal

Ek lees van die sneeu op die berge in die Kaap en die lekker koue weer in Gauteng, en hier by ons is die lente in volle swang. Terwyl ek skryf, is dit 7:30 nm en die temperatuur nog steeds 30 grade, dus 'n bietjie warm.


Page1_0


Vroeer die maand was ons vir die maandelikse kerkdiens op die eiland en die water was maar lekker woes (natuurlik woes volgens hierdie ouens se standaard) . Ons het almal lekker nat by die diens aangekom, maar dit was groot pret. Na 'n baie besonderse paasboodskap deur Elriza, het ons soos gewoonlik gaan diere kyk. Dit voel altyd vir my soos 'n bietjie wildtuin.


Page3


Met die lente wat spoed optel, was die diere teen middag maar lekker lam en elke beskikbare skaduwee is gebruik om onder skuiling te soek. Groot hoogtepunt vir ons was die cheethas wat ons hierdie keer gesien het


.DSC_0067_thumb[5]


Hier kan julle sien dat daar darem plek plek lekker bome is. Ek moet noem dat in die hitte, maak bome nie regtig skaduwee soos ons by die huis gewoond is nie, dit bly nog vrek warm.


Page4


Behalwe vir die warm weer, was dit ook die baba-seisoen vir die bokkies en orals het mens mammas en hulle kleintjies of swanger mammas sien staan en/of le.


Page2


Ons het darem ook kans gehad om by die see, waar 'n lekker windjie gewaai het en ander plekke bietjie skadu en aircon te soek. Ek vermoed ons volgende eiland besoek later die maand vir die diens, gaan dalkies minder diere en koelte oplewer.


Page1


En net so 'n week terug met 'n vinnig deurloop by die dieretuin (die kerk word half "onwettig" op hulle perseel gehou*) kon ons sien dat die diere hier ook begin deurloop. Meeste van hulle het gele en slaap en hierdie tier het besluit dat die water vir hom die beste oplossing is.


Die diere kry swaar en ons begin dit ook voel!



* kerke het 'n sekere plek gekry waar hulle kan bou, en enige ander byeenkomste by ander plekke/terreine, waar daar meer as 5 mense bymekaarkom is eintlik onwettig. Die kerk is juis op soek na 'n nuwe "onwettige" plek om dienste daar te hou :-). Die huidige restaurant is besig om te klein te raak!

Thursday, April 30

Warm klippe in Al Ain

Vandat sy klein was, was uiteet by die Spur vir Nelmari 'n groot treat en het sy altyd gekerm sy wil een van die klippe (hot rocks) he. Sy moes wag totdat sy heelwat groter is en toe ... wat gebeur .... spur haal dit van die spyskaart af! So die vreugde was groot oor Vicky wat vir ons plek by 'n nuwe restaurant in Al Ain bespreek het na die dieretuin. Voor die restaurant was daar die interessantste uitstalling met "plaaslike" kuns en juwele.Die meisies kon die versoeking nie weerstaan om van die ringe en armbande aan te pas nie. Crispin was egter meer deur die snaakse pantoffels gefasineer. Van die kunswerke wat te koop was. Nelmari het ook iets gesien waarin sy belangstel. En dan is dit tyd vir ons warm klippe met ons vleis, stysel en groente. Vicky is nie heeltemal seker hoe om die stuk vleis aan te durf nie en moes na die tyd toegee dat dit die beste was wat 'n steak nog vir haar gaargemaak is (sjef Vicky). Nelmari weet natuurlik presies hoe sy haar vleis wil gaarmaak. Al wat sy nog nodig het om haar te verbeel sy is in spur is cream soda koeldrank. Crispin het omtrent vir die kamera "gepose" en my die geleentheid gegee om hom af te neem. Celine hou haar hasies vas en rus bietjie in die koelte. Sy was al een wat nie kon klip nie (Crispin natuurlik ook nie) en dit het my so aan Nelmari gedink, ai om te wag tot mens grootgenoeg is om nie te brand nie .... Celandre het haar eerste "eie" ete gemaak deur hoender op die klip gaar te maak en sy was omtrent trots daarop en alles opgeeet. Nelmari het haar gate uitgeniet met al die hasies en honde by die Sloans se huis en daai foto regs wys hoe lyk iemand na 'n klip-steak en appeltert... tevrede. Dankie Vicky en kinders dit was 'n heerlike dag saam met julle. Onthou Abu Dhabi se Brasiliaanse restaurant saam met ons as julle weer kom!!

Monday, April 27

Ons is weer kinders

Ons soek 'n kampterrein vir 'n jeugkamp en Al Ain is 'n opsie. Dit beteken ons moet uitry en gaan kyk en dan kry ons ook sommer kans om met die Sandmense daar te kuier. Vicky is egter baie gaaf en gaan doen al die inwin van inligting vir ons, wat beteken ons kan bietjie by Al Ain se dieretuin gaan inloer. Miskien as ons geweet het dit gaan 'n volbloed somerdag in die woestyn was, sou ons dit nie gedoen het nie, nietemin, dit was bloedig maar lekkerrr! Met die aankoms lyk dit maar woestynerig, met beelde van diere as 'n aanduiding daar is 'n dieretuin en op die kaart lyk dit nogal groot maar kyk na die foto waar Nelmari saam met die flaminke is, is dit 'n woestyn?! Hierdie dieretuin is in 1969 amptelik geopen en huisves veral boksoorte en diere van die steek. Ons het lank gestaan en kyk na 'n baba bokkie wat nie geweet het waar sy/haar mamma is nie. Die oryx het besluit om dit sommer te neem en wou haar glad nie afstaan toe die mamma terugkom nie. Dis seker ook een van die min dieretuine waar jy 'n moskee op die agtergrond sal kry. Nelmari lyk baie in haar skik met die uitstappie, kyk net daai gesig. Ek het noual genoem dat dit vreeslik warm was en die diere was maar lui en het op allerhande maniere probeer koel bly. Die meerkatte was egter die mees aktiewe dier in die dieretuin en het vir baie vermaak gesorg. Die een wat ons simpatie gekry het was die gorilla. Nadat sy maatjie onlangs oorlede is, het hy net gesit en wou glad nie eers vir ons deur die venster loer nie. Nelmari en Charmaine het die ou altwee probeer beraad, maar hy wou niks hoor nie. Tussen die hokke is daar darem sulke skadu tente wat lekker is, met sproeiers wat elke nou en dan aangaan en die mense spuit soos hulle verbykom (dis nou soos daai spoeiers wat hulle tydens die maratons ook gebruik). Die voels bo die hok laat my dink aan mense, wat altyd wil wees waar ons dink die gras is groener. Hulle is vry maar drom saam om binne die hok by die ander te wees wat heelwaarskynlik liewers buite wil wees. Lekker London dairy roomys terwyl ons wag in die skadu vir die treintjie. 'n Boom hier gee nie koelte nie, maar wel 'n bietjie minder son op mens se kop. 'n Plek waarnatoe ek nie wou gaan nie was die slanghokke, maar daar is A/C in, so vinnig afkoel voordat ons klaar maak. Aanwysings oor wat ons mag saamneem binnetoe ... kan julle lees wat daar staan? Warm maar lekker gekuier saam met die diere. Nou vir 'n teetjie saam met die Sloans en daarvan vertel ek later.