Friday, June 5

Die baie groen van Ierland

Hoe vertel mens alles wat jy in Ierland gesien het in een blog? Ons spandeer vier dae daar en miskien as ons van een dorp na die ander gejaag het kon ons baie meer van die land gesien het, maar ons besluit om te ry, te stop, af te draai en te geniet voordat ons elke dag omdraai terug naq ons akkommodasie toe.
Akkommodasie beteken hierdie oulike steen kothuisie wat vir sy eie pret sorg. 'n Poging tot kaggel elke oggend en aand het sy eie probleme en vir my wat onder slaap om deur die nag na die badkamer in die dak te gaan (waar ek nie kan regop staan nie) is nie maklik nie. Dit help ook as 'n sekere vriendin nie die badkamerdeur vir 'n kamerdeur gebruik nie. Ons eerste rit is in die algemene rigting van Limerick en groot opwinding met die eerste ou gebou wat ons kan gaan loop en aan vat :-). Daarvoor loop ons deur diep beesmis, soveel so dat ons wil weghardloop vir die ruik aan die skoene. Die Clare's Abbey word van alle kante beloer en afgeneem en tyd staan stil ... Dan die "jackpot" van die uitstappie ... ons is op 'n kasteel-hunt en daar kom ons op Knappogue Castle af! Hierdie kasteel is gedurende 1467 deur Sean MacNamara gebou en deel van die familie tot in 1659 toe dit deur die regering van die dag gekonfiskeer is. Gedurende 1670 is dit weer terug gegee vir die famile maar in 1880 om sy skuld af te betaal verkoop Francis MacNamara die kasteel aan die Scott familie wat die kasteel toe gerestoreer het. Half 'n eeu later is hulle ook finansieel in die moeilikheid en toe word dit verkoop aan die 14de Baron van Dunboyne wat dit klaar gerestoreer het.
Die kasteel speel ook 'n groot rol tydens die War of Independance gedurende 1921 deur 'n geheime ontmoetingsplek en hoofkwartiere is vir deel van die weermag. Die eienaars het op daardie tydstip die kasteel verlaat en eers in 1927 dit verkoop. Vir 40 jaar het die kasteel net in wind en weer gestaan totdat dit amper heeltemal vernietig was maar gedurende 1966 koop 'n familie van Houstan Texas die kasteel en onderneem om dit weer te restoreer. Vyfhonderd jaar nadat dit gebou is word dit oopgemaak vir die publiek in 1969. Huidiglik word daar ook gereeld mediavel bankette hier aangebied.
Iewers in hierdie 550 jaar was Charmaine ook deel van hierdie huishouding :-) Ja ek weet, sy's regtig so oud. Sy vertel dis die kasteel wat sy nog altyd in haar drome "gesien" het en baie opgewonde word ek alles gewys en vertel. Van die stoep waar sy sit en teedrink het tot die boom waar die feetjies bly. Op haar blog het sy ook daarvan vertel. Vir alle praktiese doeleindes het sy die einde van haar toer bereik want sy het haar kasteel gesoek, maar daar is nog dae oor en rits gaan ons rits. Ek slaan my "jackpot" ook toe ons by die Cliffs of Moher aankom maar nie voordat ons in die mees ongelooflike omgewing van Shannon rondry nie. Daar is baie min plekke waar mens die berg vol groen, plase met vee op en die see as agtergrond het nie. Mens kan net kyk en kyk en geniet. Waar ou geboue in baie lande onder rommel verdwyn, verdwyn hulle hier in Ierland onder groen plantegroei. Die cliffs is amazing! Klowe wat 200 meter uit die see staan en dit vir 8 km ver!!! Die wereld is net met so wonderlik geskep en mens voel baie klein as jy afkyk na die ongelooflike sig. 'n Groot grot wat sigbaar is, is ook 'n nesplek vir duisende voels -- ongelooflik! Nog twee kastele op die pad, 'n lekker middagete by 'n klein kusdorpie Doolin en dis tyd om terug te draai al is daar nog so baie om te sien. Limerick het ons toe nooit by uitgekom nie, maar met die kasteel en cliffs en al die ander goed was die dag meer as die moeite werd.
Die volgende dag gaan ons poog om die Galway omgewing te doen. Ja ons het nou mooi geleer om te se poog en nie dat ons dit gaan kan doen nie. Ons haal die hoofdorp waar die Volvo seilbootreisies aan die gang is en die plek is chaos. Gelukkig bly ons nie lank daar nie, net lank genoeg om die Ierse linne op die inkopielys te koop. Groot hap uit die sak van sekere mense vat ons die pad in verder in die rigting van Clifden. Maar 'n klomp winkeltjies langs die pad is 'n stop moeitewerd en ons dogters is elkeen geskenkies ryker toe ons weer daar wegtrek. As mens nie afdraai vir drinkgoed of badkamer nie, mis jy verseker 'n klomp mooi plekke en een van hulle is die ou myn. Die paaie gaan deur die pragtigste landskappe en ons sien orals net groen, groen en water! Klein riviere waar mens doodstil kan sit en luister hoe die voeltjies sing terwyl die reen neerval. Ons is amper nie eers lus om verder te ry nie en ek's seker as dit nie gereen het nie, het ons nog meer tyd daar deurgebring.
Nog 'n bordjie langs die pad wys "kasteel" en jip sekere mense het hulle s'n gesien maar ons het nog nooit in een geeet nie en nou gaan ons dit doen. 'n Pragtige plek met 'n heerlike kaggel vir die koue. Die rivier wat langs dit verby vloei maak dit nog 'n mooier prentjie en die kos is lekker! Ons moet begin terugdraai en ja reg geraai, voor ons Clifden bereik maar 'n vol dag met 'n laaste stop vir lekker warm sjokolade. Dis tyd om te begin regmaak om huis toe te gaan en die volgende dag ry ons Dublin toe. Ons blyplek is reg in die middedorp so tussen al die ou geboue en net oorkant die Chrischurch katedraal. Dis eintlik 'n klein huisie bo-op die dak van 'n gebou met selfs 'n klein tuintjie waar ons die bietjie son kan geniet. Parkering in hierdie dorp is natuurlik net so 'n groot probleem en ons gaan gee ons huurmotor 'n dag vroeer in en besluit om voet te slaan deur die dorp en die volgende dag met taxi lughawe toe te gaan. Dis van die geboue in die straat van ons blyplek en ons ky so 'n ietwat gevoel van Dublin. Nou nie die mooiste stad wat ek al gesien het nie maar beslis met sy eie karakter. Dis of die dorp sukkel tussen modern wees en tyd laat stilstaan. So in die besige strate met die motors wat heen en weer jaag, is daar perde. Een ruiter sit op haar selfoon ewe rustig en kuier en die ander een knoop 'n geselsie met 'n fietsryer aan - dit alles in dieselfde besige hoofstraat!

