Showing posts with label ou moskee. Show all posts
Showing posts with label ou moskee. Show all posts

Saturday, June 21

Leane word losgelaat

In die afgelope tien jaar het ons besoekers gehad met verskillende belangstelling en behoeftes - daar was die wat met 'n shopping lys gekom het, die wat net wou kuier, die wat restaurante wou besoek, die wat die besienswaardighede wou sien, die wat mall crawling doen en hierdie keer 'n unieke eerste ....een wat die klippietjies van die land interessant vind. Ja glo dit as julle wil. Natuurlik het ons nou nie 'n wavrag berge hier nie en hoeveel klippe kan mens nou in 'n woestyn kry, maar sy is besig om nie te sleg te doen in haar soektog nie. Leane wat swot om eendag as sy groot is 'n geoloog te wees, was al die tweede aand met 'n besoek aan die Cornish by ons huis geinteresseerd in die klippe langs die water. Hier het sy oor die heining moes klim om te kyk. (O en daai stil "rivier" is deel van ons woeste see) James voor ons eie oase net om die draai. Oppad Fuijerah toe stop hulle by die Friday market waarvan ek ook al vertel het. Dis 'n deel van die land wat wel "berge" en klippe het en daar vat sy die pad. Hier skrop sy nog steeds in die grond rond, langs die groot pad en neem foto's van die klippe.By die hotel en kans om af te koel ... lyk dit nie lekker nie. Dis die hotel in Fuijerah se strandjie. Vir lekker vis langs die see is dit een van die beste plekke in die UAE. Ek praat van vis om te eet nie om te vang nie, alhoewel mens seker dit ook kan doen. Die hotel se binnehof met lekker tradisionele plekke om te sit. Hulle gaan besoek ook die Al Bidyah moskee teen die berg. Dit is die oudste moskee in die UAE waaroor ek ook al geblog het. Voor die moskee is daar nog 'n tradisionele waterput en bietjie woestyn groenigheid. Die twee stap op na die toring/fort agter die moskee. Kyk net al die groenigheid op die agtergrond, dis alles ou oases in wadi's. Mens moet darem ook 'n bietjie in die woestyn by die duine uitkom. Wat sal dit nou beteken seun? Is jy bly om terug te wees in die woestyn? In die hitte het Leane darem ook Bloemfontein se koue in gedagte gehou en hierdie uitrusting in Ajman probeer. In die lewe ... dat hulle sulke klere hier in die hitte verkoop.

Saturday, August 25

Trippie na Fuijerah 3 - Oud, ouer en stok oud

Ek het uitgesien daarna om die ou Fujairah fort weer te sien. Die vorige keer toe ek daar was, het hulle nog ernstig aan die plek gerestoreer. Dit op sigself is 'n wonderwerk, want omdat die land nog so jonk is, restoreer hulle nie sommer plekke nie. Dit word oud en dan vervang hulle dit.



Die ou fort staan so 2km van die middedorp op 'n klipperige koppie met die Hajar Berge op die agtergrond. Vroeer jare was die fort die huis van die Fujairah heerser en sy familie.



Dis 'n groot kasteel wat in 1670 AD gebou is en bestaan uit 3 "toring" dele verbind met gange en sale wat omring is deur die fort gedeelte. Baie van die moddersteen huisies wat die fort omring het, is nog steeds daar maar slegs muurhoogte. Voor kan julle 'n ou verbrokkelde huisie sien.

Daar is 'n paar nuwes gebou, seker om te wys hoe dit regtig gelyk het. Mens kan nogal die geskiedenis van die plek self skryf as jy so daarna staan en kyk. Ek self het nie uitgeklim om foto's hier te neem nie, maar hier kan jy sien dat Charmaine vinnig terughardloop motor toe. Ja .... hier probeer mens vir die hitte weghardloop, maar dit gaan orals saam met jou.
Ons volgende geskiedkundige stop is die Al Bidya moskee. Hierdie moskee sit so teen die berg en is na beraming omtrent 400 jaar oud.


Die moskee het vier koepels wat met slegs een pillaar in stand gehou word en word as taamlik uniek vir daardie tydperk beskou. Dit het ook geen "minaret" nie en is die oudste "werkende" moskee in die UAE.Daar is 'n pad wat agterop loop na die "watchtowers". Ek's nie seker wat hulle "gewatch" het nie, maar die uitsig van daar oor die berge en see moet pragtig wees om te sien. Ons het vanwee die ouderdom, hitte en kniee nie die toggie aangedurf nie.
Die foto'tjie is binne die moskee geneem, maar omdat dit half skelm gemik was (daar was moslems in en jy mag hulle nie afneem nie), is dit 'n goeie verskoning vir die uit fokus wees. Maar net sodat julle 'n idee kan kry van al die matte aan die binnekant.

Nie 'n baie duidelike foto nie, maar daar is ook "rakke" ingebou waar die Quran spesiaal gehou is.
Ons het die geleentheid gekry om binne te gaan as ons die swart rokkie aantrek en ons skoene buite los.
Neem vinnig die foto dis warm, die grond brand en die swart trek die son nog meer aan ...