Showing posts with label ADSAC Minri. Show all posts
Showing posts with label ADSAC Minri. Show all posts

Wednesday, January 9

Sokker, liewer laat as nooit

Nelmari gee my al 'n harde tyd omdat ek nog nie vertel het van hulle ISAC Sokkertoernooi wat plaasgevind het nie. Nou kan die ma nie heeltemal al die detail onthou nie, maar hier is van die foto's wat van haar gedurende die toernooi geneem is vir die oumas en tannies.
ISAC is 'n internasionale skool toernooi waar kinders van skole van oa Egipte hier kom speel. Die van julle wat die blog volg, weet dat ek nie verskriklik positief was oor die sokkerspan se seisoen nie en was aangenaam verras toe hulle die eerste wedstryd wen. Hier wys Minri hoe bly sy is. Nelmari langs haar op linkerkant.

Die span lyk heel in hulle skik met hulle self.
Einde van nog 'n wedstryd en die span is goed op koers en oortref my en die ander ouers se verwagtinge.
Gelukkig vir Nelmari het sy haar boetie wat bietjie gekwalifiseer is in sportbesering om haar enkels te verbind. Lyk of sy dit geniet.

Hier kom sy die veld af met die bal
Teen Al Nahda skop sy die bal veldaf van die middellyn en raai wat ...?

Hy gaan tot binne die doelhok. Nelmari kan dit skaars glo.

Hier omhels sy en Jessica mekaar want sy was veronderstel om die bal vir Jess te skop ipv die doelhok.Sy gooi die bal in
Hier neem sy 'n hoekskop. Nelmari het gedurende toernooi nog 3 ander doele ook van die middellyn aangeteken --- ek weet nie of een regtig beplan was nie, maar dit maak nie saak nie, dit tel alles punte.
Die langste en kortste in die span vat 'n ruskansie. Hierdie klein nr 4 is 'n regte doring in baie se vlees, sy is orals al onder die opponente se voete.
Die span verras almal en speel in die eindstryd teen Egipte. Hier ding Nelmari en een van die spelers mee om die bal.
Moeg na twee dae se baie wedstryde .... maar baie gelukkig dat hulle 2de geeindig het.
Die span was ook goeie ondersteuners van die seunsspan wat ekstra tyd moes speel en daarna ook tweede geeindig het.
Die twee afrigters wat werklik wonders verrig het hierdie seisoen met die span, sit by die trofee
Hier is die span in die gym afgeneem. Die twee kinders in gewone klere het albei gedurende die seisoen ernstige beserings opgedoen, maar die span nog steeds in elke wedstryd ondersteun.
Daarna is dit pizza tyd!!!
Baie Geluk AISA JV Sokker Lions ons is trots op julle!!!
Kry ons nou rus van sport? O nee, die basketbal proewe is gister gehou, so na die eksamen sit ons ouers weer langs die kantlyn, net van 'n ander sport.

Wednesday, November 28

ADSAC en ek eet 'n paar blogs

Vir die hele sokker seisoen al probeer ek positief wees met die Junior Varsity sokkerspan van AISA, maar dis moeilik jong. Hulle sukkel, speel lusteloos en is meeste van die kere hulle eie ondergang. Min kere is dit 'n geval van die ander spanne is goed, dis meestal ons gee die game vir die ander. So met 'n swaar hart breek die ADSAC toernooi aan. Ek het nog kindergroep die aand, maar is nie teveel bekommerd nie, seker soos gewoonlik sal ons vroeg uitval en dan kan ek nog aangaan met my normale aandprogram. Maar die meisies besluit om my bietjie langer as normaal langs die sokkerveld te hou. Ons eerste wedstryd is teen Al Khubairi en in ons vorige wedstryde het ons een behoorlik verloor en een gelykop. Maar vanaand is die meisies die vinnig veld gewoond en hulle boer in die doelgebied. Nelmari teken die eerste doel aan en net voor halftyd skop hul die gelykmaker.
Kyk hoe vasberade lyk die twee Suid-Afrikaners (nr 15 & 25) hier, en ja 'n tweede doel vir ons word aangeteken!


Die einde van die wedstryd en die meisies is verlig en bly oor die oorwinning. Dit was hulle sterkste teenstanders in die poel, nou moet hulle net keer vir verloor in die res.
Dankie Al Khubaira vir 'n lekker wedstryd. (Is 'n wen wedstryd nie altyd lekker nie?)
Direk daarna sonder ruskans is dit teen Al Nahda vir wie ons ook nog nie die seisoen kon klomp nie. Die meisies lyk 'n bietjie moeg, maar ons verdedig goed. Soos die sportdirekteur sê, "with a defence wall of South African girls in this match, nobody can get thru"
Nelmari en haar teenstander soek mekaar op. Nr 3 van AISA, klein Maddie is seker die speler wat die meeste verbeter het die seisoen. Sy is giftig en die spanne moet net keer. Ongelukkig wen ons nie, maar dis 'n gelykop uitslag. Daarna speel ons AIS (Abu Dhabi International School) en glo dit as julle wil, ons wen 1 - 0!!!!
Die meisies vat dit rustig en wag om te sien wie teen hulle gaan speel in die finaal van die ander poel. Almal vermoed dit sal ACS wees, maar hulle lyk nie te bekommerd nie. Hier lê Nelmari en Minri "gewired for sound" en rus.Net die vorige dag het ons teen ACS gespeel en behoorlik ek dink 3 - 0 verloor. Hier probeer Nelmari die bal voor die doelwagter kry. Die finaal is 'n harde wedstryd en aan die einde van die wedstryd is die telling 0 - 0. Mooi so AISA.
Die meisies is opgevuur vir die ekstra tyd toe hulle GO LIONS skree.

Die ondersteuners is ook reg!

Ons eindig TWEEDE!!! Mooi so Lions ek sluk al my vorige blogs oor julle span!!
GO LIONS VIR ISAC