Friday, December 19

Ons stop by 'n paar Weskus dorpies

Die eintlike rede vir ons "vakansie" in SA is 'n troue wat op die Weskus gehou word, en ek besluit om 'n dag of drie daar oor te bly en die kinders bietjie daardie deel van die wereld te wys. Dus ry ons so kuier, kuier en stop by drie dorpies oppad Paternoster toe. Heel eerste aan die beurt is Yzerfontein waar ons baie jare terug gekuier het. Hierdie is 'n pragtige dorpie en ek lees op hier dat daar baie praatjies is oor waar die dorp sy naam vandaan kry. Tussen al die bespiegelinge oor die betekenis is dit 'n feit dat die dorp se ontwikkeling op 'n plaas met die naam Yzerfontein (Eijzerfontein) begin het. En jinne was daar ontwikkeling die laaste paar jare met al die huise en die dorp is besig en 'n baie gewilde vakansiedorp. Dis nog vroeg en die strande is doodstil en so ook die water. Dis so mooi en die kinders is in vervoering. James gaan staan op die rotse om die mooiste foto's te neem. Ons ry baie traag weg, maar die klomp raak opgewonde oor die volgende stop want hier teen die kus kan dit net lekker raak lyk dit. Ons volgende stop is mooi maar 'n groot teleurstelling. Hierdie dorpie het in 1922 sy ontstaan en was oorspronklik 'n walvisstasie, maar vandag is dit seker die besigste vakansiedorp aan die Weskus en dit het ons nie beindruk nie. Soos ons hier in die woestyn deesdae moet soek vir die woestyn, moes ons daar soek vir die see. Mens kan dit sien, maar mens kan nie daarby uitkom nie met al die huise, casiono's en estates. Die griekse tipe huisies is mooi, maar ons voel dit vat baie van die Weskus ongereptheid heeltemal weg. Ons moet deur die casino gronde, 'n paar woonkomplekse ry om uiteindelik hier by die toring te kan staan om foto's van die see te kry. As jy in luuksheid wil vakansie hou en die see bietjie wil ruik, en malls nodig het, dan kan dit die plek vir jou wees. Die volgende dorpie is net 'n naam op die kaart vir die kinders totdat ons stop vir koeldrank en broodjies en hulle die plek baie opgewonde onthou. Saldanha wat vernoem is na 'n Portugese vlootadmiraal Antonio de Saldanha. Hierdie hawe het 'n groot rol gespeel in die tweede wereldoorlog waar skepe in 'n veilige hawe kon vasmeer. Die dorpie is baie ontwikkel en het sy eie klein "see-dorpie" Jacobsbaai. Wat ons wel opgemerk het van die plek was dat dit baie skoon is en William vertel dat die munisipaliteit een of ander prys vanjaar daarvoor gewen het.

12 comments:

Thea said...

Dis pragtige foto's Sandra! Die see was darem maar wraggies so glad soos 'n spieël!! Ai, die Weskus is darem maar 'n mooi deel van ons land!

Ons was nét so verstom laas jaar oor al die ontwikkelings daar! Huise het soos paddastoele opgeskiet!!

Desire Fourie said...

Jou fotos is ongelooflik mooi. Jy behoort 'n koffietafelboek saam te stel oor die mooiste Kaap. Dis nogal verblydend om te hoor dat daar nog motiverings is vir Munisipaliteite om hulle dorpe en stede skoon te hou hier in SA. Mooi bly.

Anonymous said...

Ons was werklik geseend Thea, die see en weer het hulle beste voetjie vir ons voorgesit.

Dankie Desire. Ek was beindruk met Saldanha en hoe skoon dit was en dit nogal oor 'n naweek.

Charmaine said...

Dis mooi maat, baie baie mooi... die Weskus kom op die kaart sien ek. Saldanha is verseker ook nie meer wat dit was toe ons sowat 21 jaar gelede daar was nie, maar wat verwag mens ne. Die tyd sal nie stilstaan vir ons nie. Ek dink Desire het 'n baie goeie idee beet oor die koffietafelboek.

mariki said...

Dit bly darem maar 'n kus met 'n eiesoortige bekoring!

Anonymous said...

Die mooiste kom nog maat :-). En ja Saldanha het verander maar ons wat self 20+ jaar laas daar was het nog dieselfde plekke en goed gesien.

Die see, dorpies en mense is anders wat jy enige ander plek gaan kry Mariki ek stem

eilandkind/islandchild said...

Die Weskus bly darem maar mooi.

Muriel said...

Wow dis pragtig!!! Baie mooi foto's ook Sandra!

'n Baie geseënde Kersfees vol liefde vir julle almal!! Ek gesels weer in 2009!!!

Dankie vir 'n wonderlike vriendskap!!

x x

Anonymous said...

Mmmmmmmmmm....... wat praat julle van 20+ jare ek het daar "gekamp" by die vlootbasis 35+? jaar gelede. Die plek sal ek glad nie meer ken nie. Was n heerlike ondervinding dai toer van ons. Selfde een as waar ons die kapenaars moes leer seil op Makouvlei. Met jou saam Sandra leef mens partykeer baie ver teug in die verlede!!
Annie

Mariette. said...

Mens kan sien jy het al deur die jare 'n oog ontwikkel vir die regte setting vir 'n mooi foto!
Jy en Charmaine het ons sommer nou lus gemaak vir 'n kuiertjie in die kaap.

lekker naweek.
x-x

Sandra said...

Ek stem saam Eilandkind. Ons land bly darem mooi!

Dankie Muriel! Ek wens jou en jou gesin ook 'n vreugdevolle Kersfees en wonderlike 2009 toe. Sien uit na lekker kuiers in die Nuwe jaar

Sandra said...

Annie watse kamp het julle by die vlootbasis gehou? Jinne ... was dit 'n waterwerk een? Dit lyk nog presies dieselfde daar. Bly jy kuier lekker saam met ons by al die plekke.

Dankie Mariette en ja julle moet by die Kaap uitkom. Ons land is so mooi dat mens net jou mik en druk na 'n prentjie draai en dan het jy 'n foto! Eendag wanneer ek ook groot is, met 'n groot kamera sal ek darem foto's neem jong :-)