Saturday, May 10

Vlooimark met boerewors rolletjies

Vlooimarkte hier in die dorp is maar skaars en glad nie op die vlak van Hatfield of Groenpunt nie en toe iemand besluit om een by die nuwe woonbuurt Mangrove te begin moes ons natuurlik gaan kyk wat en hoe. Vir die wat sal stry oor die skaars vlooimarkte ... ek praat nie nou van souks nie, ek praat van 'n regte straatmark soos ons by die huis het. Dis warm en die eerste ding wat ons sien/ruik is die boerewors wat gebraai word, lekker man en dit hier in die woestyn! Brian en Trevor het van die slaghuis se wors kom braai en rolletjies en biltong verkoop. Ek hoef nie te se dat daar heeltyd 'n aanvraag was nie. En toe ons eers binne is, hoor mens net Afrikaans en ken amper almal wat daar ronddrentel. Die eerste paar minute loop ons Claudia, Jessica, Winnie, Annemi, Sheryn en Annelize en selfs Mynhardt raak. Gou-gou het Nelmari en Jessica elk een van Charmaine se brakke op die arm en dis ook maar goed want nou wil/kan sy wat Nelmari is, nie so baie koop nie. Daar is nie so baie stalletjies nie en miskien was die hitte ook te veel vir die mense, maar dis 'n begin en dit kan uitbrei na iets lekkers en groots! Miskien kan Nelmari en Jessica ook 'n stalletjie oopmaak wat se Dh5 en vryf 'n chichauhau :-). Die kinders het glad nie omgegee dat hulle mammas shop nie, hulle wou net aan die hondjies vat. Ek moet se dat ek in die hitte die eerste tekens gesien het dat hulle wel hondjies is, hulle tongetjies het verskriklik uitgehang van die hitte en katjies en muise s'n doen dit nie. Behalwe baie mooi kaartjies het ons niks gekoop nie, maar dit was iets anders en lekker om te doen.

No comments: