Showing posts with label basketball 2009. Show all posts
Showing posts with label basketball 2009. Show all posts

Wednesday, June 10

Laaste stuiptrekkings van die jaar

Dit hitte tel nou lekker op soos julle in die kantlyn sal sien en almal het hierdie einde van die jaar lam-ek-het-nou-genoeg-van-die-jaar gevoel. Stadigaand het dinge begin afsluit vir die jaar en so is dit ook met die skool. Ampertjies, ampertjies einde van die jaar skoolvakansie. 'n Skool tradisie wat 'n paar jaar terug begin is, is die einde van die jaar sportwedstryde teen die onderwysers en vir 'n paar dae al het ek gehoor hoe onregverdig dit is want die onnies kan oefen en hulle nie. Vanjaar moes ek die Varsity en "Onnie" span ondersteun!

Page3

Die juffrouens was alreeds lekker moeg na die opwarming toe hulle bottels water afsluk, maar met die begin van die wedstryd het ek gesien hierdie is een van die dogters se moeilikste wedstryde van die seisoen, want die skeidsregter sien net geel vir foute en die onnies speel die meisie ipv die bal - weet nie wie hulle afrigter was nie. Daar is darem tyd om vir die lastige kamera ook te glimlag.

Page4

Die dogters werk hard vir elke punt en dis nie sommer oorloop wedstryd nie. Die arme juffrouens roteer mekaar elke keer as hulle uitasem raak en dis nogal baie. Nelmari kry kans om 'n paar doele te skiet en as die 3 lang Suid-Afrikaners die agterhoede dek is daar min onnies wat kan deurkom, al gebruik hulle arms en bene.

Page6

Dit verg elke bietjie taktiek bespreek en die juffrouens begin moeg raak. Sit sommer so net daar waar hulle val die wedstryd en kyk. James wat later speel kyk net rustig terwyl daar genoeg Suid-Afrikaners in die span is om 'n springbok-toeskouer te regverdig.

Page5

Met die toeskouers wat duidelik aan die kinders se kant is wen ons dogters die wedstryd redelik gemaklik. Groot glimlagte aan die einde van die dag vir 'n wedstryd in 'n lekker gees gespeel! Geluk meisies vir die goeie afsluit van die seisoen, lekker rus en ons sien uit na 'n goeie nuwe seisoen!!

Page1

Die seun aan die ander kant teen die mansonnies was 'n riller want die seuns is yslik lank en van die onnies maar kort. (Seunsspan die manne met die blou) Ek moes lag op 'n stadium staan een van die kort menere langs een van die lang seuns en die aanmerking van die kantlyn aan die onnie is "Come on ...., use your height" Die skoolhoof wys dat die leeus op hul neus gaan kry maar dis net wensdenkery.

Page2

Die toeskouers sit op die punte van hulle stoele want die onnies loop amper heeltyd met twee punte voor (ek dink die tellinghouer het so hier en daar gehelp) en in die laaste 5 sekondes van die wedstryd teken die seuns die doel aan om die wedstryd gelykop te laat eindig. Die "ou" manne was lekker moeg :-).

Sunday, March 8

Besige sportnaweek

Nie die beste van sportnaweke vir my nie ... oor die krieket bly ek liewers nog hoopvol doodstil, die 7's praat ek nie oor nie en die Super 14 was plek-plek ok behalwe met my span ..... MAAR .... Nelmari was ook sedert Donderdag oggend besig met 'n basketbal toernooi wat eers gisteraand klaar gemaak het. Drie dae propvol wedstryde tydens die ISAC-toernooi. Skole van Riyad, Dubai, Cairo, Qatar, Kuwait, Egipte en natuurlik Abu Dhabi het meegeding en die kompetisie was straf en moeilik op die spelers, ouers, toeskouers en die afrigter. Die afrigter hou sy kop vas.Donderdag het ons, dis nou AISA (die Lions) hulle eerste wedstryd teen Cairo lekker ver gewen en ons dogters het goed gespeel. Die tweede een teen Kuwait was bietjie moeiliker, maar ons wen ook en daar begin hoop posvat om een van die top 2 gekeurde spanne te wees. Die afrigter wissel sy spelers die heeltyd af om hulle nie moeg te maak nie en as hierdie SA kombinasie opkom moet die ander spanne weet hulle gaan moet hardwerk om 'n doel aan te teken. Minri en Nelmari wag om op te gaan. Aan die einde van die dag speel hulle teen Riyad en kou maar harde bene, ons nerwe is dun want dit bly wipplank ry met 'n punt verskil. Van die spelers op die bank, ons sal nie name noem nie, betwyfel die skeidsregter se beslissing en wys dit duidelik. Daar is ook bietjie ondersteuning van die nuwe PE onderwyser by die skool terwyl sy sussie speel. Defnitief "perks" aan die job want hy kan van bo uit die kantoor kyk en ons moet maar hier onder by die ander sit. Go Lions Go! Vrydag maak ons skoonskip en wen vir Dubai en Qatar maklik. Aan die einde van die tweede dag is ons 2de gekeur. In die kwarteindrondte reken hulle baie maklik met Dubai af en dan kom die finaal teen die skool wat ons die eerste dag teen verloor het, Riyad. Maar die meisies speel hulle harte uit en Nelmari verdedig ook 'n hond uit 'n bos uit. Probeer hier verby kom. Daar is 'n lekker klomp ondersteuners en die AISA Lion is uit sy kassie.
Hoe later hoe kwater en Nelmari kry kans om ook doele te skiet en nie net te verdedig nie. Die span sluit die ISAC toernooi af as algehele wenners! Mooi so Lions!! ons is trots op julle (hulle het vanjaar ook die ISAC volleybal gewen). Woensdagoggend vlieg hulle Oman toe vir nog 'n internasionale toernooi en ons weet sommer dit sal ook goed gaan. GO LIONS!

