Showing posts with label ISAC. Show all posts
Showing posts with label ISAC. Show all posts

Saturday, October 17

Ai, wat’s volgende

Dis 'n sportdag soos min met halfeindstyde orals. Selfs daar in Oman waar die kinders tans besig is met hulle volleyball toer is dit die dag van halfeindstryde. Ongelukkig kan ons slegs die rugby op TV volg, maar in die gees is ons ook by ons Lions en hou styf duimvas vir die eindstryd. Dis omtrent waar die ooreenkomste eindig want "my" spanne se voorbereiding was toetentaal verskillend. Waar die rugbyspelers hard voorberei het, het die dogters besluit om die aand voor hulle vlug hulle naels te laat doen.

Page6
Ok onder normale omstandighede is dit 'n heel girly ding om te doen, maar voor 'n toernooi wat die meisies se naels nagegaan (en selfs geknip word as dit te lank is) en waar die bal die naels kan breek, en en en .... hoe normaal is dit?


Omdat die tipe "besighede" agter geslote deure en gekleure glasvensters plaasvind, was die plekkie nogal 'n groot verrassing - siende dat ons ook gereeld by die deur verbystap in die sentrum. Alles, glo my net mooi alles was in die ses kleure van die plek en met 'n waterfontein in die middel en sagte musiek wat speel was dit regtig 'n besonderse atmosfeer - totdat die dogters, direk na hulle wedstryd teen die onnies lawaaierig daar inloop. Ek dink nie die plek gaan ooit weer dieselfde wees nie.

Page2

Nadat ek "toestemming" gekry het om foto's te neem - only the girls mam, het ek 9 baie ywerige modelle gehad. Dit was hande en voete wat behandel is .... ja die voete moes ook gedoen word ... en ek het gewonder wie die toonnaels in die "span-kleure" gaan sien tydens die wedstryd waar hulle veronderstel is om volleybal skoene te dra!

Page4

En toe die soektog om die regte "blou" te kry vir die naels! Wat ook 'n geskarrel afgegee het is dat die dogters "lion-paws" en in goud nogals ook op die naels wou he. Nelmari was die proefkonyn vir die eerste paws en daarna is almal s'n gedoen!

Page5

En ja .... die voete het ook "paws" gekry :-). Amper drie uur later het daar 'n stilte oor die salon gesak toe die "lionettes" (nou is hulle nie meer lions nie) met hulle blou en goue paws uitstap oor die glasvoer met klippertjies - reg vir die toernooi!!

Of dit vandag gaan help weet ek nie, ek kan net se....


GO LIONS of LIONETTES

Sunday, March 8

Besige sportnaweek

Nie die beste van sportnaweke vir my nie ... oor die krieket bly ek liewers nog hoopvol doodstil, die 7's praat ek nie oor nie en die Super 14 was plek-plek ok behalwe met my span ..... MAAR .... Nelmari was ook sedert Donderdag oggend besig met 'n basketbal toernooi wat eers gisteraand klaar gemaak het. Drie dae propvol wedstryde tydens die ISAC-toernooi. Skole van Riyad, Dubai, Cairo, Qatar, Kuwait, Egipte en natuurlik Abu Dhabi het meegeding en die kompetisie was straf en moeilik op die spelers, ouers, toeskouers en die afrigter. Die afrigter hou sy kop vas.Donderdag het ons, dis nou AISA (die Lions) hulle eerste wedstryd teen Cairo lekker ver gewen en ons dogters het goed gespeel. Die tweede een teen Kuwait was bietjie moeiliker, maar ons wen ook en daar begin hoop posvat om een van die top 2 gekeurde spanne te wees. Die afrigter wissel sy spelers die heeltyd af om hulle nie moeg te maak nie en as hierdie SA kombinasie opkom moet die ander spanne weet hulle gaan moet hardwerk om 'n doel aan te teken. Minri en Nelmari wag om op te gaan. Aan die einde van die dag speel hulle teen Riyad en kou maar harde bene, ons nerwe is dun want dit bly wipplank ry met 'n punt verskil. Van die spelers op die bank, ons sal nie name noem nie, betwyfel die skeidsregter se beslissing en wys dit duidelik. Daar is ook bietjie ondersteuning van die nuwe PE onderwyser by die skool terwyl sy sussie speel. Defnitief "perks" aan die job want hy kan van bo uit die kantoor kyk en ons moet maar hier onder by die ander sit. Go Lions Go! Vrydag maak ons skoonskip en wen vir Dubai en Qatar maklik. Aan die einde van die tweede dag is ons 2de gekeur. In die kwarteindrondte reken hulle baie maklik met Dubai af en dan kom die finaal teen die skool wat ons die eerste dag teen verloor het, Riyad. Maar die meisies speel hulle harte uit en Nelmari verdedig ook 'n hond uit 'n bos uit. Probeer hier verby kom. Daar is 'n lekker klomp ondersteuners en die AISA Lion is uit sy kassie.
Hoe later hoe kwater en Nelmari kry kans om ook doele te skiet en nie net te verdedig nie. Die span sluit die ISAC toernooi af as algehele wenners! Mooi so Lions!! ons is trots op julle (hulle het vanjaar ook die ISAC volleybal gewen). Woensdagoggend vlieg hulle Oman toe vir nog 'n internasionale toernooi en ons weet sommer dit sal ook goed gaan. GO LIONS!

