Showing posts with label Overberg. Show all posts
Showing posts with label Overberg. Show all posts

Saturday, February 18

Elim 'n dorpie van rustigheid en geskiedenis

Terug na die juwele van die Overberg en hierdie keer het ek by Elim gaan inloer.  Besig met die soek van Riviersonderend se geskiedenis, is ek skoon jaloers op hierdie dorpie wat 101 jaar ouer is, want hulle het hulle geskiedenis behou. Nie rekords en goed vernietig omdat die "wet" se dit kan na 5/7 jaar gebeur nie. En as iemand wat baie foto's neem, te sien hoedat daar foto rekords is van alles.

Op 24 Mei 1824 koop die Morawiese kerk die 300 morg plaas Vogelstruiskraal in die Swellendam gebied.  Hulle wil 'n 4de sendingstasie stig.  Die woonhuis van daardie plaas bestaan nog vandag. As deel van hul doel om die sendingstasie te begin, is die eerste sendelinge se taak om die stasie uit te le en reels en wette vir die gemeenskap op te stel.  
In 1826 begin hulle bou aan 'n woonhuis en die uitle van boupersele. Binne 2 jaar is daar rye huise en Kerkstraat ontstaan.  Daar was (ek weet nie of dit nog so is nie) voorskrifte vir die bou van die huise en inwoners wat daarby hou, het 'n subsidie ontvang en gratis hout vir die dakke. 

Elke inwoner het ook 'n stuk tuingrond ontvang wat hy moes bewerk.  Met my inloer hierdie week is baie van die huise netjies reggemaak en is dit deel van die dorp se karakter.  Dis op Hemelvaart 12 Mei 1825 wat die naam Elim bekendgemaak word.
Die kerk is in 'n T-vorm gebou, met hoe dik mure, drie gewels, rietdak, voldoende vensters en deure en sterk banke met rugleunings.  Ongelukkig was die gebou gesluit en kon ons nie binne-in gaan loer nie.  Die kerk saam met die werf, voer deel van die stasie.  In 1896 was daar ook 'n blommeskuur opgerig waar hulle van die fynbos blomme 7 jaartjies geberg en verwerk het.  Nuwe winkels en ekstra wonings het later gevolg. 

Die werf het toe bestaan uit 7 woonhuise, poskantoor, losieshuis, winkel, slaghuis, skuur, kerk en die meul.  

Dis mooi om te sien hoe die geboue gerestoreer en gebruik word.  Hierdie huis kan seker baie stories vertel.

Daar is twee damme op die werf bekend as die gemeenskapsdam en die meuldam.  Gemeenskapsdiens (vrywillig) is gedoen by een terwyl die sending mans betaal het om meuldam skoon te maak.

Vir gemeenskapswerk is die werkersklop op  'n sekere tyd gelui en alle mans het op die werf byeengekom om met hulle dagtake te begin.

Hoe lekker sou dit wees as alle dorpe hulle geskiedenis so kon bewaar.

"Daarop het hulle by Elim gekom, waar twaalf waterfonteine
en sewentig palmbome was.  En hulle het daar by die water laer opgeslaan"
Exodus 15:27

Mooi dag vir julle ek praat weer

Sandra






Monday, October 17

Ons gaan see toe

Die pad see toe is nie altyd die N1 of N2 vanaf ander provinsies nie, dis partykeer die kleiner en grondpaaie vanaf die binneland.  Dis een van die blessings om naby die berg en die see te wees. Hier van Riviersonderend se kant, is daar verskei roetes en ons vat presies die regte een vir wat ek nodig het om te gaan vis eet.  (Ja want visse swem in die see, hulle klim nie berg nie)

Ek is gewoond aan kraanvoels wat saam met die skape kuier, maar hierdie is een van die grootste swerm (is dit die regte versamelnaam?) kraanvoels wat ek al sien uithang het met skape. Dit lyk asof die leier gehoor het van die haan wat op die mishoop staan.
Met 'n toet probeer ons die vergadering omvergooi, maar die leier verander net van posisie terwyl die ander doodstil staan.  Die heel pad het mens hierdie pragtige prentjie van verskeie groen / geel met kraanvoels, skape en oulike lammetjies.

