Thursday, October 18

Beyond Words Konferensie - 1

Soos die van julle wat gereel lees weet, het ek gedurende die Eid vakansie (lang naweek) 'n jeugkonferensie in Dubai gaan bywoon. Wat 'n ondervinding! Daar is so baie wat ek kan en wil vertel maar sonder om te dupliseer...so vir die terugvoer van die sessies wat ons bygewoon het, as daar van julle is wat wil lees en leer, loer gerus oor die volgende week of twee by ons kindergroep blog www.adkindergroep.blogspot.com in en lees 'n volledige beskrywing van die lesse en wat daar gebeur het.



Die konferensie Beyond Words word deur die Le Grain de Ble groep (van Switzerland)in samewerking met die Gulf Bible Society gereel. Hierdie ouens se basis is in Lebanon en is dit die vierde konferensie wat hulle reel ....die voriges het oa plaasgevind in Syria, Jordan en Baghdad kan julle glo?!? Die vereeniging het verskillende vertakkings waarvan die konferensie vir opleiding aan leiers wat met kinders werk een is. Die ander een is om kampe te reel en met kinders van spesifiek oorloggeteisterde lande op die kampe te werk. Ek en Charmaine is genader en wie weet dalkies het ons 'n kans om binne die volgende jaar op een van die kampe te gaan werk ....!!!
Daar was 9 rigtings waaruit ons kon kies, soos ek reeds vertel het en daarna woon jy elke dag een van die sessies by. Die aanbieders het van die Amerika, Engeland en Australia gekom. Die dag programrooster was redelik dieselfde en dit sluit die kos in (daarvan moet ek julle vertel).



Ons oggend program het begin met die Praise & Worship deur verskillende kerke wat die konferensie bygewoon het, dit sluit die Roomse en Arabiese kerke in.

Dit was ongelooflik om Arabiese jongmens te hê wat die sang lei. Ons ken Arabiese kinders meestal as moslems.
Ek hoef julle nie te vertel dat die Roomse Kerk se jongmense my net so uitgeboul het nie. My beeld van hulle dienste en sang was niks soos wat ons tydens die konferensie ervaar het nie. Hulle het dieselfde liedjies gesing wat ons in die kerk sing wat my net weer laat besef het dat sonder dat mense weet, God mense wat lief is vir Hom tog nadertrek om dieselfde te dink en voel. Die oggend "preek" is deur 'n Engelse omie gedoen en hy uitstekend. Die mense het behoorlik aan sy lippe gehang en sy stories en lesse baie geniet. Ons het ook die Just4kids gehad wat 'n poppespel boodskap gelewer het.
Daarna was dit 'n geskarrel na jou aanbieding toe. Mens kon nie vir 'n spesifieke kursus inskryf nie en elkeen het beperkte sitplekke gehad, so jy moes regtig hardloop om jou plek te boek om die sessie by te woon. Alhoewel ek meer vir 'n vaste program met reels en lesse is, was dit 'n goeie manier om die ouens op "Arabiese" tyd betyds te maak. Na die eerste les het die ouens wat drentel en hulle tyd vat geleer dit werk nie. My eerste sessie van elke dag was Storievertel! Laat ek julle vertel dat dit nie net normale storievertel was nie, hierdie Amerikaner wat in Engeland bly was uitstekend. Hy het ons ouens in die groep laat rolspeel en kans vir uitsit was daar nie. Ons was skilpaaie, leeus, sterretjie, Jerigo se mure en allerhande goed. Luister bietjie hoe vertel hierdie man 'n storie .....




Vir meer oor die sessie lees die kinderblog later die weekMy tweede sessie van die oggend was Hi-Tech. Nooit te oud om te leer nie het ek regtig "kennis gemaak" met my ou skootrekenaar. Ek het nie eers geweet dit kan al die goeters doen nie. Hier het ons spesifiek gekyk hoe mens jou lessies vir jou kinders op verskillende maniere kan aanbied. Ek het geleer slides maak met prentjies, bewegings en video clips, hoe om rolprent, liedjies en geluide op te sit, hoe om speletjies te maak vir die les en oooohhh hoe om met my "bloutand"(dit klink nie goed nie ne) foon, die rekenaar en slides van 'n afstand te beheer. Ek's nou eintlik te slim vir myself en te gevaarlik vir die rekenaar dink ek. Meer hieroor met oulike websites wat julle kan gebruik, op die kinderblog later.


Dan was dit tyd vir middagete en dit met die res van die middag regverdig hulle eie blog.

Tuesday, October 16

Tyd vir alles

Aan alle dinge, goed en sleg kom daar 'n einde. ...

So was dit dan ook tyd om my ou motortjie van 6+ jaar te vervang. Nou weet julle seker dat 'n vrou en 'n man dink heeltemal anders oor motor koop. So was dit ook in die Holloway huishouding. Bv.

