Tuesday, November 6

"Kinders" verf 'n storm los

Die meeste van julle weet dat ons ook twee SA Kindergroepe hier in Abu Dhabi het. Gisteraand was dit die groep by ECC se beurt en alhoewel ons vanaf September ons eie kindergroep blog het met wat daar gebeur, loer gerus in by http://www.adkindergroep.blogspot.com/ as julle tydjie het, wil ek 'n foto of ses met julle deel. Deel van die les was onder andere hoe Jesus die storm stilgemaak het, en die kinders moes 'n storm met hulle hande verf. Party het dit met meer oorgawe as ander gedoen en miskien 'n bietjie meer tornardo as storm geverf. Hier is vier van hulle in aksie

Clark werk baie versigtig om nie meer as een vinger vuil te maak nie.

Claudia gebruik ook haar een vinger om die see en storm te teken

Maar die tannie geniet dit om haar hele hand te gebruik

Wat 'n voorbeeld en kyk daai storm ... of is dit nie?

Henry is pols diep in die storm

Dis seker hoe mens lyk as jy 'n storm geniet het!

Monday, November 5

Nelmari is terug

Die volleyball span wat Syria toe is het gisteraand net na elf moeg, hees maar baie tevrede by die huis aangekom. Die span het beter gevaar as wat ons gedink het na die sukkel-seisoen. (Die foto's kwaliteit is nie baie goed nie, en ek hoop om later ander te kry om te wys)

Die nuwe meisies in die span het goed ingeskakel en baie geleer en dit is goed vir volgende seisoen. As ek so na Nelmari se bene kyk dan was daar baie geduik en gegly om die bal terug te probeer kry. Sy is vol stukkende plekke en blou kolle. Ek hoor dat sy 'n uitstekende toernooi gehad het.
Hier slaan sy af. Daar was 7 spanne wat deelgeneem het en die een wat gewen het was van Jordania. Die AISA Lions het ons almal verras en derde geeindig. Mooi so Lions!!!

Dit is nou die einde van die volleyball seisoen en vanmiddag moet 'n moee Nelmari, wat skool toe is vandag omdat daar toetse is wat nie uitgestel is nie, 'n sokkeroefening bywoon voor more se eerste wedstryd. Geen rus vir die spelers en die toeskouers nie!!

