Showing posts with label Straatkatte. Show all posts
Showing posts with label Straatkatte. Show all posts

Wednesday, February 3

Wat maak so? 'n Kat in die tuimeldroeer?

Hierdie huis en diere is iets ysliks. Ek het al baie vertel van die baba straatkatte wat Nelmari so makmaak.

P1110703

So 'n tydjie terug het hierdie brak ook by ons aangeloop gekom. Hy het seker vir Luie ons baster saluki gehoor en besluit om bietjie te kom kuier. Nie dat Nelmari dit nie geniet het nie. Nou is dit tyd om vir Friday (die dag wat hy by ons aangekom het) huis te soek.

Al die agtergrond is net om te wys dat ons lief is vir diere en hulle nie sal mishandel nie.

Die boetie en sussie straatkat wat nou al van geboorte by ons bly is iets anders. Hulle hardloop in en uit die huis asof dit hulle plek is en vergeet maar van 'n afstand hou dat mens nie kan bond nie, hierdie tweetjies maak seker dat hulle op gedruk en geliefie word.


DSC_0112

Die dogtertjie "pancakes" (haar boetie is waffles) sal enige iets doen om in die huis te kom. By die waskamer is daar sulke waaiertjies wat help as die a/c nie aan is nie en al draai die ding hoe vinnig - as sy iemand daar hoor wil sy in.


DSC_0151

Daardie pootjie en koppie is al soveel keer raakgekap as die waaier draai maar hoor is min en sy probeer elke keer weer van voor af

.

Hoe kan mens nou nie luister vir hierdie smeek nie?


Luister hoe kap die waaier daai pootjies :-). Gelukkig het sy nog nie seergekry nie.

Thursday, March 13

Ontmoet 'n nuwe lid van die gesin

Die van julle wat gereeld lees, sal onthou dat ek gedurende November vertel het van die straatkatte wat in die elektrise boks ingetrek het (http://www.tussen-die-duine.blogspot.com/2007/11/elektriek-katte/html ).


Hierdie kleinjie was baie nuuskierig en het heeltyd geloer. Met die verloop van die tyd het die kleintjies "gewoond" geword aan ons en alhoewel die mamma rondgeloop het, het die goetertjies nooit by die hek of muur uit gegaan nie. En soos dit met al die straatkatte in Abu Dhabi gaan (wat terloops nou gevang en van kant gemaak word), was die mamma omtrent onmiddelik weer swanger. Twee weke terug is die mamma toe vort om haar kleintjies iewers te gaan he en sy los die twee meisietjies vir ons om op te pas. Toe die mamma na haar kraam weer aanmeld vir kos, het een van die meisies saam agter ma aan geloop en het ons haar nie weer gesien nie. Die nuuskierige ene het egter gebly en elke dag vreeslik gehuil vir haar sussie en mamma. Ons besluit toe om te toets en kyk of sy in die huis sal aanpas, want met die gehuil het sy elke keer vir Begeera ook onstel. (Begeera is slim en verstaan darem nog 'n bietjie kattaal)
So drie dae terug trek die straatkat vir 'n proeftydperk in die huis in. Sy deel 'n kamer met Nelmari en sommer binne 'n dag is die wilde dingetjie so mak soos 'n lammetjie as sy by Nelmari is. Sy kry ook 'n naam .... en hier sit Pixi by haar nuwe mamma.Sy dink haar mensma is wonderlik en sodra Nelmari iets se of met haar praat of sy ietsie wil doen, dan kyk sy na Nelmari vir goedkeuring.


Dit het haar net twee dae gevat om gewoond te raak aan bederf. Hier slaap sy in Nelmari se arms, kyk net hoe snaaks vou sy haar agterpootjies.Lyk behoorlik of sy haar tongetjie vir my uitsteek. Dis van pure lekkerte want wat julle nie op die foto kan sien is is die harde puuurrrrrr geluide. Darem een katjie minder wat uitgeroei gaan word en dit lyk asof sy dit besef.

Thursday, November 15

Elektriek katte

Ek het al op 'n stadium vertel van straatkatte in Abu Dhabi en hoe swaar hulle kry om te oorleef. Daar is letterlik honderde wat nie huis het nie en baie van die plaaslike mense en kinders weet nie hoe om met katte te werk nie. Dis hartseer om te sien hoe hulle partykeer met stokke geslaan en geskop word (die katte natuurlik) en hoeveel katte met gebreekte sterte en pote rondloop. Dan praat ek nie eers van die hoeveelheid baba katjies wat doodgery word nie. Daar is 'n Feline Friends, maar ek dink nie hulle kan byhou met al die klein babatjies wat gebore word nie, veral hierdie tyd van die jaar.
Alhoewel ek nie straatkatte optel of streel nie (bang Begeera tel siekte op), kan mens darem nie anders as om vir hulle jammer te kry en water of kos uit te sit as daar enetjie in die "jaart" sit nie. Hierdie winter het ons 'n mamma wat besluit het om haar kleintjies in ons elektrisiteitsboks groot te maak. 'n Baie brawe mamme beslis, want hier is so 'n OU straatmannetjie wat kleintjies vir pret doodbyt. Die mamma het egter vir haarself seker gemaak dat die kleintjies baie veilig is met al die gemors in die kas en dat die mannetjies hulle nie sal beetkry nie. Vicky lyk sy nie baie soos Nala nie?
Die kleur van die foto's nie so duidelik nie, maar Nelmari het dit haar misie gemaak om die kleintjies te probeer afneem sodat ons kan sien hoe hulle lyk. Na 'n tydjie se wag het twee oortjies hulle verskyning gemaak. Sien julle aan bokant van foto?
En 'n bietjie nader .... en mens kan die ou dingetjie sien.
Hier is die hele gesiggie nou. Hulle speel van tyd tot tyd buite, en eet die kos wat ons uitsit, maar hardloop vinnig na veiligheid as hulle enigiets hoor....'n mens weet nooit is dit vriend of vyand.