Showing posts with label uk toer. Show all posts
Showing posts with label uk toer. Show all posts

Friday, June 5

Die baie groen van Ierland

Hoe vertel mens alles wat jy in Ierland gesien het in een blog? Ons spandeer vier dae daar en miskien as ons van een dorp na die ander gejaag het kon ons baie meer van die land gesien het, maar ons besluit om te ry, te stop, af te draai en te geniet voordat ons elke dag omdraai terug naq ons akkommodasie toe.
Akkommodasie beteken hierdie oulike steen kothuisie wat vir sy eie pret sorg. 'n Poging tot kaggel elke oggend en aand het sy eie probleme en vir my wat onder slaap om deur die nag na die badkamer in die dak te gaan (waar ek nie kan regop staan nie) is nie maklik nie. Dit help ook as 'n sekere vriendin nie die badkamerdeur vir 'n kamerdeur gebruik nie. Ons eerste rit is in die algemene rigting van Limerick en groot opwinding met die eerste ou gebou wat ons kan gaan loop en aan vat :-). Daarvoor loop ons deur diep beesmis, soveel so dat ons wil weghardloop vir die ruik aan die skoene. Die Clare's Abbey word van alle kante beloer en afgeneem en tyd staan stil ... Dan die "jackpot" van die uitstappie ... ons is op 'n kasteel-hunt en daar kom ons op Knappogue Castle af! Hierdie kasteel is gedurende 1467 deur Sean MacNamara gebou en deel van die familie tot in 1659 toe dit deur die regering van die dag gekonfiskeer is. Gedurende 1670 is dit weer terug gegee vir die famile maar in 1880 om sy skuld af te betaal verkoop Francis MacNamara die kasteel aan die Scott familie wat die kasteel toe gerestoreer het. Half 'n eeu later is hulle ook finansieel in die moeilikheid en toe word dit verkoop aan die 14de Baron van Dunboyne wat dit klaar gerestoreer het.
Die kasteel speel ook 'n groot rol tydens die War of Independance gedurende 1921 deur 'n geheime ontmoetingsplek en hoofkwartiere is vir deel van die weermag. Die eienaars het op daardie tydstip die kasteel verlaat en eers in 1927 dit verkoop. Vir 40 jaar het die kasteel net in wind en weer gestaan totdat dit amper heeltemal vernietig was maar gedurende 1966 koop 'n familie van Houstan Texas die kasteel en onderneem om dit weer te restoreer. Vyfhonderd jaar nadat dit gebou is word dit oopgemaak vir die publiek in 1969. Huidiglik word daar ook gereeld mediavel bankette hier aangebied.
Iewers in hierdie 550 jaar was Charmaine ook deel van hierdie huishouding :-) Ja ek weet, sy's regtig so oud. Sy vertel dis die kasteel wat sy nog altyd in haar drome "gesien" het en baie opgewonde word ek alles gewys en vertel. Van die stoep waar sy sit en teedrink het tot die boom waar die feetjies bly. Op haar blog het sy ook daarvan vertel. Vir alle praktiese doeleindes het sy die einde van haar toer bereik want sy het haar kasteel gesoek, maar daar is nog dae oor en rits gaan ons rits. Ek slaan my "jackpot" ook toe ons by die Cliffs of Moher aankom maar nie voordat ons in die mees ongelooflike omgewing van Shannon rondry nie. Daar is baie min plekke waar mens die berg vol groen, plase met vee op en die see as agtergrond het nie. Mens kan net kyk en kyk en geniet. Waar ou geboue in baie lande onder rommel verdwyn, verdwyn hulle hier in Ierland onder groen plantegroei. Die cliffs is amazing! Klowe wat 200 meter uit die see staan en dit vir 8 km ver!!! Die wereld is net met so wonderlik geskep en mens voel baie klein as jy afkyk na die ongelooflike sig. 