Sunday, November 4

Nr. 300 - Die troue

Ek het belowe om te vertel van die troue. Opgetof en alles is ek en Charmaine toe na die Al Dhafra Wedding Hall - net om daar gevra te word ... watter troue ons gaan bywoon. Umm ....haaa.. .Aziza? maar dit beteken vir die sekuriteitsman niks. Hy wil die troukaartjie sien wat Charmaine by die huis gelos het.
Nou wil ek julle vertel dat almal kla omdat ek van alles en almal foto's neem, maar wat sou ons gedoen het as ek nie die kaartjie afgeneem het nie ... want ons kon toe vinnig die foto vergroot en die van sien Eintlik daag ons by die regte banquet hall op en die musiek is oorverdowend. Ons oorweeg om mekaar te sms of vingertaal te praat want mens kan g'n niks hoor nie en dis nie sommer net musiek nie, dis Arabiese musiek. Ons gaan sit toe maar reg agter in die saal waar daar seker maklik 60+ tafels van 10 elk is in die hoop dat die musiek sagter sal klink. Geen geluk dis nog steeds ERG!!! (Die neem van foto's word nie toegelaat nie, so ek kleur die storie in met ander foto's wat NIE op die troue geneem is nie.)Ons verkyk ons aan die arabiese vroue sonder hulle swart rokke en met hulle kleurvolle aandrokke. Ek het so aan een van Fanus Rautenbach se grappies gedink van "die vrou is in haar rok ingegiet .... hulle het net vergeet om hokaai te sê". Hoe party van daardie vrouens in hulle rokke kon uitkom ....meer erg is hoe gaan hulle na die troue daaruit kom? Die kelderinne bedien die heeltyd eet en drinkgoed terwyl jonk en oud op die verhoog gaan dans om ek dink hulle rokke vir almal te wys.Dis Arabiese koffie, water, sappe, wit tee, swart tee, slegte tee, gesonde tee, ens. ens. Klein oliebolle, sjokolades, arabieses voorgeregte, brode, vrugtebakke en alles wat aangedra word en ook goed wat ek nie kan identifiseer nie en sommer maar byvoorbaat nee dankie voor sê. Maar ek het mos hierdie ordentlike vriendin wat nooit iemand wil seermaak nie. (Sy is gewoonlik 'n sucker vir hierdie mense wat in die malls en supermarket spesials probeer verkoop en hulle sien haar van ver af kom). So sê sy ja vir alles en ons twee alleen aan die tafel het 'n redelike verskeidenheid van eetbare en nie-eetbare kosse. Een van Charmaine se kollegas kom ons haal om vorentoe te sit en dis sommer ook 'n geleentheid om vir van die eetgoed weg te hardloop. Ons land ons reg voor op ... waar die musiek nog harder is, maar dis lekker want nou kan ons haar peper met vrae oor hoekom en waaroms van die troue. Intussen word daar nog gedans met die musiek en Charmaine is beindruk dat die Arabiese kindertjies selfs die verskriklike musiek se woorde ken. Dis tien uur en hulle begin die kos bedien ....die Arabiese vrou skep vir ons in en dis weer hompe rys en vleis (onthou my storie van die konferensie?), tussen-in nog allerhande nuwe drinkgoed. Ons het omtrent net die borde gemeester dat dit nie ongeskik sal lyk om die origes te los nie of hulle kom sit die res van die kosbakke op die tafel. Weerens kan Charmaine nie die mense in die gesig vat en nee sê nie, dus eindig sy op met allerhande soorte vleis in haar bord, ek het maar net nee dankie gesê. 'n Klein koppietjie met snaakse drinkgoed word uitgedeel, dit lyk half soos sagopoeding in vla en my vriendin neem een vir haar en een vir my. Ek weier om dit te drink en sy drink hare en myne en toe verduidelik die arabiese vrou aan die tafel van die medisyne .... goed vir mens se maag, vrugbaarheid en enigiets anders insluitende ingegroeide toonnaels. Teen kwart oor elf weet almal die bruid is laat, maar hulle dans en speel nog musiek terwyl daar geeet word. Eintlik twintig VOOR twaalf daag die bruid op. Sy loop die saal binne op die snaakste musiek nog ooit (wens ek kon dit op blog vir julle aflaai) met fotograwe (amptelikes) wat elke beweging afneem. Dan gaan sit sy op 'n bank en die mense kom een vir een, sommiges dans dans om vir haar geluk te wens en saam met haar afgeneem te word. So sit sy tot twintig OOR twaalf wanneer die bruidegom met sy pa, haar pa en broers opdaag. Hulle vryf mekaar se neuse en dan sit hulle langs mekaar. G'n DOOIE WOORD is gesê tussen die bruid, gaste, bruidegom ens. Dan gaan die pa's en broers terug terwyl die pa geld gooi vir die klein kindertjies langs die pad en die nuwe couple sit doodstil en staar na die gaste.Klein seuns van die familie kom doen tradisionele danse met hulle wit rokke en gewere. Wat 'n manier om te trou?! Maar dit was 'n besonderse ondervinding. En weet julle wat kry ons as 'n geskenk toe ons gaan? 'n CD met al die musiek van die aand op :-)

Saturday, November 3

William vertel vanuit Bloemfontein

Nog so 'n bietjie nuus van die seuns daar in Bloemfontein. Hulle het sulke lang skofte wat mens nie so baie van hoor nie en dis daai goed waarvan daar nie vertel nie. Maar ek's baie bly dat nuus darem nog gestuur word.


All this sitting around, made James and I think, is there nothing better to do with our time. And apparently there was not, so we decided to have a game of golf.

Yes golf, but the best was it was all indoors, so no standing around in the sun. Sounds a bit dangerous, well it was not at all thanks to technology... all we needed was a game and a TV,

so we hooked it up and started to play, must say it was very interesting, and we got in some basic exercise.