Eddie stel voor ek vat sy motor dan koop hy vir hom 'n kleiner een - Ek dink daardie groot 4x4
sal glad nie gemaklik kan parkeer by my gunsteling mails en koffiewinkels nie, so dankie rein
gedagte, maar nee dankie ek hou van my motortjie. In elk geval as hy so 'n nice motor het,
hoekom wil hy dit vir my gee?

Toe het hy begin kyk na ander motortjies vir my, en met allerhande broodblik modelle by die huis
aangekom - Ek dink nee, ek hou van my motortjie. Dit voel reg, die grootte is reg, alles is reg.

EINDELIK stem almal saam dat dit wel tyd is vir 'n nuwe motor en dat ek maar weer dieselfde motortjie net nuut kan kry. As bonus kry ek 40% van my ou motor se koopwaarde terug vir inruil. Ek het mos gesê dis 'n oulike motortjie en na 6+ jaar het ek maar net 76000km met hom gery, soos die "ouer" mense sal sê, die enjin is nou eers ingeloop.

Maar selfs motorkoop in die land is nie "normaal" nie. Julle ouens wat praat van Afrika tyd, weet nie waarvan julle praat voordat julle nie Arabiese tyd ken nie .... hierdie mense het nie lank terug op kamele gery .... en niks maar niks jaag hulle aan nie.

Wanneer jy 'n motor hier koop, moet jy voordat jy dit kan lisensieer, eers verseker (nie maandeliks nie, maar jaarliks). Dan met jou papier, die versekeringsbrief, 'n brief van jou werk wat sê jy mag maar 'n motor koop, paspoort, ens. ens. is dit dan af na die lisensiekantoor met jou ou motor. Die handelaar bring die nuwe een. Daar moet die oue eers deur die toets en dan val jy in die ry om te kyk of daar enige boetes die afgelope jaar na jou toe gekom het.

Laat ek myself gou in die rede val hier....verkeersoortredings word op rekenaar geplaas sonder dat jy daarvan weet, en een keer 'n jaar wanneer jy jou motor se lisensie betaal, kry jy jou lysie van boetes wat partykéer 'n groot skok kan wees. Wat ook nice is, is dat jy slegs jou motor kan registreer vir die nuwe jaar as hy deur die toets gegaan het. Sal dit nie baie probleme met taxi's in ons land oplos as dit gebeur het nie?



Vir baie mense is die boetegelde so hoog, dat hulle die motor net so laat staan iewers op 'n parkeerarea en liewers 'n nuwe motor koop. As al die dinge dan gedoen is, dan eers kan jy jou nuwe motor kry. Hier is 'n oue wat in ons omgewing staan.


Ek moet julle vertel dat my ou motortjie nie die toets deurgekom het nie .... hulle het hom gedop omdat sy dak se kleur anders as die motor s'n is. Kan julle dit glo? Nie duike, ligte wat nie werk of so iets nie .... maar verfkleur wat gebleik is deur die son!! Wat die boetes betref was daar twee (nogals nie sleg na 10 jaar bestuur in die UAE nie), een moet myne wees, maar die ander een seun is joune!!!
Half twaalf in die aand kom Eddie uiteindelik van die registrasie kantoor met die nuwe motortjie! .

Afrika tyd ....se voet!
Nou het ek my nuwe "ou" motortjie wat hopelik my net soveel goeie km sal gee as die ou ene en kry ek die kans om dit te bestuur voordat die seuns weer kom kuier.

Friday, October 12

Ons woon konferensie by

Die volgende vier dae woon ons 'n Kinderbedieningskonferensie in Dubai by. Dit word gereel deur die Beyond Words groep en die aanbieders kom van Engeland, Amerika en Australia. Die Engelse is nogal groot mond oor die rugby en nie eenkeer word die Springbokke genoem nie. Kom more gaan ons hulle beslis reghelp.

Hier is almal besig om te registreer vir die konferensie. Ek vermoed dat ons meer as 300 mense hier is. Groepe van Bahrain, Qatar, Oman en Lebanon het gekom om dit by te woon.

Kostyd voordat die konferensie begin en almal wag geduldig in die kosry.

Ons groep vanaf ECC Abu Dhabi sit saam by die tafel en eet. Soos julle kan sien is baie lande hier verteenwoordig, maar uit die groep van 11 is daar darem 3 Suid-Afrikaners.

Vol glimlagte sit die klomp en wag vir die konferensie om amptelik te begin. Die twee rye is van die ECC kerk in Abu Dhabi se verteenwoordigers.
Die eerste twee manne wys wat ons in die drama werkswinkel sal leer, dit was verskriklik oulik. Charmaine gaan hierdie ene bywoon en hopelik sal ek julle daarvan kan vertel.
Hierdie man met sy kameel bied "puppetry" aan.

