Tuesday, December 30

K-e-g-e-l is 'n moeilike woord

Probeer 'n bietjie vir ten minste een volle dag net Afrikaans praat sonder om 'n engelse woord te gebruik .... nie maklik nie, kan ek julle vertel. Nie dat mens nie die woorde ken nie, maar om 'n bietjie hier en daar te mix is al deel van ons daaglikse bestaan, ons kom dit nie eers meer agter nie. Met twee besoekers wat moet Afrikaans, moet ons mooi dink om nie te meng nie en ook om die regte woorde te gebruik. Toe ek dus voorstel ons gaan "kegelbal" kyk selfs my kinders op met 'n frons (en dis nie asof hulle my dit nog nooit hoor se het nie). Stella lyk nie te opgewonde terwyl sy vir Leo wag wat 'n paar skoene moet aanprobeer voordat hy sy regte nonmmer kry nie.Dit lyk asof Stella 'n groot waatlemoen gaan rol. Dis die kleinste balnr maar nog steeds swaar om te dra, hoe gaan sy dit ooit gerol kry? Nelmari byderhand om 'n bietjie wenke en raad wat miskien kan help om die bal uit die gangetjie te hou. Die aksie is daar, maar die bal val reg voor by die lyn en rol amper verewig na die kegels toe. Elke keer as sy die bal klaar gerol het, val sy op haar knie en bid die bal in die regte rigting. Leo aan die anderkant is 'n bondeltjie energie (soos Taffy maat) en hy wil net begin en die wedstryd wen en klaarkry sodat hy die volgende een kan begin :-). Kyk net die aksie! Die bal tref die kegels en die man spring in die lug van blydskap en die gesiggie se alles. Hierdie man is opgewonde en hy het na elke goeie rol so 'n klein dansie wat uitgevoer word. Die seuns doen 'n "little-five" na elke goeie rol. William is duidelik nog 'n bietjie verroes van lanklaas speel, maar kom gou-gou by. Nelmari is baie ernstig terwyl sy die bal rol. Daar is ook 'n kansie om elkeen 'n lekker melkskommel te drink.
Die nuwe woorde van die dag was "kegel" en "kegelbaan" wat groot en moeilike woorde is, maar baie makliker as my franse woord wat ek moes leer. Ek dink dis iets soos jonty en toe vertel ek hulle ek weet van Jonty Rhodes hulle hoef my nie dit te leer nie :-)

13 comments:

Muriel said...

Lekker! Ek kan sommer sien Leo is 'n aktiewe mannetjie!

LOL Stella lyk vreeslik snaaks waar sy die bal in die regte rigting bid!

Ek sien sommer julle het groot pret! Geniet dit!
x x

Sandra said...

Ek sien nogal baie van William toe hy klein was in Leo ;-). Die beste van alles is dat elke keer as Stella gebid het, het sy kegels getref en dit het gemaak dat sy aangehou het. Die kere wat sy nie het nie, het dit net langs die gangetjie doodgerol :-). Lekker om te kan sien ons Groot Pa was by die baan om saam te speel. :-0

Thea said...

Ek het nou lekker gelag! Ja nee, ek kan ook sien daar's vet pret!

Sterkte met die Franse woorde Sandra en met die Afrikaans leerdery!! LOL!!

Anonymous said...

Ek wonder net waar is die Fred (Twinkeltoes) Flinstone video wat ook geneem is, was dit nie goed genoeg om te plaas nie?

Anonymous said...

ai tog Mama! Dit was nie Jonty nie!! Dit was gentil....
lol

Sandra said...

Thea ek sukkel maar bietjie met die franse woorde :-)

Die video wil nie oplaai nie, maar ons sal weer probeer.

Sussie as die franse dit se klink dit maar net soos Jonty.

Jan and Miekie said...

Dankie Nelmari, nou weet ons ook wat hulle wou se. Praat die kinders Frans en Afrikaans? Ek het die foto's baie geniet - lyk na 'n lekker uitstappie, moeilike woord en al.

Sandra said...

Miekie myne praat Afr, Engels en kan hulle self goed help in Frans en Arabies en William 'n bietjie Spaans. Die kuiermensies se moedertaal is Frans en 2de taal Engels. Hulle ma wil graag he hulle moet Afrikaans wat hulle lank terug geleer het nie verloor nie, dus kuier ons 'n hond uit 'n bos in Afrikaans.

Yannis & Zanke - Lotman Twins said...

Dit lyk asof julle 'n lekker besige dag gehad het :-) Maar dit was voorwaar 'n dag vol pret gewees. Ek haal voorwaar my hoed vir julle af, dit wil gedoen wees. En om suiwer Afrikaans te praat, dit verg nogal 'dink'. Dit is natuurlik ons volgende uitdaging :-)

Groete
B

Nimsi se Blog said...

Hi Sandra, nou eers lekker opgevang hier by jou blog, die tweeling is pragtig en hul ouma Sarie het nie bietjie gespog met die twee op leef se gebedskamer nie.
Die twee kuierkinders van jou lyk heel gelukkig; sterkte met die lesse.
Voorspoed en seen spreek ek oor jou en jou geliefdes vir die nuwe jaar!
Groete
Naomi (Nimsi)

Sandra said...

Julle sal goeddoen daarmee Beatrix ek's baie seker. 'n Mens kom nie agter hoeveel ander woorde jy tussen-in gooi voordat jy probeer om dit nie te doen nie. Ek voel na tien jaar in die buiteland met engelse skool doen myne nie te sleg nie :-)

Nimsi ek kan verstaan van die ouma se spog hulle is baie pragtig en soet. Voorspoed vir jou en jou gesin ook vir 2009.

Charmaine said...

hi maat, ek erken daardie besigwees ja.:-) En dis so waar, Ons Groot Pa kan ook saam met ons pret he. Is dit nie wonderlik nie.Dit lyk of julle en die twee Fransmannetjeis mekaar geniet. Baie wonderlike en spesiale 2009 vir jou en joune maat.

Sandra said...

'n Wonderlike 2009 vir jou en jou familie ook maat. Geniet die laaste bietjie van jou vakansie vreeslik! Liefde ons