Showing posts with label katte. Show all posts
Showing posts with label katte. Show all posts

Tuesday, May 25

Ons diere se aanpassing tussen die duine

Soos ons moes aanpas en nog steeds doen in die erge sand, was dit die diere in die huishouding wat ook moes aanpas in die nuwe blyplek. Het hulle dieselfde probleme as ons mense? Oordeel maar self ....

photo 1

Daar is besluit om die twee straatbabas waarvan ek al vertel het maar saam te bring want wie anders sal vir hulle nou by 'n lee huis kosgee ~ en die twee se oorskakel van straat na huis was smoooootth. Kyk hoe tuis en rustig word daar geslaap en gebad.

DSC_0013

Die mannetjie "Waffles" is 'n pragtige groot kat en so liefdevol. Hy gee net heeltyd liefies en drukkies of jy nou wil of nie en van die straat af, is dit nou sy nuwe uitkykplek in die studeerkamer. Aan daai pens en lyf kan mens sien dis nou nie meer straatkos nie.

DSC_0151

Dawn moes skielik haar plek met twee ander deel en sy het besluit ounooi se wit teddie is vertroosting. Die teddie is elke keer wanneer ek in die studeerkamer kom op 'n ander plek, op die bank of rak of waar sy voel dis veilig van die ander.

photo 4

So bly dat daar nie meer 'n mamma kat is wat haar kleintjies op ons stoep aflaai nie .... totdat iemand (dit kan nie 'n mens wees nie) 'n baba katjie in die drom voor ons kompleks kom aflaai. Hierdie dingetjie kon nie ouer as 'n paar daggies wees nie en Nelmari was in haar element. Daar is probeer om die kleintjie bottel te gee sodat hy darem kon kossies inkry en die klein vegtertjie het tot die volgende dag survive.

DSCF0039

Elriza het toe besluit sy wil hom/haar he en ek was bly vir 'n goeie huis en tog nie nog een in die huis nie. Daar is al honderde foto'tjies van die klein dingetjie geneem en hoe sy vorder en mylpale bereik - ek hoop net daai maatjie van my gaan vinnig daaroor blog voordat die kleintjie groot is.

Page2

Luie was intussen in 'n gastehuis totdat daar 'n muur vir hom gebou kon word en eintlik hierdie week het die ou terugkom na 'n nuwe huis met grasperk spesiaal vir hom. Dankie Tremblay familie dat julle so mooi na hom gekyk het. Soos julle op die foto's sien is hy heel in sy skik met sy nuwe blyplek.

Laat ek nie vergeet om te noem daar is nog Nelmari se baie sensitiewe kat wat volgens die seuns anti-sosiaal is :-) en ek sal anderdag 'n foto van haar ook moet wys. Sy's geniet ook die nuwe blyplek solank sy by haar mens-ma is.

Stem julle saam dat anders as ek wat oa met die nuwe blyplek se sandstorms sukkel, het die diere geen aanpassingsprobleme nie.

Geniet julle week en die aanloop na die eindstryd die naweek .... Hoop julle oefen solank om vir die regte span te skree. Blou met 'n titseltjie wit :-)

Wednesday, July 1

Die kat en die “vlooie”

Net so 'n tydjie gelede het ek vertel van ons nuwe optel-katjie wat huissoek en hierdie week het lelik huisgekry by die "Sandvlooie".

Page1_0


Maar nie voordat ons die kleinding vreeslik geniet het en ampertjies te geheg geraak het nie. Sy het die krappaal bemeester en ook baie vinnig van alles 'n speelding gemaak. William se skoene was 'n ideale wegsteek plek. Die kinders het ook 'n skoenboks in 'n heerlike katspeelding gemaak deur orals gate in te sny - en so het sy ons en haarself ure se pret gegee.
Page1

Gister het kleinvlooi Christiaan sy katjie kom haal en ek dink hierdie gesiggie vertel dit alles. Klein lelik se nuwe naam is "Ferby" self deur haar nuwe basie gekies en sy het baie stil gesit en toelaat dat hy haar vryf en selfs soentjies en drukkies gee. Dit se baie van 'n klein katjie se karakter as sy dit toelaat sonder om naeltjies te wys.
Page3

En sommer gou-gou het Ferby en Christiaan lekker gespeel. Christiaan het huistoe tyd mooi gese hy neem nou die klein katjie maar ons kan vir haar kom kuier en mag hy haar speelding en kombersie saamneem. Ons was seker dat daar lekker by die huis gespeel sou word sodra Ferby haar nuwe tuiste gewoond is.
Ons hoop dat julle twee sommer lekker maatjies gaan word Christiaan en dat daardie toe neus en ogies gou-gou gaan beter wees.

