Met Eddie se laaste twee besoeke aan Afghanistan vra ek mooi foto's en vir een of ander rede dink hy winkels sal my belangstelling wees. Julle weet mos ekself "shop" bitter min maar ek hou daarvan om ander af te neem as hulle shop :-). Maar hier is die foto's van die winkels daar en miskien inspireer dit julle om te gaan inkopies doen of saam met my dankbaar te wees vir die winkels wat ons het.
Die man dra sy winkel na waar hy wil besigheid maak en saam met 'n klomp ander takke is dit defnitief die plek om te gaan sonbrille koop. Tussen die grys en vaal is daar ook mooi kleurvolle ballonne - ek wonder net hoe lank hulle opgeblaas gaan bly.
Ek weet nie hoe sterk die mense is om "pitte" te koop nie, maar die vlerk-kliente kan beslis nie wag vir iemand om sy inkopies te laat val nie. Kyk net al die winkels so by die waterfront! Aghan Spinneys - hier in Abu Dhabi is Spinneys "die" winkel vir expats waar mens alles van die huis af kan kry. Wonder wat mens alles hier kan koop.
Na-ure inkopies ook sterk in verligte winkels en vleis is baie vars. Waarnatoe die vroue hierdie klere dra weet ek nie, maar dit kan hulle laat goed voel en as jy moeg is, 'n klein straatkafeetjie onder die boom.
Maar daar is nog ander mooi goed in Afghanistan en tussen al die aanvalle en bomme is probeer die land stadig weer op sy voete kom.
Ek wou darem sien hoe die land ook lyk en hierdie drie pragtige foto's op die internet gekry. Elke land het darem sy unieke natuurskoon en wys net dat ons Vader Skep goed - dis net mense wat dit opmors.




En die terugvoering is JA, met die begin van die vlieerseisoen wat September begin, is die winkels vol vlieers
en die huisdakke is vol van kinders wat hulle vlieers van daaraf vlieg.
Al is die mense van Afghanistan nog nie heeltemal "vry" nie, is die vlieers en vir daai oomblik wat die kinders hom hoog bo kan laat vlieg, kan hulle ook begin "vry" voel.
Een van die sportvelde uit die lug geneem en julle sal kan sien dat daar baie niks rondom is nie.
Nasietrots vir iemand wat aan een van die Oosterse sportsoorte deelgeneem en goed gedoen het. Hy kry die volle "motor deur die straat en vlag" behandeling.
Hier ondersteun al wat leef en bewe mekaar as daar 'n wedstryd is. Die "bokke" kom kyk sokker of is dit betogers?
Toeskouers oppad na 'n krieketwedstryd.
Sjoe kyk daai baanblad ... wat sal Dale Steyn of Ntini met dit maak? Krieket is vir hierdie ouens 'n belangrike ding en iets wat hierdie land se mense, wat deur soveel swaarkry gaan hierdie afgelope week 'n lekker trots gegee het. Maar net omdat ek van statistieke en feite hou, kom ek begin gou by die begin. Afghanistan was een van 12 spanne wat einde Mei in Jersey probeer kwalifiseer het om in die volgende fase van die kwalfiseerende rondtes vir die wereldbeker toernooi te speel.
As voorbereiding het hulle 14 wedstryde in Pakistan gespeel en toe 'n kamp by die Akademie (op die foto) bygewoon. Daar is die man met die speelpakkie weer.
Hierdie akademie spog darem met twee krieketbaanblaaie en 'n boulmasjien. En ander toerusting soos op die foto gesien.
Eddie het weer 'n paar foto's in Kabul geneem van hulle winkeltjies. Hier is hy in sy Afghanhistan speel-pakkie met die hoed wat 'n Pakol genoem word.
Indien jy nou vir die naweek 'n ou braaipie beplan sal 'n stoppie by die vars groente en vrugtemark 'n moet wees.
Wees verseker dat die vleis baie vars sal wees. Daar is 'n keuse van die een wat reeds geslag is en voor die winkel uitgestal word of die een wat nog geslag moet word. Beide vars.
Indien jy natuurlik nie vleis eet nie, kan jy die visstalletjie probeer .... maar liewers as troeteldiere dink ek. Kyk elke sakkie het sy eie vissie in.
En vergeet van al die lekker roomyswinkels, hierdie outjie verkoop dit op straat. Wonder hoe lank hou dit in die hitte. Laat my dink aan die tye toe ek nog klein was (letterlik en figuurlik) en die roomyskarretjie se klokkie die hele huis op hol gehad het soos ons soek na 'n muntstuk om roomys te kan koop. En later toe ek ouer was, daai roomyskombi's met die draai roomys met flakes in ..... oooo. Mens kon darem die lekkerste roomys in Blouberg en Melkbos koop.
Natuurlik sal die "tuin" 'n bietjie vasgevat moet word sodat mens kan kuier rondom die vuur en dit beteken die gras moet gesny word of beter nog in Kabul, sommer roll-on koop. Lekker handig hierdie ou doen gras aflewerings.
En hierdie outjie? Ek weet nie of julle regtig wil weet wat in die kruiwa is nie, maar "toilet-afval" word na 'n sentrale plek geneem .... weet nie of hulle dit vir kompos vir die gras gebruik nie.
As jy dan eintlik die kos en braaiplek het, kan mens begin regmaak vir die aand. Hierdie kolletjie groen is by die plaaslike hospitaal in Kabul se restaurant.