Die voorskou van die "Clowing" was uitstekend!
Hierdie man kan 'n storie vertel ek belowe. Almal in gehoor neem deel terwyl hy alles drie keer herhaal en met bewegings doen. Ek hoop om by die werkswinkel in te kom.
Hi Tech is hierdie werkswinkel en sal my sommer baie slimmer maak met die rekenaar vir al die aanbiedings vir die kindergroepe en blogs.
Dan is dit tyd om te luister wat gedoen gaan word in die Worship & Praise werkswinkel. Die twee het die hele groep aan die sing en beduie gehad.



Nog een wat goed afgegaan het is die ""Keep Fit". Almal het saam beweeg.
Die buikspreker met sy Duggee (handpop) was net so goed.
Ons maak amper 'n uur later as beplan klaar, maar almal sien uit na more en al die nuwe dinge wat ons gaan leer. Miskien kry ek nie eers kans om gereeld te blog nie, maar ek sal julle graag wil vertel hoe die werkswinkels afgeloop het.

Thursday, October 11

Einde van Ramadan met Eid

Uiteindelik die einde van Ramadan!!! Wat voel soos 'n ewigheid van alles wat toe is op ongelee tye, verkeer wat iets afgryslik is, diens by maatskappye wat nie-bestaande is en allerhande ander ongerieflike dinge, is die 30 dae van vas vir die mense in die land amptelik verby. Dit beteken 'n paar dae vakansie met die viering van Eid ul-Fitr of Id-Ul-Fitr عيد الفطر wat sommer kortliks Eid genoem genoem word. Dit is 'n Moslem vakansiedag wat die einde van Ramadan, die maand van vas aandui.




Alles hier gebeur met die "sighting" van die maand en hierdie foto wys hoe die maan lyk met begin van Ramadan en dan weer aan die einde. Orals is manne wat spesifiek die maan dophou, om aan te kan dui wanneer die maand van Ramadan begin en/of eindig. Nou Fitr beteken die breek van die vas. Die oggend van Eid in 'n tipiese muslim huishouding word almal vroeg wakker. Na die eerste bid van die dag, kan die familie dan 'n klein bietjie eet (weet nie of hulle weet van klein bietjie nie) om die einde van Ramadan te vier.


Hierdie is 'n kaart soos hulle opstel wanneer en waar die maan gesien word en hoe dit oorbeweeg na die verskillende lande. Bidtye is dus nie vir al die moslems oor die wêreld op dieselfde tyd nie. Selfs in Abu Dhabi is daar 'n vier minute verskil van Dubai s'n. Nou wanneer die ouens hulle eerste ontbyt gehad het, gaan hulle na spesiale "dienste" toe wat slegs in moskees gehou word op die dag. Hulle bid 'n baie kort gebed en luister dan na die khutba, (die preek). Daarna omhels hulle mekaar in die gees van vrede en liefde en begin die groter as groot eet kompetisie. Huise van familie en vriende word besoek om God te bedank vir al die seeninge. By elkeen van die huise eet hulle natuurlik.

Eid is 'n baie feestelike geleentheid en 'n dag van vergifnis, geestelike oorwinning (vir die wat regtig gevas het), vrede en eenheid. Hulle sê ook dankie vir God vir die krag en sterkte wat hulle glo hy hulle gegee het gedurende die maand en vir die hulp om deur die maand te kom. (Ek's bly ons kry elke dag krag en sterkte en nie net een maand per jaar nie). Dis ook 'n tyd van gee en deel en almal trek baie feestelik aan. Kinders kry nuwe klere en speelgoed. Familie en vriende gee vir die kinders geld. Op hierdie dag lui ons deurklokkie ook aanhoudend soos die kinders ons kom Eid Mubarak toewens en geld bedel in 'n land waar bedel verbied is!

Ek voel ook na feesvier want nou kan ons weer soos normale mense in die strate ry, winkels besoek, eet en koffie drink!

Wednesday, October 10

Sport uitslae

Hierdie week was daar gelukkig net een volleyball wedstryd. Ons speel teen DAA (Dubai American Academy) en met die Ramadan spits verkeer, daag hulle 'n hele twee uur laat op.

Ons meisies besig om op te warm. Nelmari nr 25 en agter haar Jessica vd Walt wat 'n uitstekende wedstryd gehad het.

Hier wag hulle vir die ander span om te dien met Nelmari op die voorgrond. Sy is ook die spankaptein.
Hierdie partydige groep toeskouers is almal Suid-Afrikaners en die kommentaar is iets wat mens moet hoor. Hoe dan anders met 50% van die American Int School se kinders wat Suid-Afrikaners is?
Die afrigter gebruik hierdie keer haar beste spelers vir die eerste twee stelle voordat sy die ander nuwelinge 'n kansie gee. Ons meisies speel baie goed, en DAA is nie te wonderlik nie. Wen die eerste twee stelle en verloor die laaste een met een punt. AISA 2 - 1!!


GO LIONS