Saturday, February 18

Elim 'n dorpie van rustigheid en geskiedenis

Terug na die juwele van die Overberg en hierdie keer het ek by Elim gaan inloer.  Besig met die soek van Riviersonderend se geskiedenis, is ek skoon jaloers op hierdie dorpie wat 101 jaar ouer is, want hulle het hulle geskiedenis behou. Nie rekords en goed vernietig omdat die "wet" se dit kan na 5/7 jaar gebeur nie. En as iemand wat baie foto's neem, te sien hoedat daar foto rekords is van alles.

Op 24 Mei 1824 koop die Morawiese kerk die 300 morg plaas Vogelstruiskraal in die Swellendam gebied.  Hulle wil 'n 4de sendingstasie stig.  Die woonhuis van daardie plaas bestaan nog vandag. As deel van hul doel om die sendingstasie te begin, is die eerste sendelinge se taak om die stasie uit te le en reels en wette vir die gemeenskap op te stel.  
In 1826 begin hulle bou aan 'n woonhuis en die uitle van boupersele. Binne 2 jaar is daar rye huise en Kerkstraat ontstaan.  Daar was (ek weet nie of dit nog so is nie) voorskrifte vir die bou van die huise en inwoners wat daarby hou, het 'n subsidie ontvang en gratis hout vir die dakke. 

Elke inwoner het ook 'n stuk tuingrond ontvang wat hy moes bewerk.  Met my inloer hierdie week is baie van die huise netjies reggemaak en is dit deel van die dorp se karakter.  Dis op Hemelvaart 12 Mei 1825 wat die naam Elim bekendgemaak word.
Die kerk is in 'n T-vorm gebou, met hoe dik mure, drie gewels, rietdak, voldoende vensters en deure en sterk banke met rugleunings.  Ongelukkig was die gebou gesluit en kon ons nie binne-in gaan loer nie.  Die kerk saam met die werf, voer deel van die stasie.  In 1896 was daar ook 'n blommeskuur opgerig waar hulle van die fynbos blomme 7 jaartjies geberg en verwerk het.  Nuwe winkels en ekstra wonings het later gevolg. 

Die werf het toe bestaan uit 7 woonhuise, poskantoor, losieshuis, winkel, slaghuis, skuur, kerk en die meul.  

Dis mooi om te sien hoe die geboue gerestoreer en gebruik word.  Hierdie huis kan seker baie stories vertel.

Daar is twee damme op die werf bekend as die gemeenskapsdam en die meuldam.  Gemeenskapsdiens (vrywillig) is gedoen by een terwyl die sending mans betaal het om meuldam skoon te maak.

Vir gemeenskapswerk is die werkersklop op  'n sekere tyd gelui en alle mans het op die werf byeengekom om met hulle dagtake te begin.

Hoe lekker sou dit wees as alle dorpe hulle geskiedenis so kon bewaar.

"Daarop het hulle by Elim gekom, waar twaalf waterfonteine
en sewentig palmbome was.  En hulle het daar by die water laer opgeslaan"
Exodus 15:27

Mooi dag vir julle ek praat weer

Sandra






Wednesday, February 1

'n Besoek aan 'n pragtige dorpie

Ons besoek die pragtigste klein dorpie waar ek baie maklik sal kan bly net so 'n entjie van waar die kinders is, Fort Langley.  Dit laat my nogal baie aan Greyton dink met sy ou geboue en karakter.  

Die oorspronklike fort was langs die Fraser Rivier gebou (dit voel vir my asof alles naby die Fraser Rivier gebou is) en met gedurige vloede is dit in 1839 na huidige plek geskuif toe 'n tweede fort gebou is.  'n Jaar later het die gebou afgebrand .

Dis eers in 1958 wat die parke afdeling dit herbou het as 'n museum.  

As jy lief is vir stap en geskiedenis, dan is die Fort to Fort Trail ideaal. 'n Sirkel roete al langs die Fraser Rivier vanaf Fort Langley tot Derby Reach Reginal Park en teug, 'n hele 9.2 km.  

Vir interessantheid gaan kyk bietjie na die Trans Canada Trail as jy die land dmv verskeie maniere wil sien.  

Fort Langley is die geboorteplek van die provinsie of BC (British Colombia) en vernoem na Thomas Langley.  Hier is die pragtigste klein winkels, gallerye en restaurante.  Hulle "landmark" is die Community Hall wat al in flieks gebruik is.  

Ekself het hierdie week na 'n fliek gekyk en was lekker opgewonde om die geboue in die hoofstraat te herken ... daardie "ek was daar" oomblik!  Natuurlik was die Gemeenskapsaal ook vrolik en vol kersversierings vir hul kersmark.

Ons eet 'n heerlike ontbyt by die "Boekwinkel" en stap daarna na die fort en kyk en besoek van die klein winkeltjies.

So 'n rustige dorpie wat ek seker is raak besig met besoekers.  'n Plek wat ek weer, sou ek kan sal wil besoek. 

Hoop julle het die bietjie deel geniet, wie weet miskien herken julle iets in jul volgende fliek.

Ek wil die Here loof met my hele hart;

ek wil al U wonders vertel.

Psalm 9:2

Mooi dag vir julle

Sandra


Sunday, January 8

Ons Kersboom prentjies

Die eerste klomp dae spandeer ek maar in en op die bed met allerhande kwale wat opduik.  Intussen sneeu dit nog dat die biesies bewe en ek geniet die koue weer.
Die eerste uitstappie is na 'n winkelsentrum om oa sneeuskoene te kry en ek verkyk my hoe die mense nie so baie warm klere soos ek aanhet nie.

En partymense eet roomys!!
Die omgewing lyk mooi soos 'n Kerskaartjie en hulle besluit dis tyd om die kersboom op te slaan en te versier.  Hoe het ek Lara nie toe geniet nie, want sy het almal eers gestop ... sy moet eers die atmosfeer reg kry en dan kan die boom opgeslaan word.  
Sy het kersmusiek aangesit, die kaggel laat brand, hot chocolate vir ons gemaak en toe toestemming gegee vir die opslaan.  

Nie meer lank nie Leane, dan is sy amptelik langer as jy.


So 'n wonderlike tyd om saam met die drie te kon deel!

Loof die Here, want Hy is goed
want Sy goedertierendheid is tot in ewigheid
1 Kronieke 16:34

Volgende keer vertel ek van 'n dorpie met die naam Fort Langley

Mooi bly
Liefde
Sandra

Thursday, January 5

'n Lekker lang vakansie saam met die kinders

Die blog was bietjie stil die laaste paar weke, maar om 'n goeie rede, ek kon 'n bietjie saam met van my oorsese kinders en kleinkinders kuier en wat 'n fees was dit nie.  Vir myself en vir die wat wil lees, 'n klomp dagboekinskrywings van my kuier. 

Om te se ek was opgewonde en  bietjie bekommerd om die lang vlug weer aan te durf, is korrek.  Met webblaaie van lugrederye en lughawens wat nie gereeld opgedateer word nie en wat mense se wat onlangs gevlieg het na maande se inperking, was daar net een opsie ... bid en vertrou ... en hoe wonderlike het alles nie uitgedraai nie.  'n Lugredery wat taamlik kritiek kry en volgens die internet onder die top 3 swakstes ter wereld is, stel nuwe vlugte in en my lang vlug van Kaapstad - Washington DC - Los Angelos - Vancouver word een van my beste vlugte, en nou sluit ek vlieg met die top 3 lugrederye in. Die heel langste been, 'n 16 uur vlug het ek die hele ry se sitplekke vir myself.  Dankie aan my Groot Pa wat in beheer is, en weet wat ek nodig gehad het, ek moet net vertrou!!

