Sunday, March 15

Doodse stilte om die scraptafel

Ek het al baie kon vertel van ons vroue studiegroep se lekker kuier en pret rondom die scraptafel en hierdie keer was dit 'n stil kuier en pret. Ons scrap onderwerp "Freedom in Christ" en terwyl elkeen van ons dit probeer uitbeeld met ons papier en in ons kop, kan mens aanvoel hoe die onderwerp elkeen van ons raak. So is ons prente dan ook heeltemal uiteenlopend want elkeen van ons ervaar of het ons vryheid in Hom anders ervaar.

Die wonderlikste van alles is, ons is VRY! Dankie Vader dat U ons vrygemaak het van ons sonde!

Vanaand scrap ons die tema God's World.

Thursday, March 12

Loer na 'n nuwe mall

Soos soveel kere van tevore wil ek vir julle van nog 'n nuwe mall in Dubai vertel - ja kan julle dit glo! Dis nie 'n dag of week nuut nie want Mariette en Beatrix het ook al daarvan vertel, maar dis nuut vir my en so sal die foto's ook wees vir julle. Die Dubai Mall se vloeroppervlakte is iets ysliks. Dis gelykstaande aan 50 sokkervelde met 'n totaal van 1200 winkels as almal nou eendag oopgemaak is. Dis eintlik 'n mall in 'n mall omdat daar verskeie "fokus-punte" is. Daar is oa die goud souk vir die dames wat graag daar sal wil uithang en by van die 220 goudwinkeltjies wil draai. Ek vermoed dit sal ook net hier duskant 'n plaas se prys kos. Wonder waarvoor is James in die mark as hy so op sy eie hier deurdrentel. Die dekor is iets wat mens net na kan kyk en kyk en kyk. Die ysskaatsbaan is op Olimpiese standaard en daar kan 2000 mense met gemak terselfdertyd op hom skaats. Dan is daar die aqarium wat almal wil sien. Hier word omtrent 33000 seediere gehuisves en dis amper in die middel van die mall sodat dit nie misgekyk kan word nie. Francois en James kan ook net kyk na hierdie tenk waar 10 miljoen liter water en seelewe in is. Nog 'n bietjie van die visse en seelewe .... Tussen al die winkels, 22 fliekteaters, 120 restaurante, goudwinkels, speelparke, hotel en goed moet mens mooi kophou waar jy jouself bevind. Hier is drie koppe, Francois, James en Sue nodig om te kyk waar presies hulle in die mall is. Een van die waterfokuspunte is "The Waterfall" wat die hoogte van die mall (4 verdiepings) hoog is. Vir die wat wil weet dit is 30 m breed en 24 m hoog. James en Francois lyk heeltemal verdwerg. Dit is "versier" met kunswerke van duikers wat uit veselglad gemaak is om die vloei van die water te komplimenteer. En dan kom mens nog natuurlik by die winkels ook uit en hier is bekende name vir internasionale shoppers soos Hamleys en Bloomingdales. Francois het so bietjie rondgekyk en moontlikhede ondersoek vir geskenkies. Die wat die blog volg sal hom onthou waar hy laas op sy kniee rondgekruip het vir 'n mat. Hoeveel besoeke nog voordat Marlize haar mat kry? En vir julle wat wonder wat die man se van is .... So word die dag afgesluit met James alleen by 'n dooie brons boom ;-).

Tuesday, March 10

Arme student maak 'n plan

Die laaste tydjie het ek vertel van oa Nelmari se sport en James se nuwe werk ens. maar dit was doodstil daar van Bloemfontein af. Gelukkig het die seun darem die skimp gesien en vir ons 'n storie met foto's gestuur. Dis in Engels so ek sal maar my eie vertaling opsit. Sondag het hy en Tessa 'n jaar uitgegaan en aangesien hy 'n platsak student is, is daar ernstig planne beraam om "iets" te doen wat spesiaal en binne sy begroting is. Nou vir die wat William ken sal weet dat hy kan nie binne sy begroting bly nie :-). Hy sou vir haar 'n ete maak ..... Die deurmekaar kamer wat ek skaars herken op die foto's is reggemaak en met kerse en blomme versier (Ek vermoed 'n dankie moet hier aan Leane ook gaan vir hulp en foto's). Na alles mooi gemaak is en die kos klaar was is Tessa gebel om "sirkus" toe te gaan - dit is naby die studentehuis en sy sou niks vermoed nie. Moes natuurlik eers by die huis stop waar sy verras is. Ek dink die skoon kamer was ook 'n verrassing.... Daar het sy haar presentjie en roos gekry voordat die kos bedien is. Die man sny die hoender en skep in. Het self 'n haarsny gehad sien ek. Ek sou graag wou weet hoe die kos en slaaie gesmaak het seun. Blykbaar het Sabeeha alles mooi dopgehou en wou sy glad nie die "restaurant" verlaat voordat daar klaar geeet is nie.

