Sunday, August 5

Wie is nog 'n jaar jonger vandag?


Tannie Omie
Baie geluk met jou verjaarsdag vandag!!
Hoop dis sommer 'n baie spesiale mooi dag vandag. Mag die nuwe lewensjaar net mooi dinge, baie goeie gesondheid en groot seeninge inhou!!
Ons sien uit daarna om julle Januarie te sien.
Liefde
Sandra en al die Holloways

Saturday, August 4

Nuus uit die dorpie - Alweer die grootste

Verlede week was dit die hoogste gebou en vorige keer het ek al vertel van die grootste vlag ... en hierdie week is dit die grootste mat ter wêreld!!!

Die mat is die grootste handgeweefde mat ter wêreld en sal in die Sheikh Zayed Bin Sultan Al Nahyan Moskee wat in September amptelik open gebruik word. Hierdie tapyt het die munisipaliteit Dh30 miljoen (R50 miljoen) uit die sak gejaag.

Hulle het 40 ton Iranian en NZ wol en katoen gebruik vir die 5,700 vk meter tapyt. Dit het 1200 werkers 18 maande geneem om die groen en room kleur mat te maak. Ek weet nie of julle wil weet nie, maar die mat bestaan uit 9 stukke wat hier in die UAE aan mekaar gewerk sal word. Dis vir die eerste keer oopgerol in Tehran se bid gronde, Mosalla waar helikopters foto's uit die lug van die mat geneem het. Die foto bo het ek in die Gulf News gekry want daar is geen maar geen kans dat ek binne die moskee toegelaat sal word om foto's te neem nie.


Die mat sal in twee vliegtuie UAE toe gevlieg word saam met vier groepe mense wat die mat hier aanmekaar sal sit en skoonmaak. Nodeloos om te sê dat hierdie mat deur die vervaardigers verseker is tot met aflewering. Hier is 'n deel van die moskee waaraan hulle nog ernstig werk.



Dit voel vir my hulle bou al aan die moskee vir tien jaar en miskien is dit ampertjies tien. Hier is 'n foto soos dit vandag op hierdie Saterdag lyk. Ek het foto's van toe hulle begin het, maar dis omtrent twee rekenaars gelede en ek moet dit soek. Daar is nog baie werk na September se amptelike opening ...ten minste het hulle die mat!!




Friday, August 3

Soet .... sonde

Na die ete by Rodeo Grill het ons meisies in Abu Dhabi mall gaan loop op soek na 'n spesifieke kleur bloesie by 'n romp. Ongelukkig omdat dit Vrydag is, was meeste van die winkels nog toe. So besluit ons om gou 'n koffie te gaan drink en miskien maak die winkel wat ons by wil wees oop.

Een van die lekkerste koffiewinkels met die mooiste uitsig oor die swemarea van die Beach Rotana Hotel.


Seattle Koffiewinkel .... ek weet daar is/was een in Menlyn ook.
Hier is die swembaddens met 'n deel van die see deur die venster afgeneem.
Die boot met die piesang agter hom. Julle sal ook 'n stukkie van die eiland sien wat nou ontwikkel word met groot woonstelle, winkels, ens.

Hierdie houtdek is in die middel van die swemarea in die see.

Die hotel se klein hawetjie waar hulle allerhande soorte watersporte beoefen.

Na die groot ete het ons nie eintlik plek vir nog nie, maar ons bestel wel een versoeking cinnamon bun saam met die Chai tee.

So soet mens se ore beweeg. Hier word hy mooi in die helfde gedeel. Nelmari het nie belang gestel nie.

Al is ons hoe versadig word die soet nog uitgelek ook. Mens kan partymense ook nie altyd orals neem nie. As sy nie sjokolade mors nie, lek sy die borde uit. Ek sal liewers nie name noem nie. So het ons toe nie die bloesie gekry nie, maar erg ongemaklik gevoel van al die eet.




















Thursday, August 2

Ons eet lekker

Met ons aankoms in Abu Dhabi (amper tien jaar gelede), was daar g'n malls nie. So moes ons met koelboks en als een keer 'n maand Dubai toe ry om "op te stock". Dit was 'n slegte rit want die gemaklike paaie van nou was nou nie daar nie en die ou pad was soos 'n kameel se rug vol hobbels wat jou ten minste 'n twee uur rit sou waarborg. Dit het gelukkig verbeter en so ook die feit dat ons nou baie meer malls in Abu Dhabi het en dit nie nodig is om Dubai toe te gaan nie. Maak nie fout nie, daar is indrukwekkende malls in Dubai wat ek julle nog sal wys, maar dis 'n besige plek daardie en natuurlik piekel al wat toeris is Dubai toe wat dit nog VOL maak ook. So bly ek liewer op die eiland (Abu Dhabi) en geniet ons malls in relatiewe stilte.



Ek praat baie van Marina Mall, maar het julle nog nie eintlik vertel van Abu Dhabi mall nie. Hier is 'n prentjie van die bokant van die mall wat ook deel uitmaak van die Beach Rotana hotelgroep. Dis nou nie eintlik my gunsteling van malls nie, want dis b-e-s-i-g en w-o-e-l-i-g maar van tyd tot tyd soek mens ietsie daar.

