Showing posts with label geskiedenis. Show all posts
Showing posts with label geskiedenis. Show all posts

Saturday, February 18

Elim 'n dorpie van rustigheid en geskiedenis

Terug na die juwele van die Overberg en hierdie keer het ek by Elim gaan inloer.  Besig met die soek van Riviersonderend se geskiedenis, is ek skoon jaloers op hierdie dorpie wat 101 jaar ouer is, want hulle het hulle geskiedenis behou. Nie rekords en goed vernietig omdat die "wet" se dit kan na 5/7 jaar gebeur nie. En as iemand wat baie foto's neem, te sien hoedat daar foto rekords is van alles.

Op 24 Mei 1824 koop die Morawiese kerk die 300 morg plaas Vogelstruiskraal in die Swellendam gebied.  Hulle wil 'n 4de sendingstasie stig.  Die woonhuis van daardie plaas bestaan nog vandag. As deel van hul doel om die sendingstasie te begin, is die eerste sendelinge se taak om die stasie uit te le en reels en wette vir die gemeenskap op te stel.  
In 1826 begin hulle bou aan 'n woonhuis en die uitle van boupersele. Binne 2 jaar is daar rye huise en Kerkstraat ontstaan.  Daar was (ek weet nie of dit nog so is nie) voorskrifte vir die bou van die huise en inwoners wat daarby hou, het 'n subsidie ontvang en gratis hout vir die dakke. 

Elke inwoner het ook 'n stuk tuingrond ontvang wat hy moes bewerk.  Met my inloer hierdie week is baie van die huise netjies reggemaak en is dit deel van die dorp se karakter.  Dis op Hemelvaart 12 Mei 1825 wat die naam Elim bekendgemaak word.
Die kerk is in 'n T-vorm gebou, met hoe dik mure, drie gewels, rietdak, voldoende vensters en deure en sterk banke met rugleunings.  Ongelukkig was die gebou gesluit en kon ons nie binne-in gaan loer nie.  Die kerk saam met die werf, voer deel van die stasie.  In 1896 was daar ook 'n blommeskuur opgerig waar hulle van die fynbos blomme 7 jaartjies geberg en verwerk het.  Nuwe winkels en ekstra wonings het later gevolg. 

Die werf het toe bestaan uit 7 woonhuise, poskantoor, losieshuis, winkel, slaghuis, skuur, kerk en die meul.  

Dis mooi om te sien hoe die geboue gerestoreer en gebruik word.  Hierdie huis kan seker baie stories vertel.

Daar is twee damme op die werf bekend as die gemeenskapsdam en die meuldam.  Gemeenskapsdiens (vrywillig) is gedoen by een terwyl die sending mans betaal het om meuldam skoon te maak.

Vir gemeenskapswerk is die werkersklop op  'n sekere tyd gelui en alle mans het op die werf byeengekom om met hulle dagtake te begin.

Hoe lekker sou dit wees as alle dorpe hulle geskiedenis so kon bewaar.

"Daarop het hulle by Elim gekom, waar twaalf waterfonteine
en sewentig palmbome was.  En hulle het daar by die water laer opgeslaan"
Exodus 15:27

Mooi dag vir julle ek praat weer

Sandra






Friday, September 23

Tussen stasies in die Overberg (1)

Tussen treine, tussen stasies
Le daar basies net die lee spore
Tussen treine, tussen stasies
Le die lee spasies van die onskuld nou verlore

Dan dink ek terug aan soveel dae, soveel stawe op die spoor
Ja, daar was voorheen 'n tyd van treine,
waar en wanneer het ons dit verloor?

Onthou jy daardie liedjie van Richard van der Westhuizen?  Met 'n rit deur die omgewing draai daai liedjie nogal in my kop.  Ons stop by die stasie wat duidelik nie meer is nie en die mooi van ou murasies trek my aandag.  
Die spoorlyn vorm deel van die Overberg lyn wat graan vervoer.  Konstruksie begin reeds in 1914 en in Januarie 1914 kom dit tot by Rietpoel, April tot by Klipdale en Protem in Junie van dieselfde jaar. Met die aanle van die spoorlyn word 'n groot probleem om die graan te vervoer opgelos en help dit om die area een van ons grootste koringproduksie gebiede te maak.  


Groot was die blydskap toe die trein ons waarsku, die lyn word nog gebruik.  

Dis so 'n mooi wereld, mens wil eintlik se, haak 'n passasiers wa aan, verkoop kaartjies en laat ander dit ook sien en selfs kom piekniek hou by die eindpunt - of soos later 'n ander idee ....