Wednesday, June 17

Lelik …. lyk dit so?

Die vakansie is 3 daggies oud en Nelmari kom skoon in paniek vertel sy hoor een van die klein katjies en hy/sy huil vreeslik en sy's bang hulle maak die katjies seer. Agtergrond - Die van julle wat my blog volg sal weet dat ons klein babatjies in die erf gehad het en weens veiligheid het die mamma hulle ieewrs geneem en ons het hulle nog nie weer gesien nie. Om 'n vreeslike lang storie kort te hou, gaan vertel sy vir die Arabiese buurman haar katjie het oor die muur gespring en gaan haal sy die dingetjie iewers tussen of in 'n blombak uit.

Page1

Dis toe nie een van die drie verlore katjies nie, maar heeltemal 'n ander wilde verskrikte enetjie. Maar dit vat net 'n uur of so en die katjie is tuis in die huis asof sy daar gebore en grootgemaak is. Dis die lelikste dingetjie wat ek nog gesien het met die gemmerkat wat so effens orals wil deurbreek. Sy kry 'n blitskursus in sandbak gebruik, drink, eet en liefde en sy geniet dit.

Nelmari word met groot ogies gevolg asof sy die nuwe mamma is en ek probeer net keer dat daar 'n "bonding" plaasvind want ons kan nie nog 'n kat in die huis nie. Nou vir die soektog om vir haar huis te kry want feline friends het nie plek nie en die veearts sit hulle net aan die slaap.

DSC_0038

Ek's seker met hierdie lelike gesiggie kan meer mense as haar mamma haar liefhe.

Ek hoop baba-katjie opleiding is nie deel van Nelmari se somer-vakansie projekte nie.


Sunday, May 3

Moet ek my kop laat lees?

Ek hou van katte, katte hou van melk en is bang vir water ... is alles 'n groot mite. Alhoewel ek eintlik 'n hondemens is, het ek jare met Siamese geteel - omdat hulle so slim en slimmer as honde is, het ek myself wysgemaak - en asseblief nie 'n straatkat nie. Hier in die woestyn is dit nou heeltemal 'n ander strorie want my dogter is katmal en soos julle ouens wat gereeld hier kuier weet, is daar mos 'n straatma wat knaend haar kleintjies in ons erf kom he. Dan oe en ahh Nelmari weer dat die woestyn antwoord gee en soos met boeke kan ek net nie nee se nie. Met die eerste kleintjies het ek toegegee dat sy maar haar eie katjie kan he en so eindig ons op met Pixie, wat haar mens ma se alles is en niks verkeerd kan doen nie. Die ma-kat verskyn met 'n V-kepie in haar oor en ons is gerus want hier beteken dit die veearts het haar "reggemaak" net om te sien hoe 'n wonderwerk gebeur, sy is wraggies weer swanger. Niks katte nie Nelmari se ek, maar ons sal hulle gewoond maak aan mense en huis en dan vir hulle 'n plekkie soek. Nodeloos om te se, so maak Dawn haar verskyning in die huis en gou-gou is sy "my" kat. Ek sien straatkatte is slim en hulle dood oor water. Sy volg haar "ounooi" orals en badtyd is ook haar badtyd en dan wil sy soveel as moontlik water he om te was en te drink. Soos haar ounooi is sy ook mal oor boekie. (Die vearts se daar is siames bloed in haar want kyk net hoe skeel is daai ogies) Is sy nie oulik nie :-) en ek sien straatkatte kan slim wees. Mamma kat kry nog 'n V-kepie in die oor en nou is dit finaal besluit ons, maar sy raak weer vet, baie vet en bly so vir weke aaneen. Ons raak gerus want dis seker net omdat almal in die straat vir haar kosgee, sy is 'n straatkat met 'n persoonlikheid ... maar skielik twee weke terug is mamma-kat weer maer en mens kan sien "iets" drink aan haar.

Genadiglik is die baba's nie in ons erf nie ... maar soos met die v-kepies beteken dit niks want vanoggend vroeg bring mamma-kat haar krosie om in ons erf in te trek. Nelmari kom op 'n boksie van hulle af en die ooohhh en aahhh's begin weer.

"Nee, se ek", "Maar mamma kyk net die gesiggies" ----- Mariette, Marina, Vicky, James, Christiaan, almal in die UAE wat lees en lief is vir katjies HELP!!!!!!
Hulle is oulik en ons sal hulle makmaak en mooi leer maar bespreek net een voordat ek met nog een in die huis opeindig! Ek hou mos nie van katte nie!

