Showing posts with label Emirates Palace Hotel. Show all posts
Showing posts with label Emirates Palace Hotel. Show all posts

Sunday, June 17

Kinders speel toeris

Een van die goed van hierdie land is dat mens nooit kan dink jy het alles gesien nie, want byna daagliks voel dit vir my is daar iewers iets nuuts of 'n nuwe gebou wat opspring.  Dis lekker om die kinders by die huis te he en alhoewel Nelmari slegs Januarie weg is, was William meer as 'n jaar laas hier, dus is baie goed vir hom redelik nuut.  Ons het ook 'n nuwe predikantspaar wat in die hitte hier begin het en het ons sommer besluit om so van die water af te kyk wat het nuut bygekom ... en hopelik sal die seelug bietjie help vir die hitte ook.  (Ons somer begin nou eers en teen 10 uur toe ons met die rit begin het, was die lesing 41 grade C) 

DSC_0015

Oppad na die boot toe, mens wens eintlik jy kan 'n a/c met jou saamdra.
DSC_0042

Die Nasionale theater reg langs die water

DSC_0044

en langs die ou Heritage village

DSC_0051
Die een hoe gebou na die ander begin nou opspring - hierdie een met sy interessante onderkant, lyk soos 'n vuurpyl.

DSC_0053

Met ons aankoms in Abu Dhabi was Eddie se werk een van die hoe gebou in die dorp en 'n groot baken vir wanneer ons verdwaal het.  Nou staan die gebou (met die witbal op) skoon verdwerg teen die ander wat rondom gebou word.
DSC_0059

Die lug is baie duinserig op die oomblik (baie sand in die lug), maar jy kan nog steeds die mooi groen van die tuine sien

DSC_0075

Die groepie voor die ou Mina port - en ons kry nie warm nie, ons KRY WARM.
DSC_0085

Die ou het ook so 'n bietjie met die boot gespeel en ons moes vashou al wat ons kan.
DSC_0103

'n "ruimteboot" wat in die marina geland het :-)
DSC_0099

Die GROOT 7-ster Emirates Palace Hotel is skoon verdwerg agter die klomp geboue wat net agter dit gebou word.
DSC_0092

Lekker windverwaaide groep aan die einde. 

Ons sal heelwaarskynlik nog 'n paar watergoed in die hitte doen voordat die kinders moet terug na die lekker koue SA.

 


Wednesday, October 27

Besoeker leer die dorp ken

Ek het julle mos alreeds gese dat dit bietjie dol in die Holloway huishouding gaan. Met al die aktiwiteite vertrek Nelmari ook vandag Doha toe vir 'n volleyball toernooi en word daar rondgeskarrel daarvoor. Eerskomende naweek word daar 'n beradingskursus vir jeugleiers aangebied en Willem Semmelink by wie ek jare terug die kursus gedoen het, is in Abu Dhabi om dit hier te doen. Lekker bederf vir ons mense hier. Natuurlik moet daar tussen al die werk wat ons vir hom uitgedink het ook 'n bietjie dorp gewys word.

Die wat al lank my blog volg het die plekke al gesien en sal selfs die nuwe uitbreiding kan raakkyk en daarom gaan ek nie teveel foto's van die plekke sit nie, maar vir Rina, Marianne, Tani en Righardi, Willem se vier vrouens in Suid-Afrika wil ek bietjie wys wat hy hier in die UAE aanvang.

Page1

Die eerste dag het ons net 'n bietjie gekyk hoe Abu Dhabi lyk en gou-gou vir teetyd by die hoe toring restaurant gaan ietsie drink. Willem het kansgekry om die dorp van hoog te beloer en baie foto's te neem.

Page2

Aandete het ons hom na 'n restaurant geneem wat van die plaaslike kosse het. Julle sal op elke foto sien hoe het die kos meer en meer geword soos ons hom al die disse laat proe het. Elriza "krap" so onder die brood vir nog vleis :-).