Ons toer is klaar en dis tyd vir huistoe maar ons vat behalwe vir elkeen 'n ekstra tas, kosbare herinneringe saam. Dankie vir die DDT van die DDTT, dit was een groot fees . Wat doen ons volgende jaar?
Hoop julle het dit geniet om saam te toer, ons het dit geniet!

13 comments:

Man-van-die-toer-kietsie-kat said...

Al weer 'n ding wat my pla, die Iere maak ook Whiskey en Guinness en baie daarvan en julle drink.........warm sjokolade!

Baie mooi fotos my vrou, en van plekke wat ek nog nie eers gesien het nie.

Kan darem spog dat ek die klip by Blarney gaan soen het, omtrend die enigste ding wat julle nie gedoen het nie.

Leane said...

Ierland is darem seker een van die mooiste plekke! Die winkeltjies van Galway het my baie laat dink aan die van Harry Potter.

Ek het wel van die kans gebruik gemaak om die bier te probeer :)

Sandra said...

Ons het net hot chocholate gesien by die plekke waar ons was. Ons is mos slim genoeg ... hoekom moet ons die klip gaan soen het?

Galway is net vir my 'n baie besige en beknopte stad Leane met nie-bestaande parkeerplekke.

Jan and Miekie said...

Ek het weer lekker saamgetoer! Is self groen van jaloesie...Pragtige fotos en julle gaan nog eendag weer lekker lees aan die beskrywings.

retha said...

Ek se ook die foto's is pragtig. En jul het jul toer goed beplan en uitgevoer ook.

Baie dankie dat jy selfs tyd gehad het om a boodskap vir my te laat!

Sandra said...

Miekie ek's seker ons gaan nog lekker oor van die stories kan lag vir 'n langtyd - dankie vir die "saamtoer"

Dankie Retha. Hoop jy voel baie gou beter en dat die nuwe dr weet wat sy/hy doen.

Charmaine said...

Ai ja, Galway.. en die linne daar. Jy lewer uitstekend verslag maat. Mens kan hierdie vir baie lank bewaar....en herkou

Sandra said...

Alle afdraaipaaie lei na Galway ne? :-) Jy sal ook nog lank jou linne geniet!

Heleen said...

Soos ek reeds voorheen gese het, die natuur se skoonheid is soos kos vir die siel....
Lovies
Heleen
Ek gaan vir 6 weke met verlof en gaan vir lank nie na jou blog kan kyk nie :-(

Sandra said...

Jy moet jou verlof geniet Heleen. Miskien kan ek nou al daai video's van jou opsit terwyl jy weg is :-)

mariki said...

Bietjie laat hier -- dis onvergeetlik mooi!

Desire Fourie said...

Jou fotos, is soos gewoonlik, pragtig en vertel 'n storie van natuurskoon en nostalgie met al die ou geboue.

Op 'n ander noot ... waar het jy jou nuwe blogjassie gekry? Het jy dit self ontwerp?

Mooi bly.

Sandra said...

Dit is pragtig Mariki.

Baie dankie Desire en ja Ierland het nogals 'n besonderse bekoring.

Mbt die blog...tussen my en Nelmari het ons beplan ens. maar die grootste werk en die omskakeling is deur iemand met baie meer kennis as ek het gedoen. Ek mail jou.