Friday, December 19

Ons stop by 'n paar Weskus dorpies

Die eintlike rede vir ons "vakansie" in SA is 'n troue wat op die Weskus gehou word, en ek besluit om 'n dag of drie daar oor te bly en die kinders bietjie daardie deel van die wereld te wys. Dus ry ons so kuier, kuier en stop by drie dorpies oppad Paternoster toe. Heel eerste aan die beurt is Yzerfontein waar ons baie jare terug gekuier het. Hierdie is 'n pragtige dorpie en ek lees op hier dat daar baie praatjies is oor waar die dorp sy naam vandaan kry. Tussen al die bespiegelinge oor die betekenis is dit 'n feit dat die dorp se ontwikkeling op 'n plaas met die naam Yzerfontein (Eijzerfontein) begin het. En jinne was daar ontwikkeling die laaste paar jare met al die huise en die dorp is besig en 'n baie gewilde vakansiedorp. Dis nog vroeg en die strande is doodstil en so ook die water. Dis so mooi en die kinders is in vervoering. James gaan staan op die rotse om die mooiste foto's te neem. Ons ry baie traag weg, maar die klomp raak opgewonde oor die volgende stop want hier teen die kus kan dit net lekker raak lyk dit. Ons volgende stop is mooi maar 'n groot teleurstelling. Hierdie dorpie het in 1922 sy ontstaan en was oorspronklik 'n walvisstasie, maar vandag is dit seker die besigste vakansiedorp aan die Weskus en dit het ons nie beindruk nie. Soos ons hier in die woestyn deesdae moet soek vir die woestyn, moes ons daar soek vir die see. Mens kan dit sien, maar mens kan nie daarby uitkom nie met al die huise, casiono's en estates. Die griekse tipe huisies is mooi, maar ons voel dit vat baie van die Weskus ongereptheid heeltemal weg. Ons moet deur die casino gronde, 'n paar woonkomplekse ry om uiteindelik hier by die toring te kan staan om foto's van die see te kry. As jy in luuksheid wil vakansie hou en die see bietjie wil ruik, en malls nodig het, dan kan dit die plek vir jou wees. Die volgende dorpie is net 'n naam op die kaart vir die kinders totdat ons stop vir koeldrank en broodjies en hulle die plek baie opgewonde onthou. Saldanha wat vernoem is na 'n Portugese vlootadmiraal Antonio de Saldanha. Hierdie hawe het 'n groot rol gespeel in die tweede wereldoorlog waar skepe in 'n veilige hawe kon vasmeer. Die dorpie is baie ontwikkel en het sy eie klein "see-dorpie" Jacobsbaai. Wat ons wel opgemerk het van die plek was dat dit baie skoon is en William vertel dat die munisipaliteit een of ander prys vanjaar daarvoor gewen het.

Wednesday, December 17

Ons groet Onrus en die Smithe

Na al die heerlike dae langs die kus, kla ek glad nie toe die laaste dag aanbreek en dit effens koeler en bewolk is nie. Dis mos lekker om warm aangetrek langs die strand te stap ook, of altans vir party van ons. William "skimboard" (mens spreek dit in Engels uit) dat hy spiere seermaak wat hy wat fiks is nie eers van geweet het nie. Daai manne op die agtergrond kan ook nie glo wat hulle sien nie. Maar na heelwat valle, kry hy dit reg om die bord te bemeester en geniet hy die koeler en rustige water. Ek sou graag wou se dat ons nie gaan uiteet het nie, maar mens moet mos eet, julle doen ook en ons kuier vir oulaas saam met die Smithe. Die kinders vertel dat hulle genoeg gevis het en nou vleis soek, dus is ons Cattle Baron toe. Die aand word oom Jan se eerste liggies wat James help aansit het, amptelik aangeskakel. Daar word met 'n kritiese oog na die liggies en die leemtes gekyk wat sou opvul. Ek wonder hoe dit nou lyk met die klein kindes wat die week daar gaan opdaag. Oom Jan se hy wil sien hoe jou kersliggies ook lyk Eddie. Ons kry ook kans om bietjie kopstukke te gesels en hier is oom Jan, William en Nelmari aan die kuier. James kry ook sy beurt en hy vertel dat hy nou amptelik gehoor het hy's sy honeursjaar ook deur. Gou-gou word die sjampanje, kaas, mossels en beskuitjies gehaal en ons vier fees. Baie geluk seun en dankie Oom Jan en tanne Nell vir die lekker kuier.

Monday, December 15

Dis lekker by die see en ons huisie

Mens het baie gunstelinge, maar seker een van my top 5's vir eetplekke is Ons Huisie in Bloubergstrand. Die berg gee my sy mooiste prentjie.Bly Laurika daar vra William en toe ons lag vertel hy sy sing mos dat sy 'n huisie by die see het en sy sing van Bloubergstrand. Ons kuiermense is na 3 kort daggies oppad terug en natuurlik moet ons net daaruitkom. Net na die slag van Blouberg het die meeste van die plase en grond destyds in 1806 aan 'n ene Frederick Stadler behoort en die vermoede is dat die huisie sy eerste huis was. Daar is geen amptelike datum van die huis nie, maar in 1853 het die bekende kunstenaar Thomas Bowler 'n potloodskets van die huisie gemaak. Op daardie stadium het Hendrik Stadler, Frederick se seun in die huisie gebly. Frederick en sy 3 seuns was vissermanne wat Bloubergstrand op die kaart gesit het! Die Boonzaaier familie het ook 'n groot rol in die huisie se geskiedenis gespeel en die huidige eienaar het probeer om die huisie te restoreer dat mens nog die "ou" geskiedenis kan sien, voel en ruik. Die restaurant het heerlike tradisionele kossoorte op sy spyskaart en ons sit so onder die bokkoms :-)Ons het die lekker vis en ander kosse geniet en dan se ek niks van die mieliebrood, blikbrood en roosterbrood wat ook saam gedien word. Na 'n lekker ete moes daar eers langs die see gestap word. William, Nelmari en Elriza kom teruggestap dat ons kan lughawe toe. Min het ons geweet dat hulle vlug al die oggend om 07:00 gevlieg het :-). Ons was bly want ons kon Ons Huisie ook inwerk!