Saturday, March 8

Kort toernooi vir Nelmari

Soos met enige sport werk mens mos maar op na 'n hoogtepunt toe, en hier met die basketbal is dit die ISAC toernooi. Dis wanneer skoolspanne van ander lande teen mekaar deelneem. Die afgelope paar weke wou Nelmari nie ski Dubai toe gaan of met track and field begin nie, net ingeval sy seerkry en die ISAC toernooi mis. Met groot opwinding is daar dus Donderdag Dubai toe vertrek. (Groot genade dat hulle nie hierdie jaar in die buiteland speel nie)
Die meisies besig om op te warm voor hulle eerste wedstryd. Slegs tien spelers per span word in die toernooi toegelaat, so van die spelers moes agterbly. Al 4 Suid-Afrikaners is egter gekies om te speel.
Die eerste wedstryd is teen die tuisskool en Nelmari en Minri verdedig 'n hond uit 'n bos uit. En as hulle by hul verbykom wag Jessica nog.
Nelmari in die lug besig om 'n doel te skiet.
Dis 'n harde wedstryd met 'n bietjie "vuil" spel en die maskot en span lyk bekommerd en nie verniet nie ....
Nelmari word afgehelp nadat sy "per ongeluk" val en haar knie beseer. Ek wonder hoe sag moet 'n stampie wees as iemand wat soveel groter as die teenstaander is, plat val?
Sy's uit vir die wedstryd en saam met haar op die bankie sit twee ander SAfrikaners wat ook beserings opdoen. Lyk my die vraag is "hoe wen mens 'n toernooi? - jy skakel die Suid-Afrikaners uit?" Nodeloos om te se die span verloor die wedstryd, alhoewel net met een punt.
Het Nelmari ore? Nee! Sy speel in die tweede wedstryd en moet vroeg afgaan. Gelukkig wen die span die wedstryd.

Wanneer Nelmari Maandag terug is van die toernooi wat sy nou in 'n rolstoel/krukke bywoon, en nie iets wil mis nie, sal ek 'n update oor die knie en hopelik foto's van gebeure gee.

Wednesday, January 9

Sokker, liewer laat as nooit

Nelmari gee my al 'n harde tyd omdat ek nog nie vertel het van hulle ISAC Sokkertoernooi wat plaasgevind het nie. Nou kan die ma nie heeltemal al die detail onthou nie, maar hier is van die foto's wat van haar gedurende die toernooi geneem is vir die oumas en tannies.
ISAC is 'n internasionale skool toernooi waar kinders van skole van oa Egipte hier kom speel. Die van julle wat die blog volg, weet dat ek nie verskriklik positief was oor die sokkerspan se seisoen nie en was aangenaam verras toe hulle die eerste wedstryd wen. Hier wys Minri hoe bly sy is. Nelmari langs haar op linkerkant.

Die span lyk heel in hulle skik met hulle self.
Einde van nog 'n wedstryd en die span is goed op koers en oortref my en die ander ouers se verwagtinge.
Gelukkig vir Nelmari het sy haar boetie wat bietjie gekwalifiseer is in sportbesering om haar enkels te verbind. Lyk of sy dit geniet.

