Showing posts with label fonteine. Show all posts
Showing posts with label fonteine. Show all posts

Wednesday, February 18

Abu Dhabi soos ek dit onthou (1)

Vir 'n geruime tyd sien ek die veranderings in die dorpie waar ons bly word meer en meer. Dis ongelooflike verbeterings, maar hulle dink sommer niks daarvan om ou bestaande goed en bakens heeltemal tot niet te maak ter wille van ontwikkeling nie. Van die eerste "ou" goed wat ek wil wys en sommer op rekord kry, is die fonteine, want nog altyd was dit vir my ongelooflik dat mens in 'n woestyn soveel water kry - maar meer oor die water later. En as mens dan eers begin grawe in die ou goed, weet mens nie waar om te begin wys nie. Nou dwaal ek al weer van die fontein af, maar ek moet julle dit ook wys - met die aanplantings om die dorp groen te kry was daar orals in die dorp sulke draadbome. Die raamwerk was van draad en dan was daar sulke gate in waar hulle dan blomhouertjies met blomme ingesit het en dit het gelyk soos 'n boom vol in blom. As 'n houer blomme dood gaan is dit net eenvoudig met 'n nuwe houertjie vervang en die boom was altyd mooi groen. Besoekers is gewoonlik die boom by die ou Breakwater gewys waar ons altyd net 'n foto moes neem. Terug by die fonteine. Behalwe vir die parke was van die mooiste fonteine langs die ou Cornish (dis nou al drie Cornishe terug). Mens kon lang ente langs die see stap en orals was daar al die mooi fonteine. Seker die bekendste een en 'n groot baken was die Volcana Fontein wat 80 m hoog was. In die aand was dit verlig en het die water wat daar uitgekom het, gelyk soos 'n volkaan wat ontplot. Hierdie fontein was summier afgebreek toe hulle die nuwe Cornish gebou het. Die kinders het dit altyd geniet om rondom die fontein te loop en op en af met die trappe te hardloop. (Hulle het nie gehou van die foto nemery nie - of altans een van hulle). Nou hardloop my gedagtes al weer. Op hierdie foto sien julle die volkaanfontein op die regterkant en die linkerkant was 'n teetuin waaroor al die dames in die dorp baie opgewonde was. Vandag is dit natuurlik nie meer 'n tuin nie en is dit half in die middel van 'n baie besige snelweg en nie meer naby die see nie. Ek onthou met een van Charmaine se besoeke het ons daar langs die see gestaan en van haar foto's het in die water gewaai, vandag sien mens nie eers meer die see as jy daar staan nie. Terug fontein toe. Net oorkant die Hilton hotel was hierdie pragtige fontein wat vandag deel is van die hotel se klubfasiliteite. Daardie ronde gebou was die blyplek vir die oliemaatskappy se werkers, maar hulle is nou besig om dit ook af te breek vir iets nuuts en groter. Een van die mooistes vir my was die perelfontein. Charmaine onthou jy daai eerste besoek en die foto's wat ons daar geneem het? Daar is nou 'n perelfontein naby Marina Mall en ek's nie seker of dit dieselfde een is nie. Hierdie koffiekan met klein koppietjies wat vol water gegooi word was ook altyd een van my gunstelinge. Dan aan die anderkant van die Cornish naby die Hilton was daar ook 'n groot park wat twee pragtige fontein gehad het. Let wel gehad het! Die een was 'n aardbol en daar is ook menige foto's geneem waar mense by Afrika staan. Die ander een was van dhow bote en pragtig. Hierdie ou park word nou ontwikkel vir ek weet nog nie wat nie. Hierdie roeiboot fontein was net so besonders. Enige oud-Abu Dhabiers wat wil raai waar hierdie fontein is. In die hoofstraat het 'n klomp "monumente" (of soos James gese het toe hy klein was, ornamente) waarvan hierdie fontein een is. Die kinders bietjie ouer nou maar ook lank terug by die koffiekan. Een van die ander bekende bakens was die Valke-fontein. Hierdie fontein is afgebreek sodat die belangrike gaste 'n reguit pad na die Emirates Palace Hotel kon kry. In die aand was dit verskriklik mooi. Selfs lank terug het ons moeilik gevoel ons is in 'n woestyn as mens so by al die water verby ry. Vandag is daar selfs nog meer fontein en ek sal julle nog wys.