Saturday, February 21

In en om die huis

Die afgelope week was 'n goeie een van twee van die Holloway kinders. Die derde een daar in Bloemfontein is doodstil en die twee by die huis wil graag spesiaal met hom deel wat met hulle hierdie week gebeur het. William jy beter van jou laat hoor! James het uiteintlik na sy studies en vakansie in SA hier in Abu Dhabi kom kuier om werk te soek. Maar hier kan mens nie sommer net niks doen nie, en ek het hom vinnig nader getrek vir die rol van "Sjef JP" in ons Kindergroep wat op die oomblik besig is met Vrugte van die Gees. Loer bietjie hier. Hier wys hy vir die kinders die liefdes "ster" in die middel van 'n appel.


Die goeie nuus is ook na 'n 7 min onderhoud by sy ou skool, American Internasional School of Abu Dhabi het hulle vir hom 'n goeie aanbod gemaak, en begin hy 1 Maart daar in die PE departement werk. Ek's baie trots op hom dat hy die werk gekry het op sy eie kwalifikasies en repetasie by die skool en nie met "wasta" nie. Die man het besluit om sy behuisingsgeld te gebruik om sy Meester en ook 'n onderwysdiploma te doen terwyl hy werk en sal dus tot tyd en wyl by ons "plak". Dit beteken dat daar ernstig skoon gemaak en weggepak word aan al die seuns se ou goed sodat hy kan nesskop. Wiliam hy kom toe gister op hierdie 9 remotes van speletjies af en blykbaar is dit net die wat nie werk nie. Nou sien ek sommer waar baie van die sakgeld ingegaan het.Nelmari het die heel week wedstryde gespeel en die naweek ook 'n toernooi. Die wedstryde in die week het hulle almal gewen en hoe dan anders met so 'n "pom-pom" ondersteuningsgroep :-). Ons ou tannies het die werk maar sit-sit gedoen. Die naweek se toernooi was teen die sterkste spanne in die UAE nl. ACS (American Community School) die aardsvyand in Abu Dhabi, DAA (Dubai Academy) die aartsvyand in Dubai en UAS (Universal American School ) die skool wat Nelmari verlede jaar van die baan gespeel het. En raai wie wen al drie .... Jip die Lions!!! GO LIONS. Die ACS is die eerste keer deur enige dogterspan van ons skool geklop, DAA is in die doodsnikke geklop en UAS is geklop nadat ons 'n agterstand van 15 punte moes inhaal. Mooi so meisies julle het uitstekend gespeel. Nou wag ons vir ISAC en die toernooi in Oman! GO LIONS!

Friday, January 16

Die knie se eerste toets

Amper 'n jaar terug het Nelmari haar knie tydens 'n basketbaltoernooi lelik seergemaak. Die dr was wonderlik en het besluit om nie te opereer nie maar eerder te werk dat sy haar knie weer opbou. Die voorspelling was dat sy tussen 30-40% kans het om weer ten volle die knie in sport te kan gebruik. Natuurlik moes ons haar vreeslik aanspreek oor die erns van die saak en dit was nie maklik nie maar vir sewe maande moes sy sport los. September het sy gevolleybal en die knie het gehou en uitgesit met sokker en atletiek en nou is die eintlike toets, basketbal hier. Gedurende Desember is daar ernstig in die gym gewerk om te kyk hoe die knie hom gedra. Die eerste wedstryd was teen UAS (Universal American School Dubai) en juis die skool teen wie sy die knie beseer het. Ek kon hoor sy was bietjie bang want sy het gedink om nie te speel nie en vooraf gese sy weier om teen die speler wat haar "gestamp" te speel, maar mens moet jou vrese oorkom. Hier storm sy en Minri op 'n speler af om te verdedig ... Ons kuiermensies was ook daar om haar aan te moedig. Die knie hou en hulle wen 43 - 27 en ek dink sy voel baie gelukkig dat die eeste wedstryd goed afgeloop het. Die tweede wedstryd is moeilik en hulle speel teen hulle aartsvyande ACS. Dis 'n vinnige wedstryd en hulle bly kop aan kop tot die einde. ACS was gelukkig om te wen dink ek. Die volgende dag is dit 'n wedstryd teen Chouifat wat ons 47 - 17 wen en ek kan sien die selfvertroue is besig om stadig terug te kom. Hier is die span saam met hulle afrigters na die wedstryd. Die lojale ondersteuners van die span is 90% Suid-Afrikaners. Die belangrike toernooi is Februarie en nou moet ons net daai knie mooi oppas.