Hier kom sy die veld af met die bal
Teen Al Nahda skop sy die bal veldaf van die middellyn en raai wat ...?

Hy gaan tot binne die doelhok. Nelmari kan dit skaars glo.

Hier omhels sy en Jessica mekaar want sy was veronderstel om die bal vir Jess te skop ipv die doelhok.Sy gooi die bal in
Hier neem sy 'n hoekskop. Nelmari het gedurende toernooi nog 3 ander doele ook van die middellyn aangeteken --- ek weet nie of een regtig beplan was nie, maar dit maak nie saak nie, dit tel alles punte.
Die langste en kortste in die span vat 'n ruskansie. Hierdie klein nr 4 is 'n regte doring in baie se vlees, sy is orals al onder die opponente se voete.
Die span verras almal en speel in die eindstryd teen Egipte. Hier ding Nelmari en een van die spelers mee om die bal.
Moeg na twee dae se baie wedstryde .... maar baie gelukkig dat hulle 2de geeindig het.
Die span was ook goeie ondersteuners van die seunsspan wat ekstra tyd moes speel en daarna ook tweede geeindig het.
Die twee afrigters wat werklik wonders verrig het hierdie seisoen met die span, sit by die trofee
Hier is die span in die gym afgeneem. Die twee kinders in gewone klere het albei gedurende die seisoen ernstige beserings opgedoen, maar die span nog steeds in elke wedstryd ondersteun.
Daarna is dit pizza tyd!!!
Baie Geluk AISA JV Sokker Lions ons is trots op julle!!!
Kry ons nou rus van sport? O nee, die basketbal proewe is gister gehou, so na die eksamen sit ons ouers weer langs die kantlyn, net van 'n ander sport.

Tuesday, April 24

TERUG van Kuwait

Vroegoggend ure het die Pluimbalspan van Kuwait moeg maar tevrede teruggekeer. Met 'n ernstige OPDRAG om seker te maak julle neem foto's is hulle hier weg. Ons was nog nie eers by die deuruit nie of alreeds was die twee aan die stry oor wie die kamera moet hĂȘ want nie een van die twee wou foto's neem nie. Ek was egter aangenaam verras dat daar wel foto's geneem is wat ek met julle kan deel. William besig met een van sy wedstryde - met sy kenmerkende GEEL skoene. (As hy nie geel skoenie dra nie is dit geel sokkies, maar gewoonlik herken jy hom aan sy bene of voete)
Van die toeskouers. Selena heel waarskynlik besig om Will se wedstryd te volg.
Dan is die Nelmari se beurt vir 'n wedstryd. Sy het slegs een van haar enkelspelle verloor en het 'n goeie toernooi gehad.
Die juffrou nog steeds vol energie en dit lyk my die kinders het haar permanent met soetgoed soos sjokolade koekies van Starbucks gevoed. Al die suiker kon nie goed wees nie.
Hoekom my kinders ook sulke snaakse name in die sport moet hĂȘ, ons het Groenie die draak wat in Bloemfontein sokker speel en die Gifappeltjie in Kuwait.
Nelmari slaan af in die dubbels. Haar skoene is weer "normaal" alhoewel mens haar herken aan die PERS skoenveters.
Die pluimpie word gemoker. As ek deur my vaak ore vanoggend vroeg reg gehoor het, het die dubbels ook net een wedstryd verloor.
Hier gaan haal sy die pluimpie in die hoek van die baan en slaan hom oor.
William kry ook die pluimpie geslaan in sy dubbelswedstryd.
Sy gemengde dubbelsmaat Amy koes vir die verbyhou (mooi foto Nelmari). Hulle het ook 75% van hulle wedstryde gewen.
William wag vir die pluimpie om na hom toe te kom.
Die Varsity meisies en seuns eindig algeheel TWEEDE. Baie geluk ouens. GO LIONS!!! Ons JV Meisies (Nelmari hulle) het ook tweede geeindig maar die kameraman was besig met sy eie vieringe. Geluk ook meisies en geluk AISA met 'n goeie toernooi