Thursday, November 15

Elektriek katte

Ek het al op 'n stadium vertel van straatkatte in Abu Dhabi en hoe swaar hulle kry om te oorleef. Daar is letterlik honderde wat nie huis het nie en baie van die plaaslike mense en kinders weet nie hoe om met katte te werk nie. Dis hartseer om te sien hoe hulle partykeer met stokke geslaan en geskop word (die katte natuurlik) en hoeveel katte met gebreekte sterte en pote rondloop. Dan praat ek nie eers van die hoeveelheid baba katjies wat doodgery word nie. Daar is 'n Feline Friends, maar ek dink nie hulle kan byhou met al die klein babatjies wat gebore word nie, veral hierdie tyd van die jaar.
Alhoewel ek nie straatkatte optel of streel nie (bang Begeera tel siekte op), kan mens darem nie anders as om vir hulle jammer te kry en water of kos uit te sit as daar enetjie in die "jaart" sit nie. Hierdie winter het ons 'n mamma wat besluit het om haar kleintjies in ons elektrisiteitsboks groot te maak. 'n Baie brawe mamme beslis, want hier is so 'n OU straatmannetjie wat kleintjies vir pret doodbyt. Die mamma het egter vir haarself seker gemaak dat die kleintjies baie veilig is met al die gemors in die kas en dat die mannetjies hulle nie sal beetkry nie. Vicky lyk sy nie baie soos Nala nie?
Die kleur van die foto's nie so duidelik nie, maar Nelmari het dit haar misie gemaak om die kleintjies te probeer afneem sodat ons kan sien hoe hulle lyk. Na 'n tydjie se wag het twee oortjies hulle verskyning gemaak. Sien julle aan bokant van foto?
En 'n bietjie nader .... en mens kan die ou dingetjie sien.
Hier is die hele gesiggie nou. Hulle speel van tyd tot tyd buite, en eet die kos wat ons uitsit, maar hardloop vinnig na veiligheid as hulle enigiets hoor....'n mens weet nooit is dit vriend of vyand.

Tuesday, October 2

Katte en pilletjies

Baie maande terug het Lynette vir my hierdie storie gestuur en ek het dit baie geniet. Die naweek toe Charmaine my vra om vir haar kat Dee 'n pilletjie te gee en dit nie heeltemal vlot verloop nie, onthou ek weer van die storie. Ek weet almal sal nie heeltemal weet van katte en pilletjies nie, maar die van julle wat al daar deurgegaan het, seker julle sal die prentjie kry.
HOE OM JOU KATJIE N PILLETJIE TE GEE! 'n Kort handleiding in 15 stappe:

1. Plaas jou katjie in die buig van jou arm asof jy n klein baba vashou. Sit jou regter wysvinger en duim aan beide kant van sy snoetjie en oefen versigtig druk uit, terwyl jy die pil in die ander hand gereed hou. Sodra jou katjie sy bekkie oop maak, gooi die pil in en gee die katjie die geleentheid om dit af te sluk.

2. Soek die pil op die vloer en gaan haal die katjie agter die bank uit. Plaas die katjie weer in die ronding van jou arm en herhaal die proses.
3. Gaan haal die dem kat uit die slaapkamer en gooi die nat pil in die drom.

4. Neem n nuwe pil uit die dosie, plaas weer die kat in jou arm, terwyl jy beide voor pote stewig vashou. Forseer sy kake oop en druk die pil binne in sy mond met jou regter wysvinger. Hou die kat se bek vir ten minste 10 tellings toe.

5. Haal die pil uit die visdam met die klein netjie en gaan haal die mal kat bo van die kas af. Roep nou jou maat uit die tuin uit om jou te kom help.

6. Kniel op die vloer en dwing die kat tussen jou knieë vas, neem sy pootjies in n baie stewige greep, ignoreer die harde gegrom. Laat jou maat die kat se kop ferm vashou en dwing sy bek oop met n hout liniaal. Gooi die pil via die liniaal in sy bek in en vryf jou kat se keel om sy sluk proses aan te moedig.

7. Haal die besimpelde kat van die gordyn-reeling af en neem nog 'n pil uit die dosie uit. Maak n aantekening om n nuwe liniaal te koop en ook om die gordyne te laat regmaak. Vee die stukke glas en keramiek van die beeldjies en potte op sodat jy dit later kan weg gooi.

8. Draai die blasende kat in n groot handdoek toe en laat jou maat bo-op die kat le of sit, sodat net die kat se kop uitsteek onder jou armholte. Suig die pil met n strooitjie op en forseer die blerrie kat se bek oop. Blaas die pil, deur die strooitjie, in die kat se keel af.

