Sekere advertensies sal mens seker nooit vergeet nie en die Chev se ene is verseker een van hulle. Hier in die woestynland is dit braaivleis (altyd), winterweer (asb net nie son nie) en perderesies.
Een van die lekkerste uitstappies hier omdat dit in die winter plaasvind en gedurende die aand wat ons die geleentheid gee om buite te wees en nie te dood van die hitte nie, is die perderesies. Met 'n Suid-Afrikaner by die klubhuis het die golfbaan (wat in die middel is van die perderesiesbaan) die wedrenaande 'n braaiaand gemaak, en mens kuier daar vir die lekker braaivleis en bykosse en kan ook loer na die perde wat daar verbyhardloop.
Hulle wys ook die wedrenne op tv's en orals word daar klein weddenskappe om die tafels vir die tafels gemaak. Party kyk na die kleure van die jokkie se klere, ander kyk of dit 'n sheikh se perd is of nie, en party kyk selfs of die perd al 'n vorige wedren gewen het. Die wedrenne is 'n halfuur uit mekaar en rondom ons tafel verloop die program min of meer as volg. Daar word ernstig besluit watter perd (die ou wat laaste se kry die perd wat niemand gekies het nie). Dan word daar voorgereg ingeskep en met die laaste happie is dit tyd vir die wedren.
Amper die hele "restaurant" beweeg dan af om langs die baan te gaan staan en hulle perde aan te moedig. Ek kan gewoonlik met vrymoedigheid foto's neem, want my perd is of gediskwalifiseer of vir een of ander rede reg agter.
Dan weer terug om die volgende perd te kies, die volgende dis en halfuur later weer langs die baan. So gaan dit dan aan totdat die laaste resies verby is en dan het mens ookal heeltemal teveel geeet. Dis regtig een van die lekkerste dinge om hier te doen in die aand, net omdat ons buite kan wees sonder 'n lugversorging .... en natuurlik die lekker braaivleis.
Nou is die helfde van die kindertjies terug in SA. Ons sien uit na julle volgende kuier en begin al klaar soek na nuwe plekke om te doen en te sien!