Ek kan sien die konsentrasie is dieselfde as by gewone golfspel seun!

Natuurlik was mens nog steeds seer die volgende dag van al die swings.

Ten minste het ek nie son brand gehad nie, en ek was nie moeg geloop nie. Daar was ook maar net soveel gevloek soos op 'n gewone golfbaan. Is dit nou nodig om lelik te praat seun? En as daar nie son was nie hoekom dra jy 'n pet in die huis hmm?

Dankie dat julle so 'n bietjie vertel van wat julle daar doen. Jy moet nou mooi agter James kyk as sy eksamen begin en vir hom lekker kos maak. Sterkte met die eksamen seun - volgende maand is julle altwee by die huis!!

Thursday, November 1

Dis "scary"

Ja gister was dit Halloween en selfs hier in Abu Dhabi is/was winkels vol van allerhande gruwelike, bangmaak, feetjies ens. kostuums. Ook propvol spesiale lekkers en GROOT pampoene. Ek gaan nie eers begin verduidelik en vertel waarvoor Halloween staan nie en ek dink dit is elke mens se eie keuse wat en hoe jy daarmee deel. Vir my egter is dit nie 'n dag wat ek enigsins wou hê my kinders moes "vier" nie en met groot genade het hulle ook nie, ondanks al die invloed van westerlinge hier vir wie die dag iets "groots" is. As hulle wou lekkers hê het hulle gekry en was dit nie nodig om een dag 'n jaar by ander daarvoor te bedel nie. Maar of ons nou wil of nie Halloween word gevier en kinders raak daarby betrokke. So iewers moet mens 'n middeweg kry om die kinders, sou dit nodig wees gelukkig te hou met 'n geleentheid vir kostuums aantrek ('n verjaarsdagpartytjie sou bv werk) of so - dit gaan net 'n bietjie kreatiwiteit van die ouers en selfs die kinderkerke vra, maar dit is moontlik om "Halloween" te gebruik om eerder kinders te vertel van die enigste persoon wat OPGESTAAN het uit die dood, en steeds saam met ons LEWE en vir wie ons nie bang hoef te wees nie, wie vir ons lief is en wie altyd sal gee as ons vra!!


Op 'n manier was ek vanjaar reg in die middel van my eie baie scary Halloween. Charmaine is uitgenooi na 'n regte Arabiese troue en het dit goed gedink om my saam te vra sodat sy nie alleen hoef te gaan nie. Nou weet ons ook dat die vroue wat so alleen troue hou, optof, verskriklik optof....hulle abajas uittrek en spog met die dure uitrustings, so ons het een dag en daar moet na 'n "party-dress" (soos Charmaine dit stel gesoek word). Dit in sigself is nie 'n probleem nie, maar dan is die meeste uitrustings in hierdie land vir oempaloempas gemaak en nie vir lywe soos myne nie. Ek het omtrent ses oempaloemas se grootte nodig en dit kry mens in Abu Dhabi nerens.
Ons het elke winkel in die mall probeer en kon niks kry nie. Vir die eerste keer het ek ook verstaan hoekom James toe hy klein was die aantrekkamers "fighting rooms" (hy kon toe nog nie die engels reg lees nie) genoem het. Dis een groot geveg om die klere aan en oor te kry ..... en dan wanneer jy dit aan het, staar jy vir jouself in al die spieels en dan wil jy dit dadelik uit hê en dan begin die geveg weer van voor af.
Ek gaan nie eers begin vertel van die arm en dat ek dit nie regtig kan lig of beweeg nie, want dit kan net soos 'n verskoning klink hoekom ek nie iets kon kry wat pas nie. Later was ons baie lekker flou. Maar om deur Marina Mall, Abu Dhabi Mall, Al Wahda Mall en een of twee ander sentrums te gaan en niks te kry nie ....dit ouens was Halloween vir my .... en baie baie scary.



Maar troue gaan ons troue vanaand en miskien net miskien kan ons 'n foto of twee neem, en julle daarvan vertel.