Page3

Heeltemal oorhoeks geeet moes ons dit afstap langs die Cornish. Dan neem mens altyd die besoekers deur die duikweg waar die mooiste mosiak prentjies is. Elriza wil he Nelmari moet die hare-dans saam met haar doen en Willem met 'n harem vroue in die oase.

Page4

Die weer raak regtig nou al lekker om saans bietjie te stap en in die agtergrond kan julle die winkelsentrum sien. In daai toring het ons die middag iets gedrink. Elriza en Willem gaan voel die water wat nou nie meer die jaar kokend is nie, net lou warm.

Page6

Die Emirates Palace Hotel word ook besoek. Agter Willem is een van die groot handgeweefde muurbehangsels van die hotel.

Page7

Nog prentjies van die hotel en van Willem wat besig is om vir Rina te sms.

Page8

Gou-gou deur die waterfontein loop om die voete nat te maak.

Daar is nog baie stories van ander besoeke en shopping ...

Lekker week vir almal.

Thursday, December 20

Tee by die paleis

'n Besoek na die Emirates Paleis hotel is altyd lekker en 'n moet vir kuiermense om te sien. Na nog 'n oggend in die winkels vir amper die laaste paar inkopies saam met Charmaine, ontmoet ons mekaar by die hotel vir tee.
Die hoofingang bly nog altyd vir my iets ysliks. Dit word natuurlik net oopgemaak vir baie belangrike mense wat na die deel toe gaan waar die royals uithang. Ons ander moet maar by die syhek in.
Vanjaar se kersboom is baie groot en Nelmari wat nie te kort is nie, lyk sommer verdwerg langs die boom.
Koek en 'koffie (tee vir sommiges) is 'n ernstige storie en mens moet diep daaroor dink lyk dit vir my as ek so na Corli en Charmaine kyk.

Die geweefde mat wat die hotel in die aand uitbeeld is baie groot
Aan die anderkant is die hotel ind ie dag. Ek wonder hoe lank het dit hulle geneem om die mat te weef.
Een van die "klein" hotelvensters waar Annie en Corli staan. Buitekant die hotel se strand.

Die hotelontvangs en die twee kuier saam met die oorlede Sheikh Zayed en huidige een Sheikh Khalifa.
Doer in die verte kan julle vir Annie, Corli en Nelmari sien afgestap kom van die hotel af. Hier reg voor op die foto is 'n waterfontein.
Annie trek haar skoene uit en vat die kortpad motor toe....deur die fontein.

Weet nie of sy die reendans doen of vir die water koes nie.
Corli was tydens haar vorige besoek by die dhowyard so sy kan toergids speel en vir haar ma van die bote verduidelik.
Die Diwan paleis op die agtergrond. Hulle bou aan noudat daar 'n nuwe sheikh in bly en dit lyk soos twee woonstelblokke wat aangebou word so groot is dit.

19de Straat se strand en die twee kan nie glo die see kan so rustig wees nie.
Ek dink dis skulpies wat hule hier afneem ....
Die aand was ons internasionale Kers sangaand. Corli en Annie het die geleentheid gehad om hier in die Midde Ooste saam met ons in Afrikaans te sing. Hier is ons SA "band" besig om my af te neem maar ek kon ook 'n skoot inkry. Meer oor hierdie aand vertel ek vir julle later.

Thursday, July 26

Toer deur Abu Dhabi - 5

Ons kan nie by die Emirates Paleis hotel kuier sonder om tee en koek te geniet nie. Die koek kos Dhs30 (R50) vir 'n stukkie en die tee is ook Dhs30. Amelia bied aan om die rekening te betaal en stik amper in haar tee toe die rekening Dhs440 (R700) vir 3 tee's en 3 stukkies koek is. Gelukkig kon ons die fout opspoor. Hulle het ipv 'n snytjie sjokolade koek ons vir 'n hele koek van Dhs210 laat betaal. Wie van julle sal R300 vir 'n sjokolade koek betaal? Ek het geen idee wat een deesdae by die tuisnywerheid kos nie, maar jinne ons mis 'n tuisnywerheid hier in Abu Dhabi.

