Monday, November 12

Die eerste doel van die seisoen!!!

Wedstryd nr 2 van die seisoen is gister teen ACS (American Community School) gespeel en gewoonlik is die wedstryde teen hierdie twee skole 'n tawwe storie.

Maar soos ek met die vorige wedstryd gesê het, ons dogters is nog aan die begin stadium van hulle oefening en mens kan dit nog sien in die wedstryde ALHOEWEL daar reeds volgens my verbetering is vanaf die eerste wedstryd. (James gaan jy kom ref Desember, gister se ref - op die foto - was meeste van die tyd in die meisies se pad)

Ek het tydens die wedstryd by die kinders gesit en kon luister na die afrigters se spanpraatjies en taktiek. Dit is dan ook die laaste week waar al die kinders in die span (en daar is klomp) 'n beurt kry om te wys hoekom of hoekom nie hulle in die span moet wees. Met tye wat die regte kombinasie op die veld was, kon mens sien dat die span kan goed doen.
Wanneer drie van die vier Suid-Afrikaners in die span egter 'n ruskansie vat gebruik die ander spanne die geleentheid om 'n doel te kry. Nelmari het die span se eerste doel met 'n dwars skop oor al die spelers, doelwagter inkluis, se koppe gekry. Dit was eintlik snaaks om te sien dat sy net soos die ander verras was toe die bal in die hoekie ingaan.
Vir my was die spelers van die wedstryd die SAfrikaners, Minri wat 'n barshou verdedig het, Nelmari wat die doel aangeteken en 'n paar keer veld af gedribbel het en Jessica wat net die heeltyd werk gesoek het en die bal probeer kry het. Ons verloor egter 3 - 1 maar daar is rede om positief in plaas van negatief te wees oor ons meisies se verbetering van die vorige wedstryd.
Go Lions!!

Sunday, November 11

Nuwe ontwikkeling

Ek het lanklaas vir julle iets nuuts van die UAE vertel en by hierdie tyd weet julle dat hier moet alles groter en beter as elders in die wêreld wees. Die laaste klompie jare het verkeer in Dubai iets ysliks geword en waar ons tien jaar terug nog gereeld Dubai toe gery het, is soontoe gaan slegs in uitsonderlike gevalle want mens kan vir baie lang tye in die verkeer vassit. Abu Dhabi is ook nie ver agter nie, en veral die laaste paar maande is die paaie soooooo besig. Dis of niemand by die werk is nie .... almal is op die pad. As mens so na die ontwikkeling in al die emirate kyk, kan mens verstaan dat as al daardie geboue mense in gaan kry, moet daardie mense vervoer word.



Gereeld word daar na oplossings gekyk en huidiglik is Dubai besig om te bou aan 'n metro treinnetwerk wat daagliks 1.8 miljoen mense gaan vervoer. Wanneer hierdie netwerk voltooi is sal die rooi en groen lyne (spore) 'n totaal van 74,6 km lank wees en die wêreld se grootste netwerk wees wat ten volle outomaties en sonder drywers loop. Hierdie trein sal 3 klasse hê, die goue klas met luukse sitplekke en versierings, die vroue en kinders klas wat spasie sal hê en plek vir stootwaentjies en pakkies en die silwer klas (ekonomies) wat verskillende tipe sitplekke gaan hê - die vir mense wat wil uitkyk by die venster of mense wat met hulle vriende wil kuier tydens die rit.



Die hoofdoel van die netwerk is om alternatiewe manier van vervoer te verskaf en sodoende padverkeer ligter te maak en ook om mense vinnig en veilig na en van die binneste deel van die stad te vervoer. Altesaam 7000 werkers is op verskillende plekke in die stad besig om aan die netwerk te bou. 'n Gedeeltelike opening word beplan vir September 2009 en hulle hoop vir 'n ten volle klaar projek teen die jaar 2012. Daar sal altesaam 47 stasie deur die stad wees. Twee hooflyne word beplan.

Die rooi lyn sal 29 stasies hê waarvan 24 in die lug is, 4 ondergrond en 1 op grondvlak is en sal 52.1 km lank wees met 4.7 km daarvan ondergrond. DIe groen lyn sal 18 stasies hê, 12 in die lug en 6 ondergrond en sal 22.5 km lank wees met 7.9 km daarvan ondergrond. Hier kan julle sien hoe die spoorlyn in die lug gebou word langs die besige snelweg.

By al hierdie stasies sal daar natuurlik parkeerplekke gebou word en busse om mense na hulle bestemming te vervoer. Op hierdie stadium van die beplanning is hulle alreeds besig om nuwe uitbreidings te beplan en die netwerk is nog nie eers in gebruik nie!




