Saturday, October 22

Hier wil jy stop ... die Kaasfabriek

Een van my nuwe gunsteling paaie om te ry is die R406 en dis net daar waar ek nog een van die juwele van die omgewing raak ry, die Concordia plaas waar die Kingwill Kaasfabriek is.

Natuurlik is dit die "babatjies" wat eerste aandag trek.  Hier word die melk van die Jersey koeie gebruik om die lekkerste kase te maak. Die familie besigheid het in Januarie 2000, op 'n klein skaal sommer in die kombuis begin deur 'n verskeidenheid resepte te toets totdat hulle die perfekte een gevind het.  

Zelda is huidiglik die "kaasmaker", wat oorgevat het by haar skoonouers, maar almal spring in om te help wanneer daar tyd en hulp nodig is.  Haar regterhand, wat al 12 jaar deel van die kaasfabriek is, is Ngoni  wat ook help met die proses.  

Die kase het gou gewild geword en was dit nodig om 'n klein fabriek te bou sodat hulle kon byhou met die aanvraag na die kase. Kingwill kaas het ook toekennings gekry vir die kase wat hulle maak.  Tans is die kase by 'n verskeidenheid afsetpunte beskikbaar en ook elke Saterdag by die Greyton mark.

Daar word 18 soorte cheddars met verskillende kruie en speserye gemaak van ongepasteuriseerde melk verskaf deur hul eie Jersey koeie.   Dis moeilik om te kies tussen die verskillende soorte:  Mild Cheddar, Pepper, Smoked Jalepeno, Cumin, Mixed herbs, Olives, Chilli, Chives & Onion, Garlic & Onion, Stinging Nettle, Mustard Seed, Italian mix (sundried tomato & Basil), Corinder, Rosemary,, Smoked cheddar, Nature cheddar, Teddy's cheese en One year mature - alhoewel ek natuurlik my gunstelinge het. 
Vir kwaliteit tradisionele kaas met heerlike geure, sonder enige kleursel, kom bederf julle self en besoek die kaasfabriek persoonlik.  Zelda is 'n uitstekende gasvrou en deel graag die inligting rondom die kase.

Hier is regtig 'n geur vir elke smaak.  Net wat mens nodig het in die warm somer maande en kragonderbrekings ... 'n heerlike kaasbord met koue vleise :-) of vir die wat hou van 'n kaas- en wyn kuier.  Of ...as 'n geskenk.

Gaan maak 'n draai, jy sal nie spyt wees nie.

"Die Here het groot dinge vir ons gedoen en ons is vol vreugde"

(Psalm 126:3)

Geniet die res van julle naweek!

Ek praat weer

Sandra 

1 comment:

Anonymous said...

Baie goeie artikel wat reg laat geskied aan hierdie vriendelijke kaasmakers… en die kase is heerlik. Defnitief aan te beveel