Ons ry verby pragtige plase met die mooiste groen, perde met vulletjies, skape met lammetjies, verskeidenheid voel en ou gebou wat 'n storie of twee kan vertel.  Volgende stop Klipdale ...

"U sorg vir die land en gee oorvloed,
U maak dit baie vrugbaar.
Die groot riviere is vol water, U laat die koring welig staan ...
U laat alles wwelig groei
(Psalm 65:10-11)

Praat later so tussen die loadshedding weer
Mooi dag

Sandra 

Saturday, August 13

Pssst, het jy hierdie een gehoor?

Psssst, het jy die storie gehoor ... is seker nie hoe hulle 'n storie in die 18honderds oorvertel het nie, maar ek kan 'n prentjie rondom 'n kampvuur, langs 'n wa of rondom 'n tafel in 'n kombuis sien terwyl die nuus gedeel is. 

Net so 'n entjie tussen Riviersonderend en Swellendam, by die Sonderend Rivier, le Stormsvlei.  Vroeer jare was dit die plaas Avontuur.   Rondom 1841 koop 'n silwersmit van die Kaapkolonie en sy broer die plaas.  Hulle laat hul neef William die plaas bestuur, maar nie vir lank nie, want in 1845 erf hy al sy oom se eiendom, die plaas ook. Vir 20 jaar boer hy as oujongkerel op die plaas totdat hy in 1864 met 'n weduwee trou. 

Sy, Annie, se eerste man het so 'n paar jaar tevore selfmoord gepleeg.    Die huwelik hou nie lank nie, want in 1871 word William in die ou Stormsvlei Inn vermoor en verloor Annie weereens 'n eggenoot weens onnatuurlike dood.   Sy het die plaas nog vir 'n paar jaar alleen bestuur voordat sy dit verkoop en saam met haar kinders Kaap toe trek. 

Die moordenaar van William is nooit gevind nie, en tot vandag is daar 'n groot misterie rondom die dood van beide haar mans.  Mens kan jou net indink hoe die storie stertjie gekry het met elke oorvertel. Met ons almal se kundigheid na baie episodes van Blue Bloods, NCIS, FBI ens, sou ons 'n fees gehad het met die oplos van die vrae. 

Die handelspos van destyds met 'n poskantoor, kerk, ens. is pragtig reggemaak deur die huidige eienaars, maar dit wys ek op 'n ander dag.

"Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk" 1 Korintiers 16:13

Mooi dag, ek praat weer

Sandra

Wednesday, July 27

Die park van Edith

Wanneer jy Riviersonderend binne kom, en net nadat jy vir koffie gestop het, is die parkie aan die linkerkant.  Nie baie parkies op die N2 nie, dis verseker en seker een van die redes hoekom dit destyds 'n plek was waar die toeriste gestop het.  Nou is dit net 'n parkie waar almal verby ry of hulle honde vir 'n draaitjie neem.  

In 1923 koop die kerkraad 'n stuk grond van Mev Edith McIntyre.  Later word die stukkie grond voor die kerk, 'n aanstoot vir die mense.  Fondse is min, maar sonder enige munisipalefondse begin twee inwoners, Harry & Anna Knoblauch met die tuin projek.  In die jare wat kom raak inwoners ook betrokke en word daar baie fondsinsamelingsprojekte en donasies ingevorder om die park mooi te maak.  

Ek wens daar was 'n foto beskikbaar van die tuin in sy gloriedae.  Daar was grasperke en roosbome met 'n heining om, 'n visvywer met spuitfontein en gekleurde liggies, gipsbeelde van lewensgroot grysbokkies, kraanvoels, dassies op die pilare by die twee ingange - 'n ware toeriste attraksie. Die park word dan ook op 12 Augustus 1960 amptelik geopen en vernoem na die oorspronklike eienaar van die grond "Edith Park".  
In 1938 tydens die simboliese Ossewatrek los die Dirkie Uys ossewa sy wielspore in sement by die skool in Riviersonderend. Met aanbouings ens. was daar nie 'n plekkie vir die geskiedkundige spore nie.  Tydens die Afrikaanse Taalfeesviering in 1975 word die blok by die parkie gesit deur die Taalfeeskomitee.

Alhoewel die gras gereeld gesny word, word die park nie heeltemal in stand gehou nie.  Met meer bewusmaking, is daar tydens Mandela dag (2022) deur die plaaslike Agri heinings geverf en beddings skoongemaak waaroor ons baie dankbaar is.  