Saturday, December 13

So so mooi

Moenie vir een oomblik dink ek het genoeg see gesien nie. As julle dit nog nie agtergekom het nie, ek is mal oor die see en na die Kaap Agulhas besoek ry ons verder na 'n dorpie met die naam van Arniston ook bekend as Waenhuiskrans. Hierdie dorp is al twee eeue oud en kyk hoe pragtig is dit. Ons besluit om na die "grot" waar die naam vandaan kom, te gaan kyk. Hulle se 'n ossewa kon omgedraai het in die grot. Die twee meisies stap vinnig vooruit. Die seuns is bietjie meer versigtig en staan na van die ander grotte en kyk en natuurlik is James ook opsoek na klippies vir Leane. Op 'n stadium raak Elriza en Nelmari bietjie "bang" want die water stoot op, maar ons ouer tannies loop aan en kyk net ons beloning ..... Dis so mooi mens kan nie genoeg kry van die uitsig nie. Ma en dogter rus en gee kos vir die steekvliee terwyl my drie "rustige" kinders nie tot ruste kom nie. Die vakansiehuisies lyk omtrent almal so. Die ou pastorie op die dorp. Hierdie is die ou huisies waar van die inwoners nog bly. Middagete is by die Arniston hotelwaar Willilam 'n "pint prawns" eet. ('n Bierbeker vol prawns) En dis ons uitsig terwyl ons eet.

Thursday, December 11

Verste punt Suid

Ek was lanklaas verder op met die kus, so die volgende rit was spesiaal vir my en natuurlik om die besoekers nog 'n bietjie Kaap te wys. Die weer speel so mooi saam. Mens raak darem net nie moeg om so deur al die berge en plase te ry nie want elke liewe prentjie is op sy eie unieke manier mooi. Met 'n regte "teepot" (Charmaine) saam met ons, moet ons stop en terwyl ons soek vir 'n restaurant ry ons amper die plekke mis. Die lieflikste tuine, mooiste geskenkwinkel en mooiste toilette :-). Aan die begin is die kinders nie regtig geinteresseerd in ma met haar kamera nie. Nelmari gooi my 'n "ignore" en die seuns, wel hulle kuier met hulle meisies. Miskien vertel hulle vir hul hoe mooi die plekkie in Bredasdorp is. Maar alles verdwyn toe ons Kaap Agulhas binne ry. Hier is Nelmari en Elriza onmiddellik ooppad na die verste punt Suid van Afrika. Alhoewel ons baie hoor en "sien" dat die Indiese en Atlantiese Oseaan by Kaappunt bymekaar kom, vertel die "Hydrographic Organisation" dat hulle met berekeninge uitgewerk het dat dit eindelik 170 km verder by Kaap Agulhas gebeur. William reg om te probeer 'n voet in elke oseaan te he. Die Portugese vloot wat destyds gereeld verby die punt gevaar het, het dit L'Agulhas genoem wat "Cape of Needles" beteken. Die rede vir die onewe rotse langs die kus met hulle punte. Hier staan Charmaine en Elriza op een van die naalde. Nelmari sit ook haar voete vir die eerste keer op hierdie punt. Bekend as die kus met van die meeste skeepswrakke, kan mens dit eintlik nie glo nie .... dis so mooi! Die drie by die "monument" wat aandui die twee oseane kom hier bymekaar. Ek onthou 'n prentjie in my kop van twee seuntjies baie jare terug op 'n lekker winderige dag wat mekaar moes vashou vir so 'n foto. Hulle wou dit nie vandag doen nie .... miskien omdat die wind nie gewaai het nie. Hierdie deel is baie ongerep en daar is geen huise naby nie, wat wonderlik is. Die gebied is dan ook 'n bewarings gebied vir skilpaaie wat ons glad nie kon sien nie. Elriza het hard gesoek, maar gelukkig kon ons haar later op Onrus enetjie wys. Van daar is ons na die lugtoring wat die kus moet veilig hou in donker en stormweer. Hierdie lighuis se eerste steen is in 1848 gele en op 1 Maart 1849 vir die eerste keer gebruik. Hulle se destyds was die ligkrag 4500 "candlepower" en in 1936 word dit verhoog na 75 000 000 "candlepower". Nelmari staan by 'n gedeelte van 'n twin figurehead moontlik van die Franse skip "Marie Elise" wat op 6 Nov 1877 gesink het. In 1994 word die lugtoring as 'n museum verklaar en die kinders besluit om te gaan foto's neem van bo af. Dit lyk te steil vir ons junior seniorburgers en ons drink liewers 'n koeldrankie. Hier kan julle die suidste punt mooi sien. Lekker ongerep en 'n lekker gevoel om te weet dat omdat dit ook 'n natuurreservaat is, sal die mense nie hier kan bou nie. Nelmari en William kan nog glimlag al staan hulle bo in die lekker wind. Dit was so 'n lekker uitstappie maar nog is die dag nie klaar nie, ons moet nog na die volgende dorp toe, maar daaroor later.
Nota aan die Sloans - Ek maak al die blaadjies van die plekke vir julle bymekaar dat julle ook kan gaan kyk :-)