Struisbaai is pragtig en rustig en dit wil wil somer word alhoewel die lente nog sukkel om kop uit te steek. 
Nog een wat besig is om ander toe te spreek.  Die voels weet defnitief iets wat ons nie weet nie.  Ons luister maar en los hulle uit om die vis te gaan eet waarvoor ons gekom het.

Soo lekker om Struisbaai te geniet voordat dit somer en vol van toeriste is.  

Ons gaan draai 'n entjie verder waar die water meer stormagtig by Kaap Agulhas en die skeepswrak van die Meisha Mari wat in 1982 gestrand het.  Wonder of hulle nie die vuurtoring se lig raakgesien het nie en wat die rede vir die stranding was.

Die Here is my lig en my heil;  vir wie sou ek vrees?
Die Here is die toevlug van my lewe:  vir wie sou ek vervaard wees?
(Psalm 27:1)

Mooi dag vir jou, ek praat weer

Sandra



Monday, October 10

Laaste stasie op die roete (3)

Wanneer mens in die omgewing van Riviersonderend ry, is daar 'n paar bordjies wat Protem toe wys en ek was nogal nuuskierig om te sien hoe die dorpie lyk.  Die eerste keer wat ek van die dorpie lees is van die skool wat reeds in 1916 daar begin is, toe 'n mnr B Human 'n stukkie van sy grond afgebaken het en 'n skool en ablusie geriewe daarop gebou het.  
Baie van die omgewing se kinders het hier skoolgegaan voordat die skool in Riviersonderend begin is.  Gedurende 1915-1917 is die spoorlyn vanaf Klipdale gebou (soos vertel in vorige blog) en het die dorpie Protem as gevolg van die spoorverbinding ontwikkel.  
Graanprodukte, boerderybenodighede, lewende hawe en pos is per spoor vervoer en mettertyd het die dorpie ook sy eie poskantoor en handsentrale gehad.
Ek het ongelukkig nie 'n foto van die stasie kon neem nie, maar die spoorlyn is tot Protem aangele, met die doel om dit later tot by Swellendam te voltooi.  Omdat hierdie deel dan ook net "tydelik" was, het die stasie die naam Protem gekry, want "Pro" beteken tydelik.
Toe daar later besluit is om die spoorlyn te voltooi, was die spoorstawe te duur en die trein wat tot Swellendam moes loop te groot.  Die spoorstawe vanaf Klipdale tot Protem sou verwyder moes word want te stawe was te nou vir die groter treine.
Die gevolg was dat die spoorlyn nooit voltooi is nie, en vandag staan die woord Protem bekend as "tot hierso en nie verder nie".  Die trein vervoer nog steeds koring tussen Protem, Klipdale en Rietpoel.  

Die spoorlyn mag dalk doodgeloop het hier, maar die mooi is steeds daar en beslis 'n rit werd. 

"Alles het deur Hom tot stand gekom:  ja, nie
'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie"
(Johannes 1:3)

Hoop julle het die volg van die treinspoor saam met my geniet!

Tot 'n volgende keer

Sandra

 


Wednesday, September 28

Tussen stasies in die Overberg (2)

Ons doen nog die treinspoor roete net 'n klein entjie vanwaar ek bly.

Die bordjie wys name aan wat nie eers Google kan antwoord nie, alhoewel dit se die twee dorpies le teenaan mekaar.  Mens kan skaars die huise van Klipdaale sien, so waar begin en eindig Carolineville en wie was sy?

Hier op Klipdale, stop die trein om nog 'n paar trokke aan te haak.  Lyk nie asof iets die trein of werkers aanjaag nie, alles is rustig en behalwe vir die trein, raas die stilte. 

Ek dink dit was vroeer die stasiegebou en mens voel half hartseer oor hoe dit nou lyk.  Ek kan my net indink hoe dit in die beginjare gelyk het.

