Monday, October 10

Laaste stasie op die roete (3)

Wanneer mens in die omgewing van Riviersonderend ry, is daar 'n paar bordjies wat Protem toe wys en ek was nogal nuuskierig om te sien hoe die dorpie lyk.  Die eerste keer wat ek van die dorpie lees is van die skool wat reeds in 1916 daar begin is, toe 'n mnr B Human 'n stukkie van sy grond afgebaken het en 'n skool en ablusie geriewe daarop gebou het.  
Baie van die omgewing se kinders het hier skoolgegaan voordat die skool in Riviersonderend begin is.  Gedurende 1915-1917 is die spoorlyn vanaf Klipdale gebou (soos vertel in vorige blog) en het die dorpie Protem as gevolg van die spoorverbinding ontwikkel.  
Graanprodukte, boerderybenodighede, lewende hawe en pos is per spoor vervoer en mettertyd het die dorpie ook sy eie poskantoor en handsentrale gehad.
Ek het ongelukkig nie 'n foto van die stasie kon neem nie, maar die spoorlyn is tot Protem aangele, met die doel om dit later tot by Swellendam te voltooi.  Omdat hierdie deel dan ook net "tydelik" was, het die stasie die naam Protem gekry, want "Pro" beteken tydelik.
Toe daar later besluit is om die spoorlyn te voltooi, was die spoorstawe te duur en die trein wat tot Swellendam moes loop te groot.  Die spoorstawe vanaf Klipdale tot Protem sou verwyder moes word want te stawe was te nou vir die groter treine.
Die gevolg was dat die spoorlyn nooit voltooi is nie, en vandag staan die woord Protem bekend as "tot hierso en nie verder nie".  Die trein vervoer nog steeds koring tussen Protem, Klipdale en Rietpoel.  

Die spoorlyn mag dalk doodgeloop het hier, maar die mooi is steeds daar en beslis 'n rit werd. 

"Alles het deur Hom tot stand gekom:  ja, nie
'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie"
(Johannes 1:3)

Hoop julle het die volg van die treinspoor saam met my geniet!

Tot 'n volgende keer

Sandra

 


No comments: