Showing posts with label Vancouver. Show all posts
Showing posts with label Vancouver. Show all posts

Wednesday, February 1

'n Besoek aan 'n pragtige dorpie

Ons besoek die pragtigste klein dorpie waar ek baie maklik sal kan bly net so 'n entjie van waar die kinders is, Fort Langley.  Dit laat my nogal baie aan Greyton dink met sy ou geboue en karakter.  

Die oorspronklike fort was langs die Fraser Rivier gebou (dit voel vir my asof alles naby die Fraser Rivier gebou is) en met gedurige vloede is dit in 1839 na huidige plek geskuif toe 'n tweede fort gebou is.  'n Jaar later het die gebou afgebrand .

Dis eers in 1958 wat die parke afdeling dit herbou het as 'n museum.  

As jy lief is vir stap en geskiedenis, dan is die Fort to Fort Trail ideaal. 'n Sirkel roete al langs die Fraser Rivier vanaf Fort Langley tot Derby Reach Reginal Park en teug, 'n hele 9.2 km.  

Vir interessantheid gaan kyk bietjie na die Trans Canada Trail as jy die land dmv verskeie maniere wil sien.  

Fort Langley is die geboorteplek van die provinsie of BC (British Colombia) en vernoem na Thomas Langley.  Hier is die pragtigste klein winkels, gallerye en restaurante.  Hulle "landmark" is die Community Hall wat al in flieks gebruik is.  

Ekself het hierdie week na 'n fliek gekyk en was lekker opgewonde om die geboue in die hoofstraat te herken ... daardie "ek was daar" oomblik!  Natuurlik was die Gemeenskapsaal ook vrolik en vol kersversierings vir hul kersmark.

Ons eet 'n heerlike ontbyt by die "Boekwinkel" en stap daarna na die fort en kyk en besoek van die klein winkeltjies.

So 'n rustige dorpie wat ek seker is raak besig met besoekers.  'n Plek wat ek weer, sou ek kan sal wil besoek. 

Hoop julle het die bietjie deel geniet, wie weet miskien herken julle iets in jul volgende fliek.

Ek wil die Here loof met my hele hart;

ek wil al U wonders vertel.

Psalm 9:2

Mooi dag vir julle

Sandra


Sunday, January 8

Ons Kersboom prentjies

Die eerste klomp dae spandeer ek maar in en op die bed met allerhande kwale wat opduik.  Intussen sneeu dit nog dat die biesies bewe en ek geniet die koue weer.
Die eerste uitstappie is na 'n winkelsentrum om oa sneeuskoene te kry en ek verkyk my hoe die mense nie so baie warm klere soos ek aanhet nie.

En partymense eet roomys!!
Die omgewing lyk mooi soos 'n Kerskaartjie en hulle besluit dis tyd om die kersboom op te slaan en te versier.  Hoe het ek Lara nie toe geniet nie, want sy het almal eers gestop ... sy moet eers die atmosfeer reg kry en dan kan die boom opgeslaan word.  
Sy het kersmusiek aangesit, die kaggel laat brand, hot chocolate vir ons gemaak en toe toestemming gegee vir die opslaan.  

Nie meer lank nie Leane, dan is sy amptelik langer as jy.


So 'n wonderlike tyd om saam met die drie te kon deel!

Loof die Here, want Hy is goed
want Sy goedertierendheid is tot in ewigheid
1 Kronieke 16:34

Volgende keer vertel ek van 'n dorpie met die naam Fort Langley

Mooi bly
Liefde
Sandra

Thursday, January 5

'n Lekker lang vakansie saam met die kinders

Die blog was bietjie stil die laaste paar weke, maar om 'n goeie rede, ek kon 'n bietjie saam met van my oorsese kinders en kleinkinders kuier en wat 'n fees was dit nie.  Vir myself en vir die wat wil lees, 'n klomp dagboekinskrywings van my kuier. 

Om te se ek was opgewonde en  bietjie bekommerd om die lang vlug weer aan te durf, is korrek.  Met webblaaie van lugrederye en lughawens wat nie gereeld opgedateer word nie en wat mense se wat onlangs gevlieg het na maande se inperking, was daar net een opsie ... bid en vertrou ... en hoe wonderlike het alles nie uitgedraai nie.  'n Lugredery wat taamlik kritiek kry en volgens die internet onder die top 3 swakstes ter wereld is, stel nuwe vlugte in en my lang vlug van Kaapstad - Washington DC - Los Angelos - Vancouver word een van my beste vlugte, en nou sluit ek vlieg met die top 3 lugrederye in. Die heel langste been, 'n 16 uur vlug het ek die hele ry se sitplekke vir myself.  Dankie aan my Groot Pa wat in beheer is, en weet wat ek nodig gehad het, ek moet net vertrou!!

Wat 'n lekkerte om die kinders en veral Lara te sien.  Ouma kry nie baie tyd nie, want waar ons gewoonllik oor video oproep moet speel, is dit nou tyd vir die regte manier en Boereplaas word uitgehaal.  
Dit help natuurlik dat ouma ook die uitbreidingspak saamgebring het. Lara is siek en al 'n week by die huis en ek daag op met 'n liederlike "iets" wat my 'n hele klomp dae buite aksie los.  Ons rus en slaap en kuier in die nagure wannneer ek haar wakker hoes, so 'n groot bederf.
My bederf hou nie op nie, want twee dae later begin die eerste sneeu val.  Hier sneeu dit nie baie nie hoor ek, so ek geniet die sagte sneeu al hoesende.  Hier gaan dit net lekker raak.

En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees,
sodat julle altyd in alle opsigte volop kan he 
en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk
2 Korintiers 9:8

Praat gou weer
Liefde
Sandra