Ek is seker dat dit van die vervoer probleme sal oplos vir 'n tydjie en vir ons ouens wat sommer net tot by die Battuta Mall en nie verder gaan nie weens verkeer, sal nou binne die dorp ook ingaan. Sal lekker wees as daar 'n spoorlyn tussen Abu Dhabi en Dubai is, maar dit sal seker nog kom, na my tyd. Om die waarheid te sê ek weet nie of ek die voltooiing van hierdie projek in 2012 sal sien nie. Net om te wys hoe vinnig die stad uitbrei kan ek ook noem dat 'n pers en bloulyn ook reeds in die beplanningsfase is. En wat dit alles kos? In 2005 toe die tender toegeken is, was die bedrag 15.5 biljoen dirhams - dit het dalkies 'n bietjie verander teen hierdie tyd.

Saturday, November 10

Emily kom speel

Verlede naweek het klein Emily weer 'n bietjie by ons gekuier. Nelmari was nie net 'n bietjie jaloers omdat sy uitgemis het nie, sy was mos in Syria, sy was baie jaloers. Maar dit het die geleentheid vir die twee "Abu Dhabi oumas" gegee om haar net vir onsself te hê. Hier is 'n paar foto's vir die regte ouma Rienie en oupa Nellis in Suid-Afrika.


Ons het vir haar klein en drukkertjies gegee om mee te speel en hier bekyk sy eers alles


Dan word die drukkertjies uitprobeer en sy is baie ernstig terwyl sy konsentreer

Dis baie beter om sommer op mens se maag te lê en speel

Die tannie is darem lastig met die kamera
Tannie Charmaine help met die klein stukkies klei

Peuseltyd voordat ons met die Bybel prentjies begin speel.

Sy is heel trots op haarself dat sy die woord "fissie" kan sê en die varkgeluid kan maak

Terug klei toe en dis so lekker sy sit sommer in die skinkbord en speel
Ons luister ook Bybel kinderliedjies en werk aan die bewegings ....

Soos altyd was dit lekker om Emily by ons te hê en ons sien al weer uit na die volgende keer

Friday, November 9

SA Business Council golfdag

Met Eddie se rondhardloop en rondreis kry hy seker nie so baie tyd op die golfbaan soos wat hy sou wou hê nie, dus was die South African Business Council golfdag 'n goeie geleentheid om sy voorgee van "geen golf" af te bring na "bietjie golf".


Die dag is deur die South African Business Council in Dubai gereel.

En dit was gehou by die Arabian Ranches golfbaan in Dubai. Hier is die klubhuis..

Die hoofborg was Standard Bank (nee ek kry nie iets om die naam te noem nie) en klomp ander oa. Murray & Roberts, Safmamrine en Alec. Met vanne soos Smith, Fourie, Jordaan, Snyman, Le Grange, Bruwer, van Wyk, Visagie en Coetzee weet mens ook waar die meeste van die deelnemers vandaan is.Die karretjies is gereed vir die begin van die toernooi.




Die manne op een van die putjies met die klubhuis op die agtergrond. Mooi groen vir 'n woestyn ne?
Eddie vat 'n breuk om bietjie die sand en/of sweet af te vee en laat val sommer die kamera in die sandkuil wat beteken dat daar geen verdere foto's van die toernooi is nie. Kyk op die agtergrond van die huise wat by die golfbaan gebou is.

Hulle span het toe nie so sleg gevaar nie klink dit vir my. Maar dan is 'n golfspeler baie soos 'n visserman waarvan die groot vis altyd weggekom het..... Uitstekende bofhou, naderhou was perfek maar toe spring die sandkuil voor my in, of bome kom in die pad en as dit nie daarvoor was nie, het ek baansyfer aangeteken. :-)

Wednesday, November 7

Die sokkerseisoen begin

Die volleyball seisoen is nou amptelik twee dae verby en gistermiddag het Nelmari alweer haar eerste sokkerwedstryd teen Al Khubaira gespeel. Verlede jaar het die spannetjie maar gesukkel en vanjaar is hulle sonder een van hulle groot sterre, maar ons het hoop dat dit 'n goeie seisoen vir die JV Sokkerlions gaan wees.Hier is die meisies besig om op te warm voor die wedstryd. Seuns dink julle nie die sokkerveld lyk vanjaar bietjie beter nie? Die JV dogters se afrigter vanjaar is Sandy Campbell en 'n Britse vrou met 'n SA paspoort. (Sy verstaan so 'n woord of twee Afrikaans want sy is met 'n SAfrikaner getroud)Die meisies luister na hulle eerste spanpraatjie van die seisoen. Nelmari is nr 25 en die "kort" speler op die heel regterkant van die foto :-).
Hulle skree hulle kreet en reg vir die eerste wedstryd. Die juffrou verdwyn tussen die kinders terwyl nr. 25 omtrent bo-oor almal kan leun..Teen 'n span wat al 3 maande oefen en ons kinders wat eers gevolleyball het en darem een oefening ingekry het, doen hulle nie te sleg nie en verloor 1 - 0. Daar is 4 Suid-Afrikaanse meisies in die span en sodra die afrigter sien dat hulle al vier moet saamspeel, sal daar gewen word.


GO LIONS!!