Net so langs die stasie is die ou huis, miskien die stasiemeester sin?  Dis net hier waar my kop weer die gedagte van 'n treinrit en piekniek optel en nog verder uitbrei.  Die ander kant van die huis wat op die spoorlyn uitkyk is bietjie toegegroei so mens kan nie foto's neem nie, maar ek sien 'n teetuin.  As die trein stop met sy "Overberg toeriste", kom hulle in die tuin sit en kan kies van koffie en tuisgebak, of selfs 'n tradisionele ete om die gevoel van die dorp en platteland te kry.  Sien jy dit saam met my?

'n Aktiewe skool wys dat daar nog jong mense in die dorp is en die dorp waardeur ons ry na die skool toe, is skoon en netjies.  Klipdale het ook baie baie jare terug een van die grootste plaasskole in die omgewing gehad.
En net omdat my teetuin nog nie daar is nie, moet ons by die winkel/poskantoor stop vir 'n drinkdingetjie en dan is dit verder na die volgende treinstasie ....

"Wees altyddeur bly.  Bid sonder ophou
Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God
in Christus Jesus oor julle
(1 Tessalonisensie 5:16-18)

 Lekker dag, ek praat weer

Sandra




Friday, September 23

Tussen stasies in die Overberg (1)

Tussen treine, tussen stasies
Le daar basies net die lee spore
Tussen treine, tussen stasies
Le die lee spasies van die onskuld nou verlore

Dan dink ek terug aan soveel dae, soveel stawe op die spoor
Ja, daar was voorheen 'n tyd van treine,
waar en wanneer het ons dit verloor?

Onthou jy daardie liedjie van Richard van der Westhuizen?  Met 'n rit deur die omgewing draai daai liedjie nogal in my kop.  Ons stop by die stasie wat duidelik nie meer is nie en die mooi van ou murasies trek my aandag.  
Die spoorlyn vorm deel van die Overberg lyn wat graan vervoer.  Konstruksie begin reeds in 1914 en in Januarie 1914 kom dit tot by Rietpoel, April tot by Klipdale en Protem in Junie van dieselfde jaar. Met die aanle van die spoorlyn word 'n groot probleem om die graan te vervoer opgelos en help dit om die area een van ons grootste koringproduksie gebiede te maak.  


Groot was die blydskap toe die trein ons waarsku, die lyn word nog gebruik.  

Dis so 'n mooi wereld, mens wil eintlik se, haak 'n passasiers wa aan, verkoop kaartjies en laat ander dit ook sien en selfs kom piekniek hou by die eindpunt - of soos later 'n ander idee ....

Ons ry verby pragtige plase met die mooiste groen, perde met vulletjies, skape met lammetjies, verskeidenheid voel en ou gebou wat 'n storie of twee kan vertel.  Volgende stop Klipdale ...

"U sorg vir die land en gee oorvloed,
U maak dit baie vrugbaar.
Die groot riviere is vol water, U laat die koring welig staan ...
U laat alles wwelig groei
(Psalm 65:10-11)

Praat later so tussen die loadshedding weer
Mooi dag

Sandra 

Thursday, September 8

'n Soet bederfie

Die inleiding waarmee ek wou begin was, wanneer jy in Riviersonderend stop, maak seker dat jy ook opstock vir die pad by Mari's Fudge in die Hoofstraat.  Maar as 'n ma/ouma weet ek dat 'n lang pad met gesonde woelige kinders vol soet, kan baie lank word of miskien hou jy nie van deel nie ... wat ookal die rede, die online opsie is selfs beter, want jy gaan beslis meer bestel as net 1 houer en jy kan dit "wegsteek" voordat die kinders van die skool af kom.  Loer later aan die einde vir die skakel. 

Die winkel begin met 'n storie in 2011.  Ses maande swanger met 'n bekommernis om finansieel voorbereid te wees vir die baba se koms.  Dieselfde week wat sy God vra om haar te help en lei, trap haar huishulp se man op hulle (die huishulp) se baba hondjie. Christene kom vra hulp en hulle neem  "Ounooi" na die SPCA waar hulle twee opsies kry.  'n Operasie vir die gebreekte heup wat R800 gaan kos of hulle moet haar aan die slaap sit. 