Waar al die beelde van die eens trotse Park nou is, weet ek nie.  Wat ek wel weet is dat dit 'n park vol geskiedenis is, 'n park wat deur die dorp se mense vir sy mense geskep is.  En net die dorp en sy mense kan dit weer 'n positiewe toeriste attraksie maak.

So as jy weer die lang pad na die Oos-Kus en Tuinroete aandurf, rek bietjie bene daar by die parkie, kyk na die ossewaspore en loer ook na die pragtige kerk wat vanjaar 100 jaar oud word.

Mooi dag, praat weer!

Sandra


Tuesday, July 19

Baie Mooi en Geskiedenis

'n Lekker winterson uitstappie en ek ry op 'n splinternuwe pad vir my, maar in werklikheid is die pad horingoud.  Ons ry oor 'n ou brug en die Sonderend Rivier.  Vroeg in die geskiedenis 1669 het 'n VOC soldaat reeds van die rivier gepraat, en is dit die "Rivier Zonder Endt" (the endless river) genoem.  Later in 1707 het hulle dit die Kanna-kan-kann genoem wat die Hessequa Khoi se naam vir "water, endless water" beteken.

Dis net daar langs die rivier wat die "Ou Kaapse Hoofweg" loop.  Tussen 1670-1850 is die pad gebruik om by oa 'n veepos te stop vir kos en water oppad Stormsvlei en Swellendam toe - Riviersonderend het nog nie bestaan nie - al die pad vanaf die Kaap. Dis moeilik om 'n prentjie te sien van ossewaens, perdekarre, perderuiters.  Ek kan net dink aan al die lekker gesels, besprekings rondom die geelhout en stinkhout bome, die roete met sy uitdagings en plekke waarnatoe hulle oppad is.  Een ding is verseker, hulle sou nie petrolpryse tydens die rit bespreek het nie.  (Miskien moet ons teruggaan na perdry en waens)


By die gedenkteken, is die begrafplaas van heelwat mense wat 'n groot rol in Riviers se geskiedenis en ontstaan gespeel het, daarvan vertel ek later.


Die pad loop nie net verby geskiedenis verby nie, maar ook baie mooi  sover as die oog kan sien. 

Tegnologie mag dalk verander het, maar dit wat God geskep het, staan nog net so mooi daar vir ons om te sien en te weet dat Sy liefde vir my en jou ook dieselfde bly.

"Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie,
my vredesverbond met jou sal nooit wankel nie, se die Here wat jou liefhet"
Jesaja 54:10


Mooi dag, praat weer

Sandra



Saturday, April 19

Opgrawings in die blink dorp

Dink aan die prentjie - 'n ou dhow vaar 'n hawe in wat eintlik net 'n vasmeer plek is, en orals rondom staan mense opgewonde en kyk. Waarvandaan kom die boot en wat bring dit saam?Dit kan miskien 'n prentjie van 'n paar honderd jaar terug wees in 'n plek wat vandag as Jumeirah (Dubai) bekend staan. Hierdie plek is ook meer bekend vir die Burj Al Arab hotel en al die ander hotelle in die omgewing.Ongelooflike ontwikkeling is hier aan die gang en mens kan amper nie die see sien nie, en reg in die middel van 'n klomp villas is daar 'n teken wat lees "Jumeirah Archaelogical Site". Hierdie opgrawings wys dat dit 'n redelike groot stad is wat opgegrawe is. Die opgrawingsgrond is 80,000 vkm met duidelike tekens van 'n 1000 jaar terug handelspos. Maar ontwikkeling moet voortgaan en slegs 9 strukture van hierdie ou stad het die ontwikkeling vrygespring. Hierdie vonds is reeds in 1969 deur die American University of Beirut gedoen en in 1974 het Irakiese argeoloe die "geboue" ontdek. Slegs in 1993 is daar erns deur die regering begin werk van maak en intussen is 2 ander plekke of afgekamp maar nog nie met opgrawings begin nie. Sewe van die strukture is "geidentifiseer" wat 'n souq, werkswinkel, moskee en inn insluit. Die mooiste strukture is 'n groot huis wat miskien die heerser se huis kon wees. Twee ander geboue is nog nie geidentifiseer nie. Dit blyk dat die "dorpie" taamlik seker 'n handelspos was want geldstukke van die Abbasid-era, potte van suid Irak en klipkruike van China is gevind. Van hierdie stukke word tans uitgestal in die Dubai Museum in Bur Dubai en die terrein sal binnekort vir die publiek oopgemaak word.

Sien daar word tog klippies opgegrawe in die land en alles is nie net blink en nuut nie.