Wednesday, October 22

Wat het ons toe gekies?

Ons praat nie Arabies, Engels of babataal met haar nie, en sy's so oulik en slim dat sy al in Afrikaans miaau en vir ons luister ... en sy draai ons almal om haar voorpootjie.



Julle onthou dat ek begin van die maand hulp gevra het oor watter straatkat ons in die huis moet neem. Meeste het die swart enetjie gekies en daar was selfs slimmes wat voorgestel het ons moet al drie neem. Wie het ons hart gewen? Ongelukkig het die swart een net verdwyn en ek wil glo iemand het haar mooi lelike gesiggie gesien en gevat en dat dit nie 'n motor was nie. Dit los ons toe met die gemmer-tweeling. Ons het hulle mooi "ge-human-train" en die krisesbesluit moes geneem word, watter een? Groot genade ... 'n sms van Vicky, is die gemmer nog beskikbaar. Ai tog was ek bly. Ek vertel hulle mooi dat altwee nou huis het en ousus was vir oulaas vir kleinsus voordat sy gaan. Vicky en Greg kom haar sommer dieselfde aand haal met haar eie kombersie. Kyk die Sloans is lief vir hulle diere en ek weet sommer dat groot-gemmer 'n baie goeie huis sal he. Vicky het vir my die oulikste storie oor 'n hoender vertel wat julle net moet hoor. (Vicky as jy dit nie gaan blog nie, gaan ek!!) Die terugvoering van daardie kant is dat gemmer die huis op horings het, die ander katte glad nie vrede gemaak het met hierdie een nie en dat die hond ook 'n klap of twee kry ... maar dit lyk asof sy haar min aan alles steur want sy is Chrispin se katjie en hulle twee kan al lekker saamslaap. Hier by ons word die nuwe baba ook maar moeilik deur die ander bederfde straatkat aanvaar, maar Begeera is 'n regte ouma en wil die kleinding se ore net was ~ natuurlik hou sy nie daarvan nie. In die begin is die foon half haar mamma en sy leer gou dat 'n huiskat is heelwat ryker as 'n straatkat. Jy hoef nie water te soek nie, jy het jou eie bottel. As ek moeg gespeel is, suig ek my dagmamma se vinger totdat ek slapies. Kyk dis lekker om 'n huiskat te wees .... aangename kennis my naam is Dawn (vir my kleur en my volle naam is eintlik Delta Dawn).

12 comments:

Anonymous said...

Ek bid net vir genade..................baie genade! Geen krag nie, net genade.

PS!En dan het die dingetjie al leer lief word vir droewors ook, al steek jy dit weg.

Desire Fourie said...

Ag hene, die katjies is gans te oulik en eks bly die een het 'n goeie huis gekry, nie te praat van Delta Dawn nie ... lekker gemaklike lewe, die katlewe ne!

mensesondergrense said...

Hi Sandra. Bly jy het die fotos van Vicky en Crispin geplaas. Spoor hulle tog aan om meer te blog. Ons verlang so na hulle en kyk elke dag of daar nie 'n nuwe blog is nie. Die katjies is te pragtig. En dit van iemand wat gladnie lief is vir katte nie. Probeer ook nog om die scrap ding te doen, maar ons landbouklasse het nou weer begin en daar is huiswerk om te doen ook. Waar kan ek die boek kry wat julle gebruik vir die scrap? Groete, Annatjie Nortje

Sandra said...

Eddie bid is goed!Dawn sal nou gebruik word om droewors uit te snuffel as dit iewers gebere word :-).

Desire as ek eendag kon terugkom, sou ek nie omgee om as 'n kat in hierdie huishouding terug te kom nie :-). Die goed is regte
(s)kattebolle.

Sandra said...

Annatjie jy sal dit nie glo nie, maar ek's eintlik ook nie lief vir katte nie :-). Ek weet daai Sloans is stadig as dit by die blog kom, ek sal maar hulle stories moet vertel.

Ek bestel gewoonlik my boeke van Amerika of Australie en sal vir jou die detail mail. Jy moet Sondag kom loer hoe mooi lyk Vicky se prent, ek was soooo beindruk!

mariki said...

Welkom aan kattekind DD!

Ek het hierdie ding van baie lief wees vir diere, maar ai, die moeite met die versorging...Miskien het ek te veel kinders gehad...

Anonymous said...

Mariki dit voel partydae vir my soos 'n dieretuin hier. Alhoewel Nelmari soos 'n tipiese tiener nie erg het aan "werk" nie, is sy baie toegewyd om die diere te versorg. Sy moes eers bewys sy kon en nou is sy 'n uitstekende "mens-mamma" vir Pixie en Dawn. Ek het dus nie 'n groot plig met die versorging nie.

Muriel said...

Ag dis te cute! Ek is bly die enetjie het 'n goeie huis gekry!

x x

Anonymous said...

Wat bedoel jy "die enetjie het 'n goeie huis gekry" hmm? Ons gee vir die ander enetjie ook 'n goeie huis :-)

mariki said...

SĂȘ haar, Sandra. Sy is 'n mooi ene om te praat: gooi mos haar blogvriende met een ongenadeslag weg vir 'n nuwe stokperdjie...

Anonymous said...

Sy doen ja Mariki en dan blameer sy sommer nog ons klomp in Abu Dhabi daarvoor :-). (Sy mag nie weet dat ons haar blog baie gaan mis nie :-), daar is net een Muriel)

Anonymous said...

Ai ek kan nie wag om die dingetjie vas te hou nie. Ek voel skoon ek het ernstig uitgemis. Nelmari jy is ook 'n goeie mamma vir Didi en Taffee. Dankie maat en Nelmari dat julle die week so mooi na my seuns gekyk het. Muriel wat hoor ek van weggooi????Dit kan mos nie gebeur nie jongie.