Wat het toe gebeur met die planne vir die sirkus seun?

Sunday, March 8

Besige sportnaweek

Nie die beste van sportnaweke vir my nie ... oor die krieket bly ek liewers nog hoopvol doodstil, die 7's praat ek nie oor nie en die Super 14 was plek-plek ok behalwe met my span ..... MAAR .... Nelmari was ook sedert Donderdag oggend besig met 'n basketbal toernooi wat eers gisteraand klaar gemaak het. Drie dae propvol wedstryde tydens die ISAC-toernooi. Skole van Riyad, Dubai, Cairo, Qatar, Kuwait, Egipte en natuurlik Abu Dhabi het meegeding en die kompetisie was straf en moeilik op die spelers, ouers, toeskouers en die afrigter. Die afrigter hou sy kop vas.Donderdag het ons, dis nou AISA (die Lions) hulle eerste wedstryd teen Cairo lekker ver gewen en ons dogters het goed gespeel. Die tweede een teen Kuwait was bietjie moeiliker, maar ons wen ook en daar begin hoop posvat om een van die top 2 gekeurde spanne te wees. Die afrigter wissel sy spelers die heeltyd af om hulle nie moeg te maak nie en as hierdie SA kombinasie opkom moet die ander spanne weet hulle gaan moet hardwerk om 'n doel aan te teken. Minri en Nelmari wag om op te gaan. Aan die einde van die dag speel hulle teen Riyad en kou maar harde bene, ons nerwe is dun want dit bly wipplank ry met 'n punt verskil. Van die spelers op die bank, ons sal nie name noem nie, betwyfel die skeidsregter se beslissing en wys dit duidelik. Daar is ook bietjie ondersteuning van die nuwe PE onderwyser by die skool terwyl sy sussie speel. Defnitief "perks" aan die job want hy kan van bo uit die kantoor kyk en ons moet maar hier onder by die ander sit. Go Lions Go! Vrydag maak ons skoonskip en wen vir Dubai en Qatar maklik. Aan die einde van die tweede dag is ons 2de gekeur. In die kwarteindrondte reken hulle baie maklik met Dubai af en dan kom die finaal teen die skool wat ons die eerste dag teen verloor het, Riyad. Maar die meisies speel hulle harte uit en Nelmari verdedig ook 'n hond uit 'n bos uit. Probeer hier verby kom. Daar is 'n lekker klomp ondersteuners en die AISA Lion is uit sy kassie.
Hoe later hoe kwater en Nelmari kry kans om ook doele te skiet en nie net te verdedig nie. Die span sluit die ISAC toernooi af as algehele wenners! Mooi so Lions!! ons is trots op julle (hulle het vanjaar ook die ISAC volleybal gewen). Woensdagoggend vlieg hulle Oman toe vir nog 'n internasionale toernooi en ons weet sommer dit sal ook goed gaan. GO LIONS!

Thursday, March 5

Vir die vroue

Ek kom op hierdie beriggie in die plaaslike koerant af wat lees ....

"Creativity knows no limitations. This was aptly demonstrated by the trendy creations seen on the ramp at .... fashions." en net so 'n entjie verder "Swarovski elements blends tradition with style to present the latest collections of shaylas and abayas by leading designers and labels from the region.


'n Abaya is die nasionale rok van die meeste vroue in Arabiese lande die UAE ingesluit. Die "oorrok is tradisioneel swart en mag beinde 'n groot vierkant materiaal wat oor skouers en kop kom of 'n lang swart oorrok. 'n Abaya bedek die hele lyf, behalwe die gesig, voete en hande. Dit kan met 'n 'niqab' (swart veil oor die gesig) gedra word wat net die oe laat uitsteek.
Dan kry ons ook 'n Shayla wat 'n lang reghoekige serp is wat deur Muslim vroue gedra word. Hulle draai dit om hulle kop om die hare te bedek maar nie die gesig nie. Die shayla verskil van die hijab in beide die manier wat hulle dit dra en die vorm van die materiaal. 'n Tipiese shayla is 3vt in lengte en kan verskeie kere rondom die kop gedra word om die kop en nek te bedek. Die shayla is baie populier in die Midde Ooste en kan ontwerp word om by 'n spesifieke ontwerp te pas.
Terug na die modevertoning. Hulle skryf verder dat die ontwerper ...

".designer's creations beautifully combined the grace and elegance of the traditional Arabian shayla and abaya with international runway trends. " Verbeel jou jy stap by 'n modehuis in met rye en rye swart rokke .... watter een sou jy kies .... of liewers hoe sou jy een kan kies?