My eerste ysskaats-vertoning was baie baie jare terug by die Goodwood Ysskaatsbaan, toe internasionale groepe gereeld ‘n “show” soontoe gebring het. Ek kon my verkyk daaraan. Nooit gedink dat ek in die woestyn, midde in ‘n lekker sandstorm weer langs ‘n ysskaatsbaan sal sit om na ‘n internationale vertoning te kyk nie.
So twee aandjies terug was ons gelukkig genoeg om die wereldberoemde Steve Wheeler se groep hier in aksie te sien. Mag slim klink, maar ek het nie eintlik van die man geweet nie. Hy staan bekend as die wereld se beste ysskaats “illusionis”. Hierdie ou het ‘n lys so lank soos my arm van TV-shows en ander vertonings wat hy al vir baie jare aanbied op die "planke/ys" bring.
Dit was ‘n vertoning van ligte, kleur, uitstekende skaatswerk, ongelooflike kostuums en besondere kultoertjies.
Die skaatsers is ook nie sommer hierjy mense nie en die paar was ‘n paar jaar gelede die Amerikaanse Skaatskampioene – mens kan dit sommer sien.
Om foto’s te neem was uiters moeilik met die wit van die baan, die silwer van die dak en al die ligte en rook wat gedurig verander, maar ek dink darem julle kan ‘n prentjie kry van die vertoning.
Hierdie vrou het met een hoepel begin en later ‘n hele klomp gehad. Hoe sy kon skaats en hulle in die rondte draai gaan my verstand te bowe – maar dit was mooi.
Daar was gereeld tussen-in sulke toertjies en hierdie een was ‘n skaatser op ‘n mespunt.
Net so ‘n paar daggies terug het ons die dvd "Cutting Edge" gekyk en hierdie toertjie het ons van voor af na ons asems laat snak – veral sekere van ons.
Nog toertjies het gevolg en die laaste een was van ‘n ou wat in ‘n boks met skerp lemme toegesluit word en dan word hy gespin en die volgende oomblik staan hy bo-op die pawiljoen regs langs ons en net voor die royals wat hulle yskoud geskrik het. Dit was regtig ‘n hoogtepunt afsluiting.
Mens vertel moeilik hoe dit lyk en voel, maar as jy in Abu Dhabi of omgewing bly (ja julle ouens daar in Al Ain en Dubai ook), gaan kyk gerus. Vicky die kinders sal dit verskriklik geniet. Die vertoning is elke aand om 8 uur by die ysskaatsbaan tot 15 Augustus.