Wat wel by die mall is, is my gunsteling restaurant Rodeo Grill. Ek glo hier kry mens die lekkerste stuk vleis in die UAE. Die naweek was dit dus lekker om weer bietjie daar te gaan eet. Hier is die kinders ernstig besig om die spyskaart te bestudeer.

Loer bietjie saam. Ek's nie so op hoogte wat 'n stukkie steak in 'n restaurant nou by die huis kos nie, maar hier sal 'n lekker vleisie ons tussen Dhs170 - Dhs280 (R300 - R480) per persoon kos. Dit sluit darem groente en 'n sousie in. Dan praat ek nie eers oor die drinkgoed nie. Indien jy so dom wil wees om wyn per glas te bestel sal dit jou Dhs30 (R50) vir 'n glasie wyn kos. Ons het buiten die koeldrank ook 3 bottels water teen Dhs72 (R130 vir water!!!) betaal.
Wat sal hierdie glimlag van Nelmari beteken? Sy's reg om te bestel ...
William besluit nog maar kry kans om vir die fotograaf tong uit te steek ....
Die lekker vars, warm gebakte broodjies en botter kom. 'n Lekker verskeidenheid om van te kies, tot pampoenbrood. Kos is op die tafel. William loer na Eddie se bord om te sien wie het die grootste steak. Hy eet 'n Bison steak.Die res van die groep met my bord ook.

Na die tyd kry ons heerlike "ys" sjokolades wat BAIE lekker is. Dis net verskriklik moeilik om te eet en party van ons, mens sal nie name noem nie ne Charmaine, kan nogal verskriklik mors met hierdie sjokolades. Soos gewoonlik was die Rodeo Grill se ete heerlik.















Wednesday, August 1

Wild wadi

Net voordat julle dink dis net ek wat in die dorp rondry. William, Arina en Elma het bietjie die Wild Wadi in Dubai besoek. Meeste van hierdie foto's is met sy foonkamera en 'n waterkamera geneem, so die kwaliteit is nie so goed nie.

Die waterpark is 12 hektar groot met 30 "waterrides". Dis tussen die Burj Al Arab en Jumeirah Beach Hotel gelee en so 20 min vanaf Dubai middestad en 90 min vanaf Abu Dhabi. Dis die Jumeirah Beach Hotel wat op die regterkant uitsteek.

Almal kry sulke waterdigte armbandjies met jou geld daarop geprogrameer. So kan jy jou drink en eetgoed betaal sonder om kontant byderhand te hê. Maar mense dis baie duur. Water bv kos Dh 9 (R18) en 'n Roomys Dh10 (R20)!!!! Nadat jy die toegang van Dhs170 (R320) betaal dink ek nie mens is meer lus vir water nie. Jy kry egter die geld wat jy nie gebruik nie, terug as jy klaar is. Hier wys Arina haar armband by die ingang. Die streeptruie het so na Nuweland gelyk. (Ek weet sy is 'n Blou Bul ondersteuner - arme kind)

Dis die "Fossil Rock" wat elke uur om die uur met 60,000 liter water opgevul word om 'n groot waterval te vorm. Dit gaan gepaard met klank en ligte en 'n baie gewilde besienswaardigheid by die park.

Hierdie is die Jumeirah Sceirah, die hoogste, vinnigste vry-val glybaan buite Noord-Amerika wat jou met 'n spoed van 80 km per uur laat afkom. Dit is 33 meter lank!! Ongelukkig geen foto's op die glybaan nie, kameras en fone was om verstaanbare redes nie toegelaat nie.Die Summit Surge en Rushdown Ravine is 'n kombinasie van glybane en ietwat anders. Die water skiet jou op hierdie bane boontoe na 'n swembad area en dan af met 'n 170 meter, styf-vashou rit.

Hier begin William se rit boontoe. Hy loer nog agtertoe en ek weet nie hou hy al styf vas nie.Hier vat hy dit rustiger op die Juha's Journey. Dit is 'n 360 meter lange lazy river waar mense van alle ouderdomme net rustig met die rivier kan vaar. Lyk na my tipe rit.
Die meisies BRAAI in die hitte en daai duur waterbottel lyk vir my baie leeg. Arina kan jy dink jy het 'n week gelede so warm gekry en nou sit jy in Ierland en koud kry?
Die drie van hulle afgeneem voor die familie/kinder aktiwiteitspark - die Juha's Dhow en Lagoon. Daar is 100 waterspeletjies wat 5 glybane, watergewere ens vir die kleintjies het. Alles is baie kleurvol en die kinders kan ure van lekker pret daar hê. Die drie het nie daar gaan speel nie.
Ek kan nie verskriklik goed onthou waar hulle die foto geneem het nie, maar dit lyk vir my baie nat en Arina steek amper net-net bo-kant die donut uit.
William by dieselfde plek net sonder die donut - miskien het hy dit geeet.
Aaaai ek het dit, dis by die Flood River (wat dit ookal beteken) geneem. Hier is William en Arina lekker nat.
Dit begin nou lekker donker raak (so 8 nm). Hierdie is Breakers Bay en hier kan mens "surf" as jy sou wil. 100,000 liters water word hier gebruik om branders van tot 2 meter hoog te maak.Selfde plek net later in die aand. Op die agtergrond die Jumerah Beach Hotel.