'n Groot grot wat sigbaar is, is ook 'n nesplek vir duisende voels -- ongelooflik! Nog twee kastele op die pad, 'n lekker middagete by 'n klein kusdorpie Doolin en dis tyd om terug te draai al is daar nog so baie om te sien. Limerick het ons toe nooit by uitgekom nie, maar met die kasteel en cliffs en al die ander goed was die dag meer as die moeite werd.
Die volgende dag gaan ons poog om die Galway omgewing te doen. Ja ons het nou mooi geleer om te se poog en nie dat ons dit gaan kan doen nie. Ons haal die hoofdorp waar die Volvo seilbootreisies aan die gang is en die plek is chaos. Gelukkig bly ons nie lank daar nie, net lank genoeg om die Ierse linne op die inkopielys te koop. Groot hap uit die sak van sekere mense vat ons die pad in verder in die rigting van Clifden. Maar 'n klomp winkeltjies langs die pad is 'n stop moeitewerd en ons dogters is elkeen geskenkies ryker toe ons weer daar wegtrek. As mens nie afdraai vir drinkgoed of badkamer nie, mis jy verseker 'n klomp mooi plekke en een van hulle is die ou myn. Die paaie gaan deur die pragtigste landskappe en ons sien orals net groen, groen en water! Klein riviere waar mens doodstil kan sit en luister hoe die voeltjies sing terwyl die reen neerval. Ons is amper nie eers lus om verder te ry nie en ek's seker as dit nie gereen het nie, het ons nog meer tyd daar deurgebring.
Nog 'n bordjie langs die pad wys "kasteel" en jip sekere mense het hulle s'n gesien maar ons het nog nooit in een geeet nie en nou gaan ons dit doen. 'n Pragtige plek met 'n heerlike kaggel vir die koue. Die rivier wat langs dit verby vloei maak dit nog 'n mooier prentjie en die kos is lekker! Ons moet begin terugdraai en ja reg geraai, voor ons Clifden bereik maar 'n vol dag met 'n laaste stop vir lekker warm sjokolade. Dis tyd om te begin regmaak om huis toe te gaan en die volgende dag ry ons Dublin toe. Ons blyplek is reg in die middedorp so tussen al die ou geboue en net oorkant die Chrischurch katedraal. Dis eintlik 'n klein huisie bo-op die dak van 'n gebou met selfs 'n klein tuintjie waar ons die bietjie son kan geniet. Parkering in hierdie dorp is natuurlik net so 'n groot probleem en ons gaan gee ons huurmotor 'n dag vroeer in en besluit om voet te slaan deur die dorp en die volgende dag met taxi lughawe toe te gaan. Dis van die geboue in die straat van ons blyplek en ons ky so 'n ietwat gevoel van Dublin. Nou nie die mooiste stad wat ek al gesien het nie maar beslis met sy eie karakter. Dis of die dorp sukkel tussen modern wees en tyd laat stilstaan. So in die besige strate met die motors wat heen en weer jaag, is daar perde. Een ruiter sit op haar selfoon ewe rustig en kuier en die ander een knoop 'n geselsie met 'n fietsryer aan - dit alles in dieselfde besige hoofstraat!