Wat 'n lekkerte om die kinders en veral Lara te sien.  Ouma kry nie baie tyd nie, want waar ons gewoonllik oor video oproep moet speel, is dit nou tyd vir die regte manier en Boereplaas word uitgehaal.  
Dit help natuurlik dat ouma ook die uitbreidingspak saamgebring het. Lara is siek en al 'n week by die huis en ek daag op met 'n liederlike "iets" wat my 'n hele klomp dae buite aksie los.  Ons rus en slaap en kuier in die nagure wannneer ek haar wakker hoes, so 'n groot bederf.
My bederf hou nie op nie, want twee dae later begin die eerste sneeu val.  Hier sneeu dit nie baie nie hoor ek, so ek geniet die sagte sneeu al hoesende.  Hier gaan dit net lekker raak.

En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees,
sodat julle altyd in alle opsigte volop kan he 
en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk
2 Korintiers 9:8

Praat gou weer
Liefde
Sandra




Saturday, November 12

Goeie terugblik en onthou

Dis nou al ampertjies twee maande terug wat ek saam met 'n klomp Gr 7's in die berge gekamp het, en mens wil die herinneringe vasmaak.  Boonop is die onthou's altyd spesiaal .  As jong st 2'tjie (nou Gr 4) sluit ek destyds by 'n groep Voortrekkers aan.  Ek se groep omdat ons net 5 is om mee te begin en val ons onder die vaandel van 'n groot kommando "Bellville".  Die herinneringe is vaag, mens word mos oud, maar ek onthou ons was lekker maatjies en ons het gekamp en vir een of ander rede onthou ek die feit dat ek geleer het hoe om 'n bed korrek op te maak :-).
Intussen het baie jare verloop en het ek deur die fases van Drawwertjie, Verkenner en Offisier gegaan.  Baie vriende gemaak waarvan 'n groot groep my Voortrekker familie geword het.  Vir 17 jaar is ek in die buiteland en mis ek uit,  maar met my terugkom is ek terug.  Die Gr 7 kamp was en is nog altyd een van my gunstelinge, indien nie die gunsteling.  Daar was baie kampe maar sedert 1979 hak ek gereeld by die kamp vas.  Rondom 19 keer voordat ek buiteland toe gaan en daarna weer, so vanjaar was dit nr 24.  En raai wat?  Die kinders is nog net so awesome en die leiers dierbare familie.  

Ons kamp by die pragtigeWemmershoek en na 3 baie moeilike jare laat die mooi en die mense vir my voel dis alles reg, ons gaan nou net vorentoe. Wie kan nie naby aan ons Skepper voel as mens die oggende met so 'n uitsig begin nie. 


Ek het hoop vir ons land as ek ons jongmense sien werk om dinge in die natuur te herstel en mooi te maak met soveel geesdrif.  Met al die nuwe tegnologie is baie van ons kinders skerm georienteer, en in die stilligheid wens ek die ouers kan sien hoe hulle dit geniet om te saag, vee, hark, plante te troetel en nog baie meer.

En aan die einde van hulle laaste Gr 7 kamp is daar groot vreugde vir alles wat nuut, opwindend en 'n uitdaging is vir wat nog voorle.  Ek deel hulle vreugde vir alles wat die Here vir hulle en vir my in die toekoms beplan!
"Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en 
laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid;
en wandel in die wee van jou hart en in die aanskouing van jou oe;
maar weet daat God jou oor al hirdie dinge in die gerig sal bring"
Pred 11:9
Mooi naweek!
Praat weer
Sandra

Saturday, October 22

Hier wil jy stop ... die Kaasfabriek

Een van my nuwe gunsteling paaie om te ry is die R406 en dis net daar waar ek nog een van die juwele van die omgewing raak ry, die Concordia plaas waar die Kingwill Kaasfabriek is.

Natuurlik is dit die "babatjies" wat eerste aandag trek.  Hier word die melk van die Jersey koeie gebruik om die lekkerste kase te maak. Die familie besigheid het in Januarie 2000, op 'n klein skaal sommer in die kombuis begin deur 'n verskeidenheid resepte te toets totdat hulle die perfekte een gevind het.  

Zelda is huidiglik die "kaasmaker", wat oorgevat het by haar skoonouers, maar almal spring in om te help wanneer daar tyd en hulp nodig is.  Haar regterhand, wat al 12 jaar deel van die kaasfabriek is, is Ngoni  wat ook help met die proses.  

Die kase het gou gewild geword en was dit nodig om 'n klein fabriek te bou sodat hulle kon byhou met die aanvraag na die kase. Kingwill kaas het ook toekennings gekry vir die kase wat hulle maak.  Tans is die kase by 'n verskeidenheid afsetpunte beskikbaar en ook elke Saterdag by die Greyton mark.

Daar word 18 soorte cheddars met verskillende kruie en speserye gemaak van ongepasteuriseerde melk verskaf deur hul eie Jersey koeie.   Dis moeilik om te kies tussen die verskillende soorte:  Mild Cheddar, Pepper, Smoked Jalepeno, Cumin, Mixed herbs, Olives, Chilli, Chives & Onion, Garlic & Onion, Stinging Nettle, Mustard Seed, Italian mix (sundried tomato & Basil), Corinder, Rosemary,, Smoked cheddar, Nature cheddar, Teddy's cheese en One year mature - alhoewel ek natuurlik my gunstelinge het. 
Vir kwaliteit tradisionele kaas met heerlike geure, sonder enige kleursel, kom bederf julle self en besoek die kaasfabriek persoonlik.  Zelda is 'n uitstekende gasvrou en deel graag die inligting rondom die kase.

Hier is regtig 'n geur vir elke smaak.  Net wat mens nodig het in die warm somer maande en kragonderbrekings ... 'n heerlike kaasbord met koue vleise :-) of vir die wat hou van 'n kaas- en wyn kuier.  Of ...as 'n geskenk.

Gaan maak 'n draai, jy sal nie spyt wees nie.

"Die Here het groot dinge vir ons gedoen en ons is vol vreugde"

(Psalm 126:3)

Geniet die res van julle naweek!

Ek praat weer

Sandra 

Monday, October 17

Ons gaan see toe

Die pad see toe is nie altyd die N1 of N2 vanaf ander provinsies nie, dis partykeer die kleiner en grondpaaie vanaf die binneland.  Dis een van die blessings om naby die berg en die see te wees. Hier van Riviersonderend se kant, is daar verskei roetes en ons vat presies die regte een vir wat ek nodig het om te gaan vis eet.  (Ja want visse swem in die see, hulle klim nie berg nie)

Ek is gewoond aan kraanvoels wat saam met die skape kuier, maar hierdie is een van die grootste swerm (is dit die regte versamelnaam?) kraanvoels wat ek al sien uithang het met skape. Dit lyk asof die leier gehoor het van die haan wat op die mishoop staan.
Met 'n toet probeer ons die vergadering omvergooi, maar die leier verander net van posisie terwyl die ander doodstil staan.  Die heel pad het mens hierdie pragtige prentjie van verskeie groen / geel met kraanvoels, skape en oulike lammetjies.

Struisbaai is pragtig en rustig en dit wil wil somer word alhoewel die lente nog sukkel om kop uit te steek. 
Nog een wat besig is om ander toe te spreek.  Die voels weet defnitief iets wat ons nie weet nie.  Ons luister maar en los hulle uit om die vis te gaan eet waarvoor ons gekom het.

Soo lekker om Struisbaai te geniet voordat dit somer en vol van toeriste is.  

Ons gaan draai 'n entjie verder waar die water meer stormagtig by Kaap Agulhas en die skeepswrak van die Meisha Mari wat in 1982 gestrand het.  Wonder of hulle nie die vuurtoring se lig raakgesien het nie en wat die rede vir die stranding was.

