Wednesday, February 25

Die dorre woestyn

Die hitte begin so stadig aan optel en oor drie weke is dit lentedag in hierdie dorp. Vanjaar het ons seker die langste en koudste winter in ons 10+ jaar hier beleef en vandag het die temp metertjie 33 geslaan - heerlilke amper lente weer :-). So orals word daar nou blomme geplant sodat alles mooi kleurvol kan wees. Hierdie foto's is vandag oppad mall toe geneem. Maar dit was nie altyd so nie, want al is hier die mooiste fonteine, is dit 'n woestyn! Die ou sheikh het 'n groot rol gespeel in die "groen maak" van Abu Dhabi toe daar vroeg hy in bewind gekom het, begin is met die aanplant van bome orals.Maar dis nie net vir plant en laat staan nie, want elke blom of boom wat hier geplant word, kry sy eie persoonlike sproeiertjie wat sorg vir water regdeur die jaar. Eers word die grond bewerk, dan kom die besproeiingstelsel en dan die boom, struik of blom. En indien nodig word hulle lekker warm gehou en beskerm sodat hulle mooi groot en sterk kan groei. Ek sal moet jok as ek in al my tyd hier meer as 'n handvol dooie bome gesien het. Ek dink regtig ek het nog net 'n gat gesien waar een uitgehaal is. Op hierdie spesifieke strandjie moes ons sonder skaduwee toe die boompies klein was, en later lekker skaduwee toe hulle groter geword het. Nou is al die bome en struike baie groot. Kyk bietjie hier wat het William in 2007 by die dieselfde strandjie se bome aangevang. Maar vir al die groenigheid en besproeiing is water nodig en Abu Dhabi wat 90% woestyn is, het nie juis natuurlike waterbronne nie. En weet julle wat nog? Met die warm weer wat ons hier kry, het die UAE die hoogste "water consumption per capita" in die wereld in 2006 gehad, en die aanvraag word net meer en meer. En water is nie goedkoop hier nie! So waar kom dit vandaan? Die meeste van die water wat ons elke dag gebruik kom van seewater wat deur 'n streng proses van ontsouting en ontsuiwering gaan. Vir die bome, blomme en fonteine word water gebruik wat vir die tweede keer hergebruik en deur 'n suiweringsproses gaan. Die slim mense se met die geweldige groei in die UAE sal die land slegs 24 uur water he as een van daardie aanlegte moet stilstaan. Daar word ook water so 60 myl van die kus in die Liwa woestyn gepomp sodat die woestyn as watertenk dien om eendag as dit nodig is, die water weer te kan uitpomp vir gebruik.
Maar niks keer hulle om nog steeds aan te plant, fonteine te he en parke aan te le nie. Die doel van die omgewingsdepartement is in hulle woorde : "creating an oasis in the desert" en hulle het beslis in hulle doel geslaag.

12 comments:

Charmaine said...

Jinne maat, dis ongelooflike fotos van die strandjie. Ek is so bly ons het reeds die voordeel van die groter bome. Dit het my net weer laat besef... niks is onmoontlik nie...

Nimsi se Blog said...

Sandra, Jy sal regtig nooit besef watter vreugde ek uit hierdie blog van jou put nie...Dankie dat jy al hierdie dinge met ons deel. Ons is versot op hierdie blog... as ek hier kom kuier vra Willie gewoonlik ewe droog: Het jy genoeg internet geld nooi... Ek kyk en kyk en kyk weer!
Mooi bly en eendag as ek groot is, kom ek daar kuier!
Nimsi

Mariette. said...

Ons het net gister oor dieselfde ding gepraat, wanneer mens in die stad is voel dit glad nie of mens in 'n woestyn land bly nie, en die blomme is nou so mooi bosserig en in vol blom dit is sommer lekker vir die oog en gees.
lekker dag

Anonymous said...

Moet se, hier in Korea plant hulle ook so vreeslik blomme in die lente en somer. As dit net lyk op die outjie wil verlep of verby hul seisoen is, dan word dit uitgepluk en nuwes word geplant! Dis merkwaardig dat mens in 'n woestyn kan bly en soveel plantegroeie en fonteine kan gewaar.

Sandra said...

Ons moet eintlik gaan afneem hoe die strandjie nou lyk maat - ek was daar met William - jy sal dit nie glo nie.


Dan moet jy gou groot word Nimsi dat ek jou die dorp kan wys :-).

Die blomme is nou pragtig. Wat van 'n lentedag tee vir dames Mariette?

Ek sien so baie ooreenkomste met Korea en Abu Dhabi, kaalvoet - selfs die snaakse kossie :-)

Desia said...

Dus, geen naturlike fonteine nie - alles van die see af? Fantasties!

Thea said...

As mens na die pragtige blommetjies kyk, is dit regtig moeilik om te glo dat julle in 'n woestynland bly! Nee kyk, ek stem, waar 'n wil is, is 'n weg! En jy sê 33 grade is amperse lenteweer!! As dit hier 33 is, wil ek al dood van die hitte.

Anonymous said...

Dit klink heerlik,laat weet net waar en wanneer!:-)

Desire Fourie said...

Dankie weereens vir hierdie interessant fotojoernaal. 'n Mens vergeet soms dat dit 'n woestyn is daar by julle. Die Stadsbeplanners verdien definitief 'n pluimpie vir hulle groenbeleid. Eks mal oor jou huidige inskrywings wat die tema TOE en NOU het. Lekker naweek. Mooi bly.

Sandra said...

En die mense is nie juis versigtig waterverbruikers nie Desia.

Die blomme is hierdie tyd van die jaar vreeslik mooi Thea en ja ons lente tel spoed op :-)

Dis een van die dinge waarmee ek beindruk is Desire. Wanneer hulle 'n pad beplan word die tuine ook beplan.

Sal gesels Mariette!

Anonymous said...

Sjoe, dis ongelooflik. Die 'before' en 'after' foto's is vir my ook baie oulik!

Sandra, is jy al getag vir die 'wys jou handsak'-tag? ;-)

Muriel said...

My aarde Sandra mens sal nooit sê dis 'n woestyn as jy so na die foto's kyk nie.

Fantasties!

Lekker naweek
x x