Ons toer is klaar en dis tyd vir huistoe maar ons vat behalwe vir elkeen 'n ekstra tas, kosbare herinneringe saam. Dankie vir die DDT van die DDTT, dit was een groot fees . Wat doen ons volgende jaar?
Hoop julle het dit geniet om saam te toer, ons het dit geniet!

Wednesday, June 3

Hoe sien mens Londen in 24 uur?

Jy maak gebruik van fietse, taxi’s, busse, bote, jou voete en lugvervoer!! Ek weet dat ons toer op ‘n einde is, maar die foto-dagboek is nog nie klaar nie, en ek wil graag nog vertel van Londen en Ierland. Die treinritte het soos ‘n berg voor ons gele, dis maar moeilik om met al die bagasie van een trein op ‘n ander te hop - dit het homself opgelos want die betrokke dag was die treine van Watford stasie nie in werking nie … Dus het ons twee tannies ‘n taxi gereel en heerlik tot voor ons blyplek gery. Ek weet nie of dit nou my storie is nie, maar so boek ons in by die hotel en kla nogal oor die kamers wat km van mekaar is. Tyd is min voordat Annie en Corli ons kry, dus reel ons om sommer kamerdiens. Ek gaan eet in Charmaine se kamer.

Page2


Groen toe ek sien dat sy ‘n heelwat groter kamer as ek het en sowaar ‘n bad ook terwyl ek moet stort. Terwyl ons wag vergeet my vriendin iets in die kamer en hardloop gou op en haar kaart wil haar nie in die kamer toelaat nie? Baie onsteld kom meld sy dit aan … net om te hoor sy het haar tuisgemaak in iemand anders se kamer :-). Na ‘n vinnig trek eindig sy darem ook in dieselfde grote kamer as myne op, nie voordat sy die bad op bruikleen gebruik het nie. Ons vertoning is toe “Joseph” en wat ‘n ondervinding was dit nie!! 'n Volgepakte teater met wonderlike kunstenaars en ‘n fietsrit terug hotel toe, sorg vir ‘n baie opwindende aand. Dankie vir die reel en groot treat Corli!

Page3


Annie en Corli sluit vroeg die volgende dag by ons aan vir ‘n propvol dag om soveel moontlik van Londen te sien. en begin by Covent Garden. By Trafalgar square kan mens skaars foto’s neem want orals sit, hang of staan mense op alles. Ons besluit om op een van die rooi busse te hop en so die maksimum gesien te kry.

Page4


Dit verg werklik al jou vernuf as fotograaf (soos Corli demonstreer) om die plekke afgeneem te kry, maar die gids se stories is interessant en ons sien oa St Paul’s kerk en natuurlik ook die Tower Bridge.

Page8


Dan rits ons verby ‘n klomp ander bekende bakens wat ek nog net op die TV gesien het.

Page5


Die busrit word deur almal geniet en ons klim af by die Tower of London. Die wittoring is reeds in 1066 gebou en is deur die jare as oa ‘n blyplek vir die koningsfamilie en tronk gebruik. Kyk net die toue en toue mense wat wag om in te gaan! Dis by elke besienswaardigheid en mens voel nie lus om met ‘n gestamp na plekke te kyk nie …roomys met flake is baie lekkerder.

Page6



Dan spring ons op een van die ferries om al langs die bekende Thames rivier en ons sien die geboue, brue en torings van ‘n ander hoek.

Page7


Die house of Parliament, Big Ben en Eye of London word so in die verbygaan beloer. En net om te wys ek was daar Vicky, ‘n foto van Corli, Annie, ek en Charmaine :-).

Page9


Natuurlik het ons ook Buckingham Paleis, Westminister’s Abbey, Mansion House, en klomp ander goed gesien en oor die Londen Tower Bridge gery en toe is die strate ingevaar vir “shopping”.

Page10


Nog handpoppe by die bekende Hamley’s – 5 verdiepings van speelgoed met meer ouers as kinders in. Dan soek ons vir ‘n teeplek en kyk hoe loer Charmaine om te sien wie sien haar by die “cupcake” winkel :-). Jy kan nie die kamera ontduik nie vriendin! Tee by die oulikste restaurant waar mens allerhande tee kan drink en die lekkerste skons!!

Page11


‘n Dag in Londen kan egter nie volledig wees sonder ‘n rit in die Eye of London nie. ‘n Hele 135m hoog en ons kan Londen mooi uit die lug bekyk - ‘n wonderlike ondervinding. Dood moeg na ‘n uiters suksesvolle toerdag en reg om Ierland aan te durf.

Monday, June 1

Deur die engelse platteland

Die kuiertjie in Skotland en spesifiek Fort William en omgewing loop vinniger as wat ons wil verby en dis tyd vir ‘n meer “besiger” plek … Londen.

Page1

Na heerlike weer slaan ons die reen en koue. Gelukkig op die berg is daar ‘n lekker plek om warm sjokolade te drink. As julle mooi kyk na die padtekens sal julle ook sien dat om aanwysings in Skotland te volg nogal moeilik kan raak as mens net op hulle “spelling” moet staatmaak.

