Wednesday, October 31

Oppad Syria toe

Groot opgewondeheid vanoggend douvoordag toe ons Nelmari by die skool gaan aflaai vir hulle volleybal toer Syria toe!


Dit gesels en lag en vertel en alles terwyl hulle wag vir die res van die maats om ook op te daag



Nog een wat moet kom, maar die meisies is gereed om te vertrek. Hulle gaan teen spanne van oa. Kuwait, Egipte, Syria en Doha deelneem.

Gereed om te vertrek en so gou moontlik onder ma en die kamera uit te kom. Hulle sal weer Sondagaand terug wees. Sterkte met die toernooi Lions!

Monday, October 29

Dis anners as by die huis

Ek weet nie altyd wat die mense by die huis se prentjie/indruk van die Midde Ooste en spesifiek Abu Dhabi is nie, heelwaarskynlik anders as wat ons dit ervaar. Die beste manier om hier te "oorleef" is om te vat dit wat logies is en die teenoorgestelde te doen ... dan is mens omtrent in pas met wat hulle doen.
Hier is sommer net 'n paar foto'tjies van dingetjies in en om Abu Dhabi.

Abu Dhabi ontwikkel onder homself uit. Nie lank terug nie het ons op 'n boot by daardie "jetty" geklim om op 'n eiland te gaan braai. Nou skuif hulle die see nog verder weg, en die eiland is ook omskep (wil binnekort daar gaan loer en vir julle wys)
Hulle sal tekkies, rolskaatse, ysskaatse en wat ookalskoene aantrek .... maar die swartrok bly!

Een ding wat hulle nie sal inboet nie, is hulle gerief selfs in die woestyn. Dis nie snaaks vir hulle om voor enige winkel en restaurant te stop, te toet en hulle bestelling te plaas nie. Dit beteken eintlik elke winkel is 'n drive thru ne.
Die wonderlike U-draai. Mense jy sal na 'n plek toe ry en dit dan op jou linkerkant byvoorbeeld sien, maar moet aanhou en aanhou ry tot jy 'n U-draai kan maak. Om sommer net af of in te draai en km of km te bespaar word nie hier gedoen nie, selfs nei eers by jou blyplek nie.Dis seker die rede hoekom elke vulstasie enige tyd van die dag of nag lyk asof die petrolprys opgaan. Ek weet as mens by die huis so 'n tou motors by die vulstasie sien sal jy onmiddelik ook in die ry inval want miskien gaan die prys op of die petrol is op .... hier lyk dit altyd so.... en dan kan die ou agter in die groot 4x4 so op die toeter lê want hoekom beweeg die motors nie.Hulle vang baie keer baie stupid dinge aan. Eintlik snaaks om hulle te sien motor stoot want gewoonlik is dit hulle drywers wat die probleem vir hulle moet oplos (miskien is daardie drywers ek weet nie). Jy moet hulle sien as 'n motorwiel pap is ....die hoeveelheid ouens wat na die motor staan en staar en wonder watter knopie moet mens druk vir die wiel om homself te vervang.
Padtekens, naamborde en winkelname kan vir groot pret sorg. Ek het van hulle al met julle gedeel, maar nog steeds vat hierdie een die prys. Die pad kan kort raak terwyl jy vir die road surprises soek.
Is dit 'n slegs Arabier voetoorgang, slegs iemand met rokke of sommer vir almal?
Alhoewel Abu Dhabi mooi groen geplant is en daar orals fonteine is, wys hierdie bordjie vir jou dat gras hier in die woestyn, is einlitk ook spesiaal en nie algemeen nie.

Sunday, October 28

Oulike kompleks

Ek het nog belowe om te vertel van die kerkkompleks in Dubai. Het nie vreeslik eerstehandse inligting oor dit nie, behalwe wat ons gesien het tydens die konferensie. Dis 'n dubbelverdieping plek met op die boonste vloer oa vier "sale" waar dienste gehou word.
Ek vermoed hierdie is die hoof "kerk" want dis ook waar die klankstelsels en goed is. Vlae van al die nasioinaliteite verteenworodig hang in die saal. Soos julle kan sien is ons vlaggie ook daar reg op die punt. Daar is ook badkamers ens op die eerste vloer en .... 'n hysbak.
Onder is daar verskeie kuierhoekies, klompe klaskamers, speelkamer vir kleintjies, kantore en ook 'n koffiewinkel.
Daar is ook 'n soort van 'n hout "verhoog" in die middel wat mens natuurlik allerhande dinge kan aabied of doen.'n Groot boek/cd winkel van die Gulf Bible Society is ook hier waar mens regtig 'n groot verskeidenheid goed kan koop.
In ons kerkgebou waar 18 verskillende kerke bymekaar kom, kan ons nogal doen met soveel spasie en klaskamers. Die nuwe aanbouings wat September 2007 sou klaar wees, is natuurlik nog nie klaar nie, maar daar word gewikkel, kyk bietjie.
Dit was die "ou" kerkkompleks waar ons gereeld Vrydae en Maandagaande vir die kindergroep bymekaar gekom het.
Hierdie nuwe veranderings is toe beplan vir die "nuwe" kerk met die regterkant se stuk heeltemal nuut met 'n nuwe "kerksaal", klaskamers, kantore ens ens. Die gedeelte aan die linkerkant sou nog so gehou word. Die koste vir die aanbouing was geskat op meer as Dhs10 miljoen. Die kerk het sover met donasies, skenkings en lenings van kerkgangers slegs 'n tekort van Dh1,167 000 wat nie te sleg is nie. Dit het beteken dat hulle geen banklening hoef uit te geneem het nie.
Met die boukostes en alles wat so vinnig styg, is daar toe besluit om sommer dadelik ook met fase 2 aan te gaan, 'n nuwe linkerkant ook. (Ek's tog so bly want dit het nie heeltemal so goed gelyk nie). Daarvoor sal die kerk dus net 'n Dh 7 iets miljoen ekstra nodig hê. Ek's nie seker of ek ooit die hele voltooide kompleks sal sien hier in Abu Dhabi nie, maar ek sien uit na die voltooiing van fase 1 en vir die gebruik van die nuwe klaskamers en goed.
Die vensters en goed word nou ingesit en hopelik binnekort. Ek sal julle beslis vertel van hoe dit binne lyk sodra ons intrek.

Friday, October 26

Reunie venue

Dit was met 'n groot verligting dat ek uiteindelik die venue vir die reunie kon vasmaak en bespreek. Nou kan ek begin met die fyner details en reelings. Ek weet ook dat daar baie opsies was van die gewone bring & braai tot elkeen bring 'n dis, maar ek wou hê dat die reunie iets spesiaals moet wees. Nie dat elke reunie nie is nie, maar 'n groot een waar mens almal probeer teenwoordig kry, is iets spesiaals. Familie is spesiaal en soos Pieter in sy mail geskryf het, mens besef nie altyd hoe belangrik dit is om kontak met mekaar te hou nie. Dis ons "roots" en of mens nou wil of nie, Vader het elkeen van ons in 'n spesiale familie gesit met 'n doel. Of mens van mekaar hou of nie - dit gaan niks verander nie, ons is aan mekaar verbind :-). Dis ook belangrik vir ons kinders, kleinkinders, agterkleinkinders en en en om mekaar te ken en kontak te hou. Daarom ouens gaan ons 19 Januarie 2008 behoorlik reunie hou. Die plek wat ons kon kry is Mooikelder Manor House in die Paarl. Hierdie Kaap Hollandse huis wat in 1835 gebou is, was eens 'n huis van Cecil John Rhodes. Dis op 'n werkende plaas gelee en so 2km van die Boland Kelders af. Ek sal later vir almal 'n kaart/aanwysings laat kry.
Daar is pragtige tuine en uitsig. Hierdie is ook 'n gewilde plek vir troues en onthale .... maar niks daarvan nie ok...... ons hou eers reunie.
'n Swembad wat ek vermoed deur van die jongmense gebruik gaan word. Die swembad is langs die stoep en kuierplek.
'n Lekker kuierplek in die tuin vir gesels en foto's!! Ja ons sal sorg dat daar 'n fotograaf is.

Die stoep waar mens kan sit en kuier en eet. Indien slegte weer, kan dit ook toegemaak word.

Hier is ook fasiliteite vir die "koor" wat gaan optree ... (hoop die 4 oefen) en vir die foto's en staaltjies wat gedeel gaan word.
'n Sitkamer vir nog kuierplek sou mens daar wou sit en kuier.

Mooikelder is ook 'n gastehuis met verskeie baie mooi kamers sou iemand van ver kom en belangstel om daar oor te slaap.


Alhoewel die bedrag vir die reunie alles insluit, word die kos deur 'n ander plek reg langs Mooikloof gedoen en die breekgoed by 'n anderplek. Met 47.16c vir sekere items is dit 'n storie vir 'n ander dag. 'n Feit bly egter dat ek gedurig aan die reel en beplan is met die goed om alles te laat vlot verloop en slegs as julle ouens lekker saamwerk en reageer op versoeke, kan ons hierdie dag die sukses maak wat ons wil hê dit moet wees.


Sien uit daarna om julle almal te sien!

Thursday, October 25

Wat is dit?

Ek het julle mos vertel van hoe ek gevoel het oor die ouens se porsies op die konferensie. Verlede Saterdag het ons 'n opvolg dag by my huis gehad om op te vang op die sessies wat ons self nie kon bywoon nie. Natuurlik moes ons eet- en drinkgoed verskaf en ek het dit baie duidelik gestel ek gaan nie my koeksisters deel nie ... netnou word dit gemors. Maar ons sal nice wees en Charmaine sal melktert maak en ons sal van hulle tradisionele eetgoed verskaf.
Nou moet julle my nie vra wat dit is nie, maar mens koop dit by die winkel se gebak, so uit die goedheid van ons harte koop ons 'n verskeidenheid. Eerlik fasineer daai groot geel,oranje balletjies ons ... en nee dis nie vir juggle nie. Wat sal binne in wees?

Ons sny dit oop, maar die binnekant lyk net soos die buitekant en ons is niks wyser nie. Iemand sê dis nes rice crispies net geel. Vir my lyk die oranje na wortelstukkies en die groen na komkommer, maar die geel kan nie geidentifiseer word nie. Iemand moet dit proe, en die brawe een wat hou daarvan om nuwe goed te proe en weet van clowning en juggle besluit om die geel balletjies te proe.
Vertel hierdie gesig nie alles nie ....dis heerlik!!!! (Sien maat ek weet ek gaan in die moeilikheid wees oor die foto, maar dis klein!)

Die ander koekies lyk beter en volgens Nelmari proe dit ook lekker. So sal dit seker wees as dit na 'n soet kondensmelk proe. Ons goeie daad was toe nie so wonderlik nie, want hulle het liewers van die melktert geeet en ons met die koekies agtergelos.