Ek moet darem noem dat die koek met gerolde goud versier is. Waaroor sal Amelia so lag wonder ek? Waar is daai kierie ... tug is nodig!!!


Ons is oppad en hier is die fontein van die ander kant.
Die paleis met sy mooi grasperke.
Ons besoek nou die Ou Wit Kasteel. Hierdie is die moskee voor kasteel.
Die ou Wit Kasteel was vroeer jare teen die see. Hulle het nie die kasteel nou agtertoe geskuif nie, die see is net so drooggelê. Hierdie kasteel het 'n ou toring waar destyds die heersende familie se vlag gewaai het. As jy die "land" wou heers, moes jy die kasteel beman.... Dit was bietjie warm om weer binne te gaan kyk maar dis pragtig. Jammer dat hulle nie regtig die plek restoreer nie. Met 'n land wat nog jonk is, dink mens mos nog nie daaraan voordat dit amper te laat is nie.
Amelia loer "oor die onderdeur" van die kasteel se hek. Kyk daai mooi teels aan die bokant.
Daar op die linkerkant steek 'n deel van die ou oorspronklike toring uit. Daar was altyd 'n klomp bome rondom die kasteel en hoekom hulle dit nou moes uithaal sal net die Arabiere weet.

In dieselfde blok is die Cultural Foundation. Hier het ek vir julle die kamele op 'n keer gewys. Meeste van hulle is nou weg, net 'n verdwaalde een hier en daar. Die gebou wat agter uitsteek met die bal op, is die kantore waar Eddie werk .... Etisalat (Eddie-se-lat).

So bly daar is darem een kameel oor dat hulle hom sommer 'n klapsoen gee.
Daar werk ek wys Charmaine .... dis die ander gebou met die bal op, Etisalat se streekkantoor.
'n Replika van die ou dhows by die Cultural Foundation.
'n Arabiese sitkamer en daar word so bietjie gerus in die koelte. Die "grashoed" voor, is die deksel wat hulle op hulle grasborde sit.

Daar is "local" produkte om te koop, so volgende keer gaan ons soontoe.













Wednesday, July 25

Toer deur Abu Dhabi - 4

Uiteindelik is ons by die Palace Hotel se agterhek. Mens kan ten minste die groot hek van daar af sien. Die grasperke is lieflik en met die water wat so spuit is dit moeilik om jouself in te dink ons is eintlik in 'n woestyn.Die hotel vanaf die ander oprit. Alhoewel ek al 'n paar keer daar was met verskillende besoekers, bly dit 'n indrukwekkende gesig.
Van die fonteine aan die onderkant van die hotel. Die water lyk baie aanloklik in die hitte
Amelia trotseer die hitte en gaan loop tussen die fonteine rond. Ek en Charmaine verkies om in die lugverkoelde motor te sit en foto's neem.
In die parkeergarage is WIT Rolls Royces, BMW's, en ander deftige motors volop. Dis die voertuie waarmee die hotel se gaste rondgery word. Ek neem aan 'n gewone kamer se mense ry in die BMW terwyl die suite s'n in die Rolls ry.
Die ingangportaal en Amelia en Charmaine wag vir 'n afspraak met die sheikh .....
Twee van die baie sithoekies in die hotel as jy sal wil kuier.
Die hotelvloere van onder af en die hoof koepel. Waar ons staan en foto's neem is 'n groot oop ruimte met marmervloere. 'n Paar huise kan daar inpas dis ongelooflik ruim.
Is dit 'n foto of skildery wonder hulle? Kyk hoe klein lyk alles teen die GROOT van die hotel.
Aan die eenkant van die trap hang die tapyt van die Emirates Palace Hotel in die dag ....
En aan die anderkant die Hotel in die nag. Dis reuse matte en lyk selfs soos 'n foto. Ek weet nie hoe lank het hulle daaraan gewerk nie.
Vanaf die trap 'n foto by die versierde venster uit. Kan julle die see sien? Gister se foto's was van daardie kant af geneem.


Ons is nog nie klaar gekuier in die hotel nie, maar kom lees more weer verder