Page2

Ons slaap oor op ‘n pragtige dorpie plattelandse dorpie. Annie was al vantevore hier en stel voor ons gaan drink warm sjokolade in Keswick. Ek slaan na oor die dorp en moet lag want dis oa bekend vir winkels en ‘n geen parkering probleem. (Dis terloops iets wat ek orals sien - ‘n GROOT nie-parkering probleem) Mens kan regtig lekker deur die strate loop en shop en ek kry eintlik die handpoppe wat ek vir die poppekas benodig in ‘n klein winkeltjie tydens die rondloop.

Page3

Dan is dit tyd vir die sjokolade en wat ‘n verrassing is dit nie vir ons nie. Dis ‘n regte snuffelwinkel met allerhande goed van die grond tot dak gepak en ‘n groot versoeking. Ons kan die interessantste sjokoladegeure kies. Hulle bring dan vir jou ‘n groot glas warm melk, met ‘n blok van jou gegeurde sjokolade, bakkies met room, sjokolade stukkies en klein marsmallows. Mens maak dan jou eie warm sjokolade en dis groot pret en smaak heerlik in die koue. Stem saam Annie, Keswick vir warm sjokolade is ‘n moet as mens in die engelse platteland reis.

Page4

Elke aand word die reis beplan en omdat ons die volgende aand nog ‘n vertonig in Londen moet bywoon, word daar fyn beplan. Ons ry die volgende oggend in Beatrix Potter wereld, die Lake Distric waar sy vanaf 1906 gebly het en die land wat sy ook aan die Nasionale Trust na haar dood geskenk het. Wie van julle het die fliek gesien?

Page6

Die dorpie Wndemere en omgewing lyk net so groen en daar is selfs hasies wat in die lande rondhardloop :-). Ek het egter nie vir Peter Rabbit en Jemima Puddleduck gesien nie. Terug in Watford durf ek en Charmaine die pad Londen toe alleen aan, net om Annie en Corli die aand te ontmoet vir ‘n musical wat ons nog nie weet watter een nie … maar ons sien baie uit daarna!

Friday, May 29

Terug in tyd en nuwe tegnologie

Vir 'n ietsie anders besluit ons om ons laaste dag in die Highlands die Harry Potter-treinroete met die Jacobite stoomtrein na Mallaig te doen. Dieselfde trein is gebruik in die maak van die rolprente.


Page2


Al drie van ons het jare laas trein gery en is baie opgewonde ... veral toe ons sien mens kan tee en koffie ook te drinke kry.


Page1


Weereens is die omgewing iets wat mens net nie genoeg van kry om te sien nie en daar word honderde foto's geneem terwyl die trein stadig ry. Ons onthou kinderliedjies soos tjoeke-paf-paf en sakke pakke :-).


Page3


Op Glenfinnan stop die trein vir 'n paar minute dat almal wat wil kans kry om die trein-museum te besoek. Die twee tannies stry om te besluit wie is nou eintlik die kortste. Die foto wys dit nie, maar Annie staan op haar tone. 'n Skotse doedelsakspeler kom maak ook 'n bietjie musiek om by te dra tot die atmosfeer.


Page4



Page5


Dan is dit verder en kort mense staan selfs op die banke om beter foto's te kan neem. Ai, hulle kan ook maar bly wees die kinders sien nie die voorbeeld wat hulle stel nie.


Page6


Ons eindbestemming Mallaigs reg op die einde van die spoorlyn en is 'n pragtige klein vissersdorpie met die mooiste huise. Kyk bietjie of julle die winkel Spar kan sien?


Page7


Die dorpie is beslis bekend vir hulle vis want dadelik van die trein af koop die mense "fish & chips" en sit langs die strate en eet.


Page9


Die pad terug en nou kan mens regtig sien hoeveel mere daar in die klein deeltjie is.