Die Here is my lig en my heil;  vir wie sou ek vrees?
Die Here is die toevlug van my lewe:  vir wie sou ek vervaard wees?
(Psalm 27:1)

Mooi dag vir jou, ek praat weer

Sandra



Monday, October 10

Laaste stasie op die roete (3)

Wanneer mens in die omgewing van Riviersonderend ry, is daar 'n paar bordjies wat Protem toe wys en ek was nogal nuuskierig om te sien hoe die dorpie lyk.  Die eerste keer wat ek van die dorpie lees is van die skool wat reeds in 1916 daar begin is, toe 'n mnr B Human 'n stukkie van sy grond afgebaken het en 'n skool en ablusie geriewe daarop gebou het.  
Baie van die omgewing se kinders het hier skoolgegaan voordat die skool in Riviersonderend begin is.  Gedurende 1915-1917 is die spoorlyn vanaf Klipdale gebou (soos vertel in vorige blog) en het die dorpie Protem as gevolg van die spoorverbinding ontwikkel.  
Graanprodukte, boerderybenodighede, lewende hawe en pos is per spoor vervoer en mettertyd het die dorpie ook sy eie poskantoor en handsentrale gehad.
Ek het ongelukkig nie 'n foto van die stasie kon neem nie, maar die spoorlyn is tot Protem aangele, met die doel om dit later tot by Swellendam te voltooi.  Omdat hierdie deel dan ook net "tydelik" was, het die stasie die naam Protem gekry, want "Pro" beteken tydelik.
Toe daar later besluit is om die spoorlyn te voltooi, was die spoorstawe te duur en die trein wat tot Swellendam moes loop te groot.  Die spoorstawe vanaf Klipdale tot Protem sou verwyder moes word want te stawe was te nou vir die groter treine.
Die gevolg was dat die spoorlyn nooit voltooi is nie, en vandag staan die woord Protem bekend as "tot hierso en nie verder nie".  Die trein vervoer nog steeds koring tussen Protem, Klipdale en Rietpoel.  

Die spoorlyn mag dalk doodgeloop het hier, maar die mooi is steeds daar en beslis 'n rit werd. 

"Alles het deur Hom tot stand gekom:  ja, nie
'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie"
(Johannes 1:3)

Hoop julle het die volg van die treinspoor saam met my geniet!

Tot 'n volgende keer

Sandra

 


Wednesday, September 28

Tussen stasies in die Overberg (2)

Ons doen nog die treinspoor roete net 'n klein entjie vanwaar ek bly.

Die bordjie wys name aan wat nie eers Google kan antwoord nie, alhoewel dit se die twee dorpies le teenaan mekaar.  Mens kan skaars die huise van Klipdaale sien, so waar begin en eindig Carolineville en wie was sy?

Hier op Klipdale, stop die trein om nog 'n paar trokke aan te haak.  Lyk nie asof iets die trein of werkers aanjaag nie, alles is rustig en behalwe vir die trein, raas die stilte. 

Ek dink dit was vroeer die stasiegebou en mens voel half hartseer oor hoe dit nou lyk.  Ek kan my net indink hoe dit in die beginjare gelyk het.

Net so langs die stasie is die ou huis, miskien die stasiemeester sin?  Dis net hier waar my kop weer die gedagte van 'n treinrit en piekniek optel en nog verder uitbrei.  Die ander kant van die huis wat op die spoorlyn uitkyk is bietjie toegegroei so mens kan nie foto's neem nie, maar ek sien 'n teetuin.  As die trein stop met sy "Overberg toeriste", kom hulle in die tuin sit en kan kies van koffie en tuisgebak, of selfs 'n tradisionele ete om die gevoel van die dorp en platteland te kry.  Sien jy dit saam met my?

'n Aktiewe skool wys dat daar nog jong mense in die dorp is en die dorp waardeur ons ry na die skool toe, is skoon en netjies.  Klipdale het ook baie baie jare terug een van die grootste plaasskole in die omgewing gehad.
En net omdat my teetuin nog nie daar is nie, moet ons by die winkel/poskantoor stop vir 'n drinkdingetjie en dan is dit verder na die volgende treinstasie ....

"Wees altyddeur bly.  Bid sonder ophou
Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God
in Christus Jesus oor julle
(1 Tessalonisensie 5:16-18)

 Lekker dag, ek praat weer

Sandra