Mari dink heelaand aan hoe hulle die geld in die hande gaan kry en die volgende oggend bel sy vir Christene om vinnig te kom, hulle gaan fudge maak en in die dorp verkoop.  Die golf klub het 'n golfdag en Andre die klubkaptein bied aan om die fudge op te veil en nodeloos om te se hulle maak R800.  

Daarvandaan is daar geen einde nie, en 11 jaar later het sy 4 plaaslike mense wat saam met haar 2 ton fudge elke maand maak.  Jip 2 ton, dis baie! 


Hulle voorsien aan oor die 250 winkels en maak ook hulle eie kondensmelk om die fudge te maak.

Die moeilikste deel is om te besluit watter een jy wil proe.  Die "Crumbly Caramel" Fudge gemaak met die heerlike selfgemaakte kondensmelk, die "Chocolate Crumbly" Fudge met die kondensmelk en donker kakao, die "Honey Crumbly" fudge gemaak van kondensmelk en fynbos heuning of die "Salted Popcorn Brittle" met donker sjokolade en almond of cranberry by.  

Ek weet net een ding, en dit is dat jy dit moet proe.  Fudge is nie die maklikste soetgenot om te maak nie, dit vat werk en hier by Mari's is daar 'n toegeweide span wat dit met die hand maak vir ons wat hou van 'n soetdingetjie of twee.   

So moenie volgende keer net deurry nie, stop vir daai bederfie of bestel hier by Mari's (kliek op hier)

"Soet soos heuning is vir my U woorde,

nee, soeter as heuning, want hul gee my raad ..."

Lekker dag vir julle

Sandra 



Thursday, July 21

Weggesteekte Juwele

Ons land Suid-Afrika is mooi.  Dis nie net 'n Suid-Afrikanerhart wat so se nie, maar besoekers aan ons mooi land, stem 120% saam.  Dit was nog altyd 'n droom om deur die land te reis en nuwe plekke te sien, maar op my ouderdom raak dit alhoemeer onwaarskynlik.  Dus, om "nuwe" plekke reg rondom en naby my te sien is 'n blessing, wat ek baie geniet.  'n Uitnodiging om Malgas toe te gaan (waar ek al 'n paar keer was), raak so 'n geleentheid.  Ek weet nie of dit ouer oe is wat anders kyk nie, maar die werkende verkeerslig naby die afdraai Malgas toe, vang my oog.



Dis eers toe ek die groenlig sien, wat ek besef dit wys die oulike winkel is oop.  Moenie daar stop net voor ete nie, want die reuk van vars gebakte brood is 'n groot versoeking.


Alhoewel dit 'n grondpad is, maak die mooi op vir die geskud.  Die vriende saam met wie ek ry, hou verby die afdraai Malgas toe en nou is ek op 'n nuwe pad vir my.  Nuwe plek om te sien!  Ons ry tot by Infanta 'n pragtige kusdorpie naby Swellendam. Oppad is ek nuuskierig en google die dorp.  Dis gelee langs die Breede rivier by St Sebastian baai.  Die baai is ook bekend as "creche" van die walvisse.  En daar is dit ... 'n paar walvisse in die water!!  Ek kan heeldag sit en foto's neem en wag vir daai oomblik wanneer die walvis sy kop of stert by die water uitsteek, maar daar is plekke om te sien.


Aan die anderkant van die rivier is Witsand en ek kan verstaan hoekom die mense die plekke 'n "geheim" wil hou.  Saam is die inwoners van die 2 dorpies baie minder as 'n 1000 en dis 'n ideale plek om te kayak. Dit is ook gewild vir  "kitesurfing" en "windsurfing".  O ja, en visvang. 
.
Oppad terug draai ons wel op die Malgas pad vir 'n heerlike middagete by die Malagas hotel.  Hierdie hotel op die wal van die Breede rivier is defnitief 'n plek waar mens kan bly.  Daar is selfs rivierbote sou jy liewer op die water wil slaap. 


Ek wil defnitief weer die plekke besoek, dis mooi, dis rustig en 'n blessing.

"En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien
volgens Sy onderbaarlike rykdom in Christus Jesus"
Filippense 4:19

Mooi dag, ek praat weer
Sandra