Page10


Die hoek is ook nou effens beter om die brue af te neem al beteken dit mens moet die kamera by die venster uithou en mik en hoop vir die beste. Dit was sooo 'n lekker dag.

Vir die tegnologie gedeelte moet ek eers verduidelik. Die klere moes skoon voor die volgende rondte en ons verblyf het 'n wasmasjien en tuimeldroer. Annie en Charmaine sit mooi die ligte goedjies in die masjien met die seeppoeier en dan om nie dieselfde probleem as in Edinburgh te he nie, wag hulle vir die water sodat die was kan begin. En ons wag mense .... en ek's spyt my kamera is ver want die kommentare is iets om te hoor. Baie teleurgesteld in die moderne wasmasjien wat was sonder om water in te tap haal hulle die wasgoed uit - net om te sien dit was eintlik die tuimeldroeer! Was dit nou 'n gegiggel :-).



Dus toe hulle later die aand weer probeer is ek en die kamera byderhand net vir ingeval. Hulle benader die masjiene soos mense wat bang is daarvoor en dan as die knoppies gedruk is, staan hulle daarna en staar .... die klank op die video is nie uitgesny nie .... dis regtig hoe ernstig hulle die taak van wasgoed opgeneem het.

Monday, May 25

Hoogland en monsters

Ons roete vat ons nou deur die binneland na die Highlands toe en nog steeds wil die weer nie heeltemal saamspeel nie. Vir die tweede keer ry ons oor die Fort Rail bridge en nog steeds kry ek dit nie in sonskyn weer afgeneem nie. Die roete vat ons deur die mooiste omgewing en mens kan nie genoeg kry van die bome en mere nie.

Page1

Ons ry deur die Perth omgewing verby dorpies soos Crieff en St. Fillans waar ons stop vir iets warms. Dan is dit op in die Hoogland deur Glen Coe, Onich voor ons ons bestemming Fort William bereik. Dis regtig ‘n pragtige klein vakansiedorp wat so onder die Ben Nevis berge sit aan die eenkant en ‘n groot meer aan die ander kant. Die berge het terloops nog sneeu op!

Page2

Ons loer ook vinnig na die ferry wat vandaar na die ander kant vaar en vang dit tydens spitstyd. Elke dag “leer” ons iets en vandag kan ek net se dat “miemie” se oe nie meer so goed lees nie :-).

Page1

Die blyplek is reg langs die kanaal waar die bote deurvaar en naby baie van die bekende besienswaardighede. Die volgende dag vroeg gaan soek ons die monster van Loch Ness en by die beginpunt verkyk ons onself aan die grootte (dis 27 myl lank) g’n wonder die monster kan homself so wegsteek nie. Natuurlik het ek en Charmaine ook ons teorie oor wat van die monster geword het.

Page2

Langs die pad nog een van die mooi kastele, die Urquhart kasteel wat so teen die meer sit.

Page3

En dan aan die einde kry Miemie, Sandy en Ann die monster en hulle staan baie dapper vir ‘n foto – die ander mense dink ons is koekoes. Ek lees ook dat die skotte se die beste manier om die monster te sien is om genoeg whiskey te drink, want dan sien jy hom maklik. Duidelik was ons hot chocholate nie sterk genoeg vir die oe nie.

Page4

Ons ry verder na die dorp van Inverness. Hulle se alle paaie in die hoogland lei na Inveness wat die omgewing se “hoofstad” is. Die rivier Ness vloei deur die dorpie en dis prentjie mooi.

Page7

Ons loop deur die strate en neem honderde foto’s en kry ook ‘n kans om deur een van hulle “malls” te loop. Sussie die grootste Monsoon wat jy al in jou lewe gesien het staan reg in die middel van die sentrum. (Het ongelukkig nie iets gekoop nie maar gedink aan jou en dis mos die gedagte wat tel of hoe).

DSC_0058

Die pad terug vat ons oor berge en dale en die Eilean Donan kasteel op die Duich meer wat ek so deur die venster afneem is ‘n goeie en gepaste afsluiting vir die dag.

Thursday, May 21

Vrede vir die siel

Ons volgende roete word beplan rondom ‘n besoek aan die Holy Island. Omdat die see gety ‘n rol speel in die tye wanneer mens op en af van die eiland kan kom, maak ons eers ‘n draai by ‘n klein dorpie met die naam van Haddington.

Page3

Dis vroeg oggend en die dorpie is doodstil en so rustig dat ons nie regtig wil verder nie. Ons wil gou-gou hulle publieke toilet besoek wat mens seker kan se is by die “kerkplein” en die omies wat aan die straat werk – die straat terloops is nog met die ou hobbeltjies soos daar by Markplein in Kaapstad se die dorpie gaan eers vanaf 9 uur toilet toe. Later voor ons vertrek gaan ons gou en was dit nou ‘n belewenis!!

Page4

Ek moes eintlik met my kamera gaan want die toilet het nog elke jaar vanaf 1995 die “loo of the year award” gekry :-). Dis silwerskoon en al die sertifikate hang die toilette vol en ons spandeer ‘n lang tyd om die toekennings te lees. Intussen kom ‘n ou tannie en vra omverskoning dat die toilette nie voor 9 oop was nie. Hier is ons net ‘n paar minute in die dorp en almal wat leef en beef weet van ons. Hierdie dorpie is verskeie kere tydens die “War of Independence” vernietig en weer opgebou.

Page5

Die Tyne rivier omring met die lieflikste parke omring die dorpie en ons kan net nie genoeg van dit kry nie. Die mense vertel graag van hulle dorpie en die “nuus van die dorpie” is op die oomblik die swaan wat ‘n nes het en almal kom kyk elke oggend hoe dit met haar gaan. Die klein kerkie dateer ook vanaf 1462 wat gedeeltelik oorgebou is na ‘n aanval in 1548 …. jinne dis oud.

Page6

Maar mens voel ‘n rustigheid hier wat ons nog nie by enige van die ander dorpe gevoel het nie en dis ‘n goeie begin vir die dag.

Page7

Ons volgende stop is die kusdorpie van North Berwick waar mens nog die “oud” voel reg langs die see.

Page8

Berwick-Upon-Tweed kan mens beskryf as die “brue-stad” want daar oor dieselfe rivier kry mens brue van oud tot moderne wat jou oor die rivier vat. Ons bestemming van die dag … die Holy Island.

Page9

In 625 het Paulinus na die Northumbria omgewing gekom en duisend Christene gedoop. Met die kroning van koning Oswald het hy gevra dat daar ‘n monnik na die area gestuur word en so maak Aidan in 635 sy opwagting. Hy is later die Biskop van Lindisfarne gemaak en het ‘n “monastery” hier begin - ‘n plek waar mens kon kom bid en leer. Die gety is laag en ons saam met honderde ander stroom op die eiland af met net 5 uur om alles te sien voordat die gety terugkom.

Page10

Die kasteel het sy ontstaan aan ‘n “wet” van destyds dat alle “havens” beskerm moet word teen die Skotte. Die blokhuis is rondom 1548 gebou en gedien as blyplek vir soldate.

Page11

Gedurende 1944 is dit deur sy toe eienaars, ‘n broer en suster de Stein aan die Nasionale Trust gegee. Ons beloer en bekyk dit omtrent van alle kante.

Page12

Die oorblyfsels van die Norman kerk is besonders om te sien en mens kan nie die strome mense daar glo nie.

Page13

Daar is ook ‘n standbeeld van St. Aidan wat die eerste monastery of die eiland begin het In sy hand hou hy dan ook ‘n fakkel (vlam) wat die uitdra van die Chistendom simboliseer.

Page14

Ons besoek ook die klein kerkie wat tussen 1120 en 1145 gebou is. Dit is rondom 1860 weer gerestoreer en ook gedurende die 70tigs. Die besonderse glasvenster van St. Aidan is ter nagedagtenis aan die familie wat voor 1944 eienaars van die eiland was.