9. Lees die pamflet deur, om te sien of die pille skadeloos vir mense is en drink iets koud om die smaak uit jou mond uit te kry. Ontsmet jou maat se arm, sit salf op die wond en draai n verband om. Verwyder die bloedvlekke van die vloer.

10. Gaan haal die flippen kat uit die buurman se garage, neem nog n pilletjie uit die boks en drink nog iets. Sit jou kat in die klerekas sodat net sy kop uitsteek. Forseer sy bek oop en skiet die pil met n kettie in sy keel af.

11. Gaan haal die skroewedraaier uit die garage en hang die kasdeur terug op sy skaniere. Ontsmet die krapmerke op jou wange. Maak seker of jou tetnus-inspuiting nog geldig is. Gooi jou stukkende trui in die drom en gaan trek 'n ou overall aan.

12 Bel die brandweer om die satan-helskat uit die boom uit te kom haal. Vra jou buurman om verskoning vir die taalgebruik en neem die laaste pil uit die dosie.

13. "Tape" beide voorvoete van die tierkat aan mekaar vas met duct tape. Bind hom stewig aan die poot van die eetkamer-tafel vas met n stuk ankertou. Trek jou welding-gloves aan, druk die pil in n stukkie vleis en gooi n groot glas vol water. Hou die klein wetter se kop agteroor, gooi die vleis in, gevolg deur die hele glas water, hou sy bek toe vir 5 minute.

14. Vra jou maat om jou, so gou moontlik, by Ongevalle te kry, want jy word al lighoofdig van die bloedverlies. Laat hulle jou vingers en voor-arm vas werk en die laaste pil uit jou oog uit verwyder. Bel onderweg vir Hyperama om n nuwe eetkamer-tafel te bestel.

15. Bel ook die SPCA om te reel dat hulle die gemuteerde satanskind van n helkat kom haal en stop by die Petshop om te vra of hulle nie dalk klein hamsters het nie.

HOE OM n HOND n PIL TE GEE: Draai dit in n stukkie ham toe.

ns Ek het die pilletjie ingekry sonder veel moeite. (Ingekry bedoel ek, vir Dee gegee)

Thursday, April 12

Kyk hierdie dingetjie

Met die somer wat nou nader kom begin die straatkatte van Abu Dhabi suffer. En hier is straatkatte .... Ongelukkig is dit een van die dinge wat die mense hier nie weet nie en dit is hoe om met diere (behalwe waarskynlik kamele, bokke en perde) te werk nie. Ek onthou nadat ons hier gekom het, hoe vreeslik dit vir ons was om te sien hoe die kinders katte met stokke slaan en rondjaag en hoe ontsteld ek was elke keer as ek 'n dooie baba katjie in die straat gesien het. Omdat hulle nie sterk is op diere nie is hier honderde straatkatte wat self 'n bestaan moet maak en in die hitte kry hulle maar swaar. Die meeste van die katte is baie sieklik en maak staat op Westerlinge se "sagte" harte. Maar al kry die katte swaar is daar gereeld klein baba katjies wat gebore word en 'n mamma kat wat iewers 'n koel plekke probeer kry om haar kinders groot te maak. Hier is 'n Feline Friends wat probeer om van die katjies huis te kry maar dis onmoontlik om voor te bly. Ek self is dol oor diere en het twee van my siamese destyds saamgebring van SA af maar het nog nooit self een van die "straatkatte" in huis" geneem nie.
Een so 'n persoon wat al vir 'n paar sulke "katjies" ma gespeel het is Vicky Sloan. Eergister het sy, Greg en Crispin gou hier ingeloer en my voorgestel aan die nuwe baba in hulle huis. Ek het nooit eers gevra wat die dingetjie se naam is nie, maar kyk net hoe oulik.....


Vicky hulle het die dingetjie in die straatgekry toe hulle treklorrie oppad Al Ain toe is. Natuurlik kon hulle die dingetjie nie net los nie en gelukkig vir die katjie eindig hy by hulle op. Hy is seker so 3 wekies oud en kry al om die ure bottel by ma Vicky en lyk beslis soos een van die gesondste straatkatjies wat ek al gesien het. (Wat voer jy hom Vicky?)
William hou hom vas na sy bottel en hy raak omtrent weg in sy hande.
Ja Nee hierdie is een van die min gelukkiges hierdie somer. Laat weet vir ons hoe dit met hom gaan Greg en Vicky en sterkte met die nuwe huis, dorp, skool en